Die skeidslyn tussen satire en draakstekery (send-up) is yldun, soos Pieter-Dirk Uys duidelik wys met The Merry Wives of Zuma, nou uitgegee deur Peninsula in samewerking met Junkets Publishers.
PDU se MacBeki was ’n skreeusnaakse sukses net voor Polokwane, maar borge sien blykbaar nie kans vir hierdie Zuma-rip-off net voor Mangaung nie.
Maar niks verhoed PDU-aanhangers om ’n plesierige doen-dit-self-produksie voor die spieël te doen met hierdie teks nie. Dis amper soos om “Nessun dorma” onder die stort te sing. Hier kan jy, of jy ’n aspirantakteur of ’n slegs ’n closet-akteur is, die volle rolverdeling – al sewentien stuks – self uitspeel. Dis yslike pret, want jy kry die gamma van Suid-Afrikaanse tipes om na hartelus te vertolk. Ek het self geëksperimenteer met al sewentien rolle en uitstekend gevaar.
Uys beskryf sy teks as “a comedy about the state of a nation”; dis in wese ’n 2012-weergawe van Shakespeare se The Merry Wives of Windsor in die Nuwe Suid-Afrika. Die leser kan ekstra plesier kry deur “Soek die oorspronklike Shakespeare-karakter” soos in ’n skattejag te speel (natuurlik moet jy jou Shakespeare byderhand hou, Willemien!). So herken jy Dr Dr Dr Gedley (vang die leser die veelvuldige eredoktorsgrade?) as die ewig ploeterende sir John Falstaff. Ds Cruywagen, skynheilige ou drommel, is Sir Hugh Evans; slinkse tussenganger Nurse Mina Snell is Mrs Quickly; en so op die ry af word Shakespeare pure Pieter-Dirk Uys met Patels, Rosenbergs, ’n regter Slophe, ’n kommunistieze Blunt (hy sê, onweerstaanbaar, “My blade is blunt”), en kry jy selfs ’n Yengi, voormalige kortstondige tronkvoël met ’n voorliefde vir drank, karre en die goeie lewe.
My gunstelinge is Fenella Rosenberg, die weergalose kugel, en Indira Patel, die breyani bitch.
The Merry Wives of Zuma speel af in Zuma, wat voorheen Verwoerdville was. Gedley is die burgemeester op soek na meer stemme en meer vroue (hy het reeds drie). Hy skryf dieselfde liefdesbrief aan Indira Patel en Fenella Rosenberg, onderskeidelik die vrou van Patel wat, haha, shabir shaikilitis het en op parool is, en Rosenberg, wat die veelvuldige Dr Gedley se regsverteenwoordiger is. Die kugel en die breyani bitch besluit om die vryerige, vrypostige en idiotiese Dr G te ontbloot. Vandaar is dit Shakespeare/PDU op ’n draf tot selfs die herhaling van die Gedley/Falstaff-minnebrief met onder andere: “Thine own true knight, by day or night, Or any kind of light, With all his might, For thee to fight.” Indira se kommentaar: “Oh my goodness, has Dr Gedley been drinking more than usual?” Fenella se kommentaar: “The randy old goat.”
Die karakters wip op en af van die verhoog, knoei en word ontknoei; Rosenberg vermom hom om Gedley en sy vrou uit te vang; Patel vergeet hy is op parool weens siekte; Gedley wil hê Yengi moet met Patel se dogter trou; Patel se vrou wil dat die dogter met dr Castro trou, maar die dogter wil met Colin Ferns trou. Dis skerpskerts al die pad, met sleutelwoorde vir die huidige stand van die nasie: Fenella se botox-roetine; herinnering aan knoffel, Afrika-aartappels en beet as ’n nasionale medisyne. Die spies word nie ontsien nie, en na ’n chaotiese begraafplaastoneel waar alles finaal uitrafel, staan Justitia (einste Nurse Mina Snell) alleen op die verhoog.
Wat kan nou meer tipies van Pieter-Dirk Uys wees, as juis so ’n slot?

