(’n geleentheidsgedig vir ’n skoolreünie, 2011)
liewe vriende
ná ses en dertig jaar is ons steeds
in mekaar se geheues ingebed
deel ons steeds kollektief
die grootwordjare in dieselfde
woonbuurte en strate
dit was ‘75
dit was in daardie tyd
en ons was op daardie ouderdom
toe ons pouses giffie met ’n plat klip
en boerse volkspele
ná debatsaande by die skool gespeel het
heilsame garagepartytjies gehou
en heelhuids veilig onder straatligte huis toe gestap het
ons het nie die tyd gekies nie
die tyd het ons gekies
dit was ook in daardie tyd
en ons was op daardie ouderdom
toe ons jeugweerbaarheid
op skool moes hê
paraat moes wees moes marsjeer
en die rooi gevaar moes leer herken
by saalbyeenkomste was daar belangrike sprekers
en praatjies en ons het voorbeeldig
stilgebly van kommunisme geleer
en dat sommige van ons popliedjies
agterstevoorom gespeel
sonde was
op universiteit het ons kennis van die aand
en magersfontein skelm gelees
welma odendaal en breytenbach ontdek
en ’n hele lewe buite die plek
waar ons grootgeword het
op universiteit het ons ons hare
lank laat groei
en met another brick in the wall
op pink floyd gerock
al het ons niks geweet
in ’76 in daardie tyd
van hector pieterson
in vilakazistraat soweto
en die klippe die klippe van twintig duisend skoolkinders
wat ook op daardie ouderdom was nie
het ons nie verstaan van hoe ons taal
in daardie tyd
teen homself ingespan
en vir altyd tot meulsteen gemaak is nie
want ons het nie die tyd gekies nie
die tyd het ons gekies
liewe medereisigers
dit was in daardie tyd
en ons was op daardie ouderdom
toe ons broers en ons vriende se broers
ons verloofdes ons mans
weermag toe moes gaan
leer geweer hanteer en doodmaak het
met flossies weggevlieg het na ’n grens
wat ons nie geken het nie
vir ’n ideologie
wat nie ons s’n was nie
toe sommige van hulle vervreemd en bossies
teruggekeer het sommige
net met die koerant
liewe medeweerloses
dit is in hierdie tyd
en ons is op hierdie ouderdom
dat ons steeds dieselfde lewe deel
in ’n land waarin ons vreemd
en onparaat geword het
waar ons die strate nie meer
aan hul name herken nie
waarin ons onsself ná donker
agter nog ’n muur wegsteek
wat steen vir steen
teen die gevaar gebou word
dit is in hierdie tyd
en op hierdie ouderdom
dat ons weet
dat ons al minder weet
wat die tyd ons nooit sal leer nie
hoe ons nooit weer sal wees nie
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
Kommentaar
Dit raak my só – dankie Susan.