| Die ATKV-Rieldanskompetisiefinaal vind op 6 Desember in die Paarl plaas. Marike Bekker is die vervaardiger van die reeks Ruk en Riel wat op kykNET & Kie uitgesaai word. Sy vertel van haar navorsing omtrent die interessante rieldans. Heel onder is ook 'n insetsel van 'n dokumentêre film wat sy omtrent dié dans gemaak het. |
“Buitestanders” kla die riel lyk deesdae van nasionale belang. Ek hou vol: dit is. Veral vir ’n groot groep Kapenaars. Plaasarbeiders, onmisbaar, maar meestal “onsigbaar”, behalwe as daar gestaak of gemoor word. Nou neem almal kennis van iets wat eintlik net hulle kan goed doen. En hulle doen dit nog altyd – oorgelewer van die voormense.

Die Khoisan het in ’n kring om die vuur gedans om die lewe te eer, om die volmaan te verwelkom, om die jag te vier, om met die spirituele om te gaan. Ou Afrikakulture onderskei dikwels nie tussen dans en lewe nie. Dit is een begrip en dikwels het hulle nie eers ’n afsonderlike woord vir dans nie. Dit maak dit moeilik om die ontstaan van die riel in woorde na te vors. Ons weet van die Nama-sitstap en van die platriel, en ons raai dat die rieldans naam gekry het met die afloer van die “reel dance” van die Skotse sendelinggeselskappe wat in die 1940’s in die Noord-Kaap aangekom het. Die vernuftige voetwerk oor gekruiste swaarde op die grond het in rieldanspassies neerslag gevind. Dit het die dans van die grond af gelig en dit het minder intens en meer vertolkend geword.

Dit het die kuierdans van die werkersklas geword. Plaaslike gemeenskappe het opgedress en Saterdagaande vergader in plekke soos Verneukpan, Soebatsfontein, Ratelgat en Rokoptel om riel te trap op maat van die ramkietjie (blikkitaar) of die trekklavier (pensklavier) tot ligdag toe. Dit was ’n grootmensdans en kinders is uitgesluit. Daar word vertel dat dansers so stuk-stuk afgetrek het deur die aand om langarm te sleep terwyl hulle ’n bietjie rus. Na die blaaskansie is weer ywerig verder geriel. Soms het ’n oue van dae uitgeval en gaan skuins-lê, maar is wakker gemaak om weer in te val tot die rooidag breek.

Die drakoniese dopstelsel van die apartheidsjare het die riel stigmatiseer. Plaasarbeiders is op sommige plase betaal met bekers goedkoop wyn as deel van hulle weeklikse loon. Na ’n harde week se werk was die voggies welkom en dit het soms ’n paar rielpassies ontlok. Gerugte het die ronde begin doen dat plaasboere werkers met drank uitlok om “akkeltjies te trap” vir die vermaak van hulle families en hulle gaste. Dit het plaaslike mense van die riel vervreem en geleerdes het met afsku verwys na die “dronkmansdans van die boerenjongens”. Dalk die rede hoekom daar geen enkele skets, uitbeelding of foto bestaan van ’n rieldanser in aksie uit die ou dae nie. Die eerste persoon wat ek gevra het of hy dalk die riel kan dans, het my vererg toegesnou: “Beslis nie. Lyk ek vir jou soos ’n hotnot?”
Die riel was aan die uitsterf as ’n effens agterlike plaasdans wat nog net agter kookskerms in die verre Noord-Kaap gebeur toe die ATKV in 2007 op ’n kompetisie vir rieldansgroepe besluit. Die skrale moontlikheid om net een keer verder as jou geboortedorpie te kan reis, net een keer die anderkant van die berge om jou te sien, om Fraserburg te besoek vir die uitdunne, om deel te neem in Clanwilliam, om met ’n bussie na die Paarl te reis, in Paarl Gym se koshuis te slaap en voor ’n gehoor op te tree … dit het oud en jonk weer aan die dans gekry.

Jongmense het voorgedans en die pas begin aangee. Dit het ’n manier geword van die “Born Frees” om hulle in ’n nuwe Suid-Afrika uit te leef.
Die dans het verder van die grond afgekom. Daar is hoër getrap. Dit het ’n uitbundige uitdrukking van self geword, ’n vorm van groepsgebondenheid. Met rieldans kon hulle sê: “Dit is wie ek is en waar ek hoort. Kyk na my en neem kennis van my.” Rielliedjies is skielik weer onthou en aangeleer. Die aardse lirieke is sonder skroom gesing. “Al dra ek ’n gelapte broek, ek laat my wel nie vloek.” Of “Die geleende mielies het my maag aan ’ie werk. Ek’s so bang die baas gaan dit merk.” En “Ai, Ta’ Katriena jou honne byt my” en “Ek”s dikgelap maar skoon” en “Die kli’meid maak ’n plan dat ek na haar huis toe gaan.”
Gehore kon nie genoeg kry nie. Waar rielgroepe met name soos Graskoue Trappers van Wupperthal, die Korbeeldansers van Calvinia, die Rooirotsdansers van Clanwilliam en die Ratelgat Rielgroep optree, het hulle gehore op die voete gehad. Die riel het veel belangriker geword as net as om te oefen vir die jaarlikse kompetisie by die Afrikaanse Taalmonument. Jongmense het die pas aangegee.
- In Fraserburg is rieldans gebruik as ’n kinderwelsynprojek. Kinders verbeeld hulle leefwêreld in rielpassies en dit word ooglopend hoe dit by die huis gaan.
- In Carnarvon vra ’n skoolhoof of iemand kan riel en vind uit die helfte van die leerders is ywerige rieldansers.
- In Calvinia speel ’n plaaslike verkeerspolisieman rielmusiek in die ouetehuis en die oues van dae kom gereeld oefening doen.
- In Elisabethfontein verlaat rieldansers nou die skool eers na matriek om so lank moontlik deel van die rielspanne te bly. As ouers kla die kinders is stout by die huis, word hulle uit die rielspan weggelaat tot hulle onderneem om voorbeeldig te wees.
- In Bushman’s Kloof beleef leerders vir die eerste keer rotskuns en besluit om die diere in hulle rielpassies uit te beeld.
- In die Boland vra ouers dat daar ook ’n Wynland-rielspan op die been gebring word – hulle kinders wil ook behoorlik leer stoftrap!
Oral praat jongmense met trots van “die dans van ons voorouers, die Boesmans”.
Soos van ouds bring riel weer gemeenskappe bymekaar. Ouers en kinders het iets om saam te doen oor naweke, iets gemeenskapliks om oor te praat. Kinders verwonder hulle aan die grootmense se vernuftigheid as dit kom by die vergete platriel, en ouers is oneindig trots op hulle kinders wat hulle voormense se dans weer laat herleef in nuwerwetse rielpassies.
En plaasboere staan bankvas agter die riel. Gee soms tyd af en stel vervoer beskikbaar om dansers by die oefeninge uit te kry, plaasvrouens te help afrig en kostuums vir optredes te maak.
Daar is rieldanse in die Kunstekaap, by Sun City en by die Kaapse Karnaval. Dit word selfs deel van funksies en Krismiskonserte. Ook wit mense is mal oor die riel en hier en daar probeer een ook ’n paar akkeltjiestrap!

Ek het toevallig op die riel verlief geraak met die verfilming van ’n 50/50-program vir die SABC oor die paleo-oppervlak op Gansfontein, net buite Fraserburg. Dertig miljoen jaar voor die dinosourusse het oerdiere spore agtergelaat wat weer in ons tyd ontbloot is. Nie veel kan gedoen word om die kosbare oppervlak te beskerm teen die verweer van tyd nie en die spore en fossiele is vinnig aan die verdwyn. “Moenie worry nie, Tannie,” het ’n oulik rieldansdogterjie my getroos. “Ons gaan die Ou Diere in ons passies uitbeeld en dan sal hulle sal vir ewig lewe.”
Ek was oombliklik ’n riel-entoesias.
Ek het agt episodes vir kykNET vervaardig wat tans op kanaal 145 uitsaai. Die reeks se lokstuk:
’n Eeue oue dansvorm herleef as jongmense die riel eien as ’n eie trotse kultuurerfenisskat. Vir die heel eerste keer op televisie bied kykNET & kie aan ’n reeks oor die unieke rieldans van die Noord-Kaap. Ons sien wat dit vir landelike gemeenskappe beteken om weer te Ruk&Riel van Ceres tot Wupperthal. Kyk gerus vanaf 5 November, 9-uur die aand na Ruk&Riel – en wees gewaarsku ... jy sal nie kan wegkyk nie!
Engelse opsomming:
As summer rains transform the arid Northern Cape in a spectacular burst of colour, so the revival of an ancient Bushman dance is breathing new life into its people, heralding new beginnings. Not long ago, the riel was considered a dying tradition of the impoverished working class, but it has made a comeback, bringing isolated communities together in song and dance. It also became a means of social upliftment, mobilising young and old, creating social cohesion and respect for indigenous cultures, even in the midst of hardship. And the public … loves it.

Episodes
1. Carnavon & Calvinia – Die riel staan op.
Die stof staan hoog in die verre Noord-Kaap as oud en jonk weer ruk en riel vir ’n plek in die ATKV se jaarlikse rieldanskompetisie.
2. Loeriesfontein – Riel is in ons siel.
Dieregedrag uit die Groot Karoo word uitgedruk in rielpassies as die Loeriesfontein Bitterbessie Dansers hulle ding doen by Loeriesfontein se wêreldberoemde windpompmuseum.
3. Merweville – Riel is bo-uit!
In die Noord-Kaap is daar deesdae ook wit voetjies wat saam probeer stoftrap wyl meer en meer jongmense ontdek dat hulle, soos hulle voorouers, ook riel in die siel het.
4. Wupperthal – Riel is hiervandaan.
Op buiteposte soos Menskraal, Grasvlei en Suurrig ? in die klowe van die Cederberge versamel Wupperthal se rielgroepe om die eeue ou tradisie van hulle voormense in ere te herstel … en deesdae leer grootmense ’n paar trappe by hulle kinders.
5. Elizabethfontein – Riel hou ons op skool.
Riel is een van die gewildste tydverdrywe na skool – en hoe ook dan anders? Die Betjies van Betjiesfontein tree op van Sun City en Artscape tot in Engeland tot groot genot van toeskouers van oraloor.
6. Fraserburg – Kindersorg.
Rieldans word ingespan as ’n projek van kinderwelsyn – met groot sukses vir die landelike mense, omdat die hele gemeenskap saamspan rondom die rieldans.
7. Die Wynlande – Boland-riel.
Rieldans is lank nie meer die uitsluitlike dans in die verre Noord-Kaap nie; deesdae staan daar ook stofwolke in die wynlande van die Boland en die jongmense gee die pas aan, tot die trots van hulle ouers.
8. Paarlberg – ATKV Rieldanskompetisie.
Een maal ’n jaar elke Desember word al die passie en harde werk beloon as al wat ’n rieldanser en rielbelangstellende saamtrek by die Afrikaanse
Taalmonument vir die jaarlikse Rieldanskompetisie, die vlam wat die herlewing van rieldans aanblaas.

