Dit reën op Rietfontein!
2006

  • 0

'n Beskouing oor Eugène Marais se Versamelde Werke, The Soul of the White Ant, The Soul of the Ape en Dwaalstories

I

Hierdie gesamentlike heruitgawe van Eugène Marais se tweedelige Versamelde Werke, geredigeer en versorg deur sy bekendste biograaf, Leon Rousseau, en drie ander klassieke (Dwaalstories, The Soul of the White Ant en The Soul of the Ape) is maar die jongste oplewing van belangstelling in hierdie skrywer se lewe en werk. Dit is 'n Marais-seisoen en hierdie publikasies volg kort op die hakke van, onder andere, 'n afsonderlike uitgawe van Marais se Die Volledige Versamelde Gedigte[1] en 'n heruitgawe van Rousseau se klassieke biografie, Die Groot Verlange, oorspronklik gepubliseer in 1974[2].

Sy gekanoniseerde rol as een van die "vaders" van die Afrikaanse letterkunde (die gedig "Winternag", nou 'n honderd jaar oud en een van die redes vir die herpublikasies, is aan menige generasies Afrikaanse leerders voorgehou as die "eerste" Afrikaanse gedig, terwyl Dwaalstories 'n vroeë bliksemstraal was wat eers in die 1950's en veral 1960's gevolg sou word deur 'n storm in die Afrikaanse prosa) is egter maar een van die redes vir die periodieke oplewing van belangstelling in Eugène Marais. Om die waarheid te sê, belangstelling in - en eintlik is dit eerder 'n fassinasie met - Marais setel veel eerder in sy persoon as in sy werk as skrywer.

Nie dat dit 'n mens hoef te verbaas nie. Eugène Marais se lewensverhaal is veel interessanter en sy persoonlikheid veel meer kompleks, tragies en enigmaties as wat sy werk, en die werk van die meeste ander skrywers, ooit kan hoop om te wees. Mense het natuurlik verskillende redes vir waarom hulle Marais so fassinerend vind. Vir 'n Afrikaanse skoolseun, soos ek was toe Marais se priemende blik uit 'n dowwe foto'tjie in die Senior Verseboek my die eerste keer probeer hipnotiseer het, was die stories van sy dwelmmisbruik, saam met Breyten Breytenbach se tronkstraf, miskien die enigste tekens van lewe, die enigste "cool" elemente, in wat 'n andersins dodelik vervelige inleiding tot die Afrikaanse letterkunde was.

Vir ander, soos Athol Fugard, Reza de Wet en Anton Goosen[3], is Marais 'n skynbaar onuitputbare literêre onderwerp, 'n lewensverhaal wat tydloos praat oor die menslike kondisie, oor ons afsonderinge en verlangens, ons geworteldheid aan die aarde en in Afrika en ons moeilik verklaarbare verbondenheid aan die transendente en die spirituele. 'n Historikus soos Sandra Swart, weer, se fassinasie met Marais lê by die manier waarop hy as 'n Afrikanerheld gekonstrueer is, in terme waarvan sy dan die oorspronge, ontwikkeling en distorsies van die Afrikanernasionalisme kan lees, om sodoende 'n kultuurhistoriese en politieke eerder as 'n geïndividualiseerde interpretasie van Marais as "groot figuur" te lewer[4].

En dit is maar net in Suid-Afrika. Fassinasie met Marais, ten spyte daarvan dat sy vernaamste roem as Afrikaanse literêre figuur is, ken klaarblyklik nie die grense van taal en nasionaliteit nie. Die populêre wetenskapskrywer Robert Ardrey het Marais in sy African Genesis geloof as nie net 'n miskende genie nie, maar as die werklike vader van die wetenskap van die etologie[5] - wat van Marais seker een van die weinig twintigste-eeuse figure maak wat sentraal staan in die oorsprongsmites van 'n letterkunde én 'n wetenskap! Meer onlangs was die Belgiese natuurwetenskaplike en skrywer David van Reybrouck gefassineerd genoeg deur Marais se wetenskaplike werk en die beweerde plagiaat van sy skrywes oor termiete deur die Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck dat hy 'n uitgebreide ondersoek geloods het en 'n uitstekende boek oor die aangeleentheid geskryf het6. Van Reybrouck het onlangs ook 'n toneelstuk oor Marais in Nederlands geskryf, en dus kan 'n mens, soos in die geval van Ingrid Jonker, toenemend Nederlandse belangstelling in Marais verwag.

II

Maar genoeg oor ander se fassinasie met die figuur Eugène Marais. Met die heruitgawe van sy Versamelde Werke en ander individuele titels is dit as skrywer dat Marais onder ons aandag kom, en as skrywer dat ons hom moet benader. Die feit dat iemand as die "vader" van 'n letterkunde of 'n wetenskap gereken word, beteken nie dat so 'n persoon vandag nog 'n relevante en leesbare skrywer is vir diegene wat nie histories of vakkundig met die literêre of wetenskaplike tradisie omgaan nie - gewone lesers, met ander woorde. In watter mate, dus, regverdig die kultus van persoonlikheid rondom Marais die heruitgawes van sy werk vir die breë publiek, en is daar nog rede vir die moderne leser van fiksie en niefiksie (want hierdie uitgawes omvat nie net Marais se kortverhale en gedigte nie, maar ook sy wetenskaplike en joernalistieke geskrifte) om hierdie volumes aan te skaf en te lees?

Die tweedelige Versamelde Werke hoort op enige ernstige leser se boekrak. Marais se rustelose, veelkantige en wydlopende intellek verskaf ure se vermaak, en dikwels nog baie insig in allerlei onderwerpe. In 'n tydperk van kenniswerkers eerder as intellektuele, en waar kennisgenerering die vorm aanneem van óf spesialisasie óf bloot utilitêre kontraknavorsing, is die mengelmoes van belangstellings, onderwerpe en style wat Marais verteenwoordig, 'n werklike fees vir die leser. Sy onderwerpe strek van die sielkunde tot die uitwerking van slanggif; van hipnose tot die Egiptologie; van drome tot Boesmanklippe; van Modjaje tot die Mormone in Suid-Afrika - en vele, vele meer. Soos die meeste lesers sal weet en ook duidelik uit sy tekste blyk, was Marais ook nie bloot 'n onderhoudende wetenskapsjoernalis nie (is hy dalk ook die "vader" van hierdie genre in Afrikaans?), maar is baie van sy verslae gegrond op sy eie "navorsing". Sommige hiervan is klein, terloopse eksperimentjies, maar hy het natuurlik ook meer uitgebreide studies onderneem en het redelik hoë wetenskaplike aspirasies gehad.

Die twee Engelse boeke, The Soul of the Ape en The Soul of the White Ant, verteenwoordig dan ook die hoogtepunte van sy meer ambisieuse wetenskaplike werk. Wat die wetenskaplike meriete van hierdie werke vandag ook mag wees, dit bly twee fassinerende en meevoerende boeke. Dit het sekerlik steeds die vermoë om mense se belangstellings aan te vuur en vang die noodsaaklike mengsel van nuuskierigheid, passie en intellek waarmee goeie wetenskap bedryf word, waarskynlik beter vas as menige skool- of voorgraadse handboek. The Soul of the Ape is as Engelse teks net so in die Versamelde Werke ook opgeneem, terwyl The Soul of the White Ant in die oorspronklike Afrikaanse weergawe, Die Siel van die Mier, opgeneem is. As jy die Versamelde Werke koop, het jy dus hierdie twee boeke ook, maar hulle is sulke mooi en interessante boeke dat dit goed is dat hulle ook afsonderlik heruitgegee is. Vir lesers wat meer in Marais se wetenskaplike as in sy literêre werk geïnteresseerd is, maak dit dan ook sin om hierdie twee boeke afsonderlik te koop.

Marais is nie 'n onberispelike skrywer nie en heelwat van veral sy kortverhale is vir my uitgesponne en vervelig, terwyl nie al die gedigte vandag nog oortuig nie. Naas enkele gedigte, soos "Winternag", "Skoppensboer" en "Die Dans van die Reën", is die hoogtepunt van sy literêre oeuvre natuurlik die Boesmanverhale, Dwaalstories. NP van Wyk Louw het in die vroeë 1960's na hierdie verhale as van die grootste prosa in Afrikaans verwys, en ten spyte van 'n verdere halfeeu se prosahoogtepunte en huidige debatte oor die appropriasie van inheemse kultuurgoed en plagiaat, sal ek steeds nie van hom verskil nie. Dwaalstories bly, al is dit al 'n geykte uitdrukking met betrekking tot hierdie verhale, bekoorlik. Hulle is opgeneem in die Versamelde Werke, maar ook afsonderlik heruitgegee in 'n pragtige, hardeband-kopie met die oorspronklike sketse van Katrine Harries. Dit is werklik 'n lieflike boekie en behoort sonder skroom vir verjaardae, Kersfees en sommernet gekoop te word.

III

Een van die stukke wat ek tydens die voorbereiding vir hierdie resensie die eerste keer onder oë gekry het, was "Die Lokasie", op p 316 van die eerste band van die Versamelde Werke[7]. Iets van die kompleksiteit en teenstrydigheid van Marais as 'n skrywer en intellektueel kom mooi in hierdie interessante kort artikel na vore; iets van die manier waarop hy sy tyd en plek vooruit was, maar tog ook ingeperk en gekenmerk was deur die stommiteite en vooroordele van die wêreld waarin hy geleef het.

Marais vertel sy lesers van 'n besoek aan 'n "lokasie" naby Pretoria, begelei deur Harry, "die seun van 'n swart vrou en 'n Engelsman" (p 317). Volgens Marais kan hy nie onthou wanneer laas hy so 'n lekker ondervinding gehad het nie, en sy beskrywings van die mengelmoes van mense, kulture en kleure is by tye so uitbundig dat dit enige postkoloniale aanhanger van idees oor hibriditeit en kulturele vermenging en veelvuldigheid se mond sal laat water. Daar is dan ook iets verrassends, selfs indrukwekkend, daaraan om hierdie Afrikanerikoon so gemaklik, so nuuskierig en meelewend in die hart van 'n vroeë twintigste-eeuse "township" aan te tref.

En tog, ten spyte van die gemeensaamheid en kulturele vitaliteit wat hy waarneem en vrygewig op kommentaar lewer; en ten spyte van sy, vir hom verrassende, ontdekking dat die lingua franca van die mense Afrikaans is, staan die hele stuk ook met een voet in die diskoers van die gevare van "ondertrouery" en die gevolglike morele paniek oor die verlies aan "suiwerheid" en "degenerering" wat so 'n belangrike komponent van die apartheidsideologie was. Marais sien in hierdie gebied, so tussen sy vreugde en fassinasie deur, "die wier uit al die sewe seë van die aarde saamgespoel" (p 318) en dit stem hom tot somberheid oor die implikasies van hierdie verskynsel van vermenging vir die Afrikaners van die toekoms.

Maar wat Marais laat wanhoop het, het dalk die vermoë om ander vandag te laat hoop. Dis Marais-seisoen, en dit reën op Rietfontein; daar is, wil ek seker maar net sê, vandag nog baie redes om Eugène Marais te lees.

 

Notas

[1] Marais se Die Volledige Versamelde Gedigte is in 2005 deur Protea Boekhuis uitgegee.
[2] Leon Rousseau, Die Groot Verlange, Protea Boekhuis, 2005. Hierdie boek het oorspronklik, in 1974, by Human en Rousseau verskyn.
[3] Athol Fugard het in 1977 'n draaiboek geskryf oor 'n episode uit Marais se lewe, The Guest, terwyl Reza de Wet in 2005 'n toneelstuk, Verleiding, oor Marais geskryf het. Anton Goosen se lied "Die Siel van Eugène Marais", verskyn op sy 1986-langspeler, City/Stad.
[4] Sandra Swart het 'n doktorale proefskrif en 'n aantal akademiese artikels oor Eugène Marais as Afrikanerheld geskryf.
[5] Robert Ardrey, African Genesis, Collins, 1961.
[6] David van Reybrouck, Die Plaag (uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo), Protea Boekhuis, 2003.
[7] Hierdie artikel verskyn in Die Vaderland van 19 Augustus 1933. Leon Rousseau voer in sy redaksionele notas oor hierdie stuk op p 1260 in die tweede band van die Versamelde Werke aan dat die "rassistiese" aksente dalk deur 'n redakteur of sub ingevoeg is en nie deur Marais self geskryf is nie. Ek self vind dit egter heeltemal geloofwaardig, selfs meer interessant, om te aanvaar dat Marais 'n teenstrydige opinie oor die "lokasie" gehad het, of dat hy, toe hy later oor sy ervaring reflekteer en dit neerpen as 'n koerantartikel vir 'n Afrikaanse gehoor, in terme van die Afrikanerdiskoerse van sy tyd daaroor sou oordeel.

Eerste publikasie op LitNet: 16 Mei 2006

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top