vir Erica
dit is so eenvoudig
daar was ’n donker ram
op die einder
daar was ’n veer gegooi in ’n bedelaar se hoed
en ’n lang sigaret
en die tyd sal leer
daar was lughawens
en die een oog wat gedurig
spring in die bors
daar was vreemde kamers
en die skadu’s sonder vel op die balkon
(die tafel sonder mot of kers)
daar was heilige grond
en al wat later vergewe sou word
is die skerwe tussen die grafte
daar was die kort ry spore
en ’n vroeë sneeu wat die duiwe voer
sonder enige hoop
daar was die uittog wes
en die trein ’n nag lank verstuit in die ys
en die maan wat brommend kruip voor die netels
daar was die swaels se vlag bo die gragte
en ’n kind wat nooit die see sal sien nie
se blou vlieër op die wind
daar was geen rewolusie nie
maar daar was rykes
en daar was slawe
en die goeie tou wat saam met die vullis uitgesit is
daar was waansin
en ’n ou man se pyn in die bome
waar die reis sou eindig en die swerwe begin
daar was troetelvloeke, snelweë
en leuens
leuens
leuens
en as ek jou kon ken
sou die skerp tong van te veel heuwels vermy kon gewees het
en die groen wang van die verbande hart
(Londen, 24/10/04)

