Dit begin by die huis

  • 1

Ons hoor dikwels oor die radio, wanneer daar gepraat word oor dissipline by kinders, dat die een inbeller na die ander met groot gesag verklaar dat dissipline by die huis begin; die ouers moet die kinders dissipline leer.

Nou, of dit nou so is of nie, geld dit beslis vir taal; die kind leer taal aan moedersknie soos die ou oerwoudgesegde lui. As die moeder nou werk dan is Engels natuurlik die taal wat sy daagliks by die werk gebruik – dis mos nou kamtig die saketaal van al wat instansie, entiteit of organisasie is – en saans, wanneer sy en manlief, wat ook heeldag Engels praat, gesels terwyl die kind aandagtig daar by moedersknie die taal aan't lere is, kan hy nie anders as om geradbraakte taal te leer nie want 50% van ma en pa se woorde is Engels.

En dit is so: Vandag luister ek weer so na Praat Saam en twee van die gaste se Afrikaans is pateties. Die een sê hulle " ... het 'n boek met al die explanations vir dit ..." in plaas van "... al die verduidelikings daarvoor ...". Heeltyd praat hulle van 'n program wat hulle "lanseer". Jy lanseer 'n vuurpyl maar 'n program stel jy in werking, of jy stel hom bekend. Op 'n kol sê die een " ... as jy glo jy maak 'n difference dan doen jy dit.." Ek is seker hy't bedoel dat, as jy glo dat jy 'n verskil maak, dan maak jy wel 'n verskil; die '...dan doen jy dit...' dui eintlik op iets anders wat miskien vooraf bespreek is soos lieg, of huigel of spring of sing of so-iets.

Mense praat al hoe swakker Afrikaans omdat hulle glo hulle moet Engels praat by die werk, by Sanpark se oorde en by die belastinggaarder, oral. Dit is tyd dat hulle hul op die grondwet beroep.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Dag Jan,

    Ek glo duisende voel dieselfde, maar die feit is dat alles wat die Afrikaner gehad het is weggegee deur De Klerk.

    Dit gaan nooit weer terugkom nie. Maak vrede daarmee. 

    Duitswester

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top