Die afgelope naweek het ’n vriend vir ’n kulturele braaihoender en groente by ons kom aansit. Ons mense probeer tog deesdae om meer gereeld die gesondheidstrein se stasies te besoek en om die verleiding van wegneemetes en hul aanverwante onhebbelike eetgoed, te vermy. Ons gelese vriend merk toe juis op hoe duur die mees algemene van die oorspronklike vinnige kafee-etes geword het: “Vis en tjips kos nou al R55.”
In die dae toe die aarde nog groot en die buiteland ver was; toe die predikers nog swart togas en wit dasse gedra het en die omtrek van my middel 20cm nouer was, in daardie dae, het ons maters die winterwaters van Bloubergstrand met natpakke en veselglasplanke aangedurf. Die beste “waves” is in die winter, almal weet dit tog.
So onthou ek egter min van die branders en die ryery en dies meer; ek onthou eerder die syvertonings. Die warm varsgebakte pasteie in die gietende koue Kaapse reën by die bakkery halfpad op pad terug huis toe; daai dae toe die Kaap vir 4-5-dae aaneen die seën van grys reën ontvang het en Griekse omies agter kasregisters gewerk het en Portugese burgers viswinkels gehad het. Ek onthou juis die slaptjips.
Ek onthou hoe ek en vriend Ivan ’n slag of wat terwyl ons vir die stormsee van die Kaap gesit en kyk het, ’n pak sout en asyn deurtrekte slaptjips verslind het. Die borde veilig, koud en nat agter in die Nissan 1400 se bak.
Ek proe nou weer die lang sagte asyn-aartappelskyfies ... en my tong drup.
Ons het nie veel uiteetplekke geken toe ek ’n jong kind was nie. Die een of twee gesinsrestourante wat in die laat sewentigs en begin tagtigs hul Amerikaanse “cowboy” deure oopgeswaai het, was iets vreemd; veral gemeet aan die paar keer per jaar wat ons gesin saam met familie by die een of ander hotel se Sondagbuffet gaan uiteet het.
Die res van die jaar het ons het wel soms kafeekos gekry, veral vis en tjips. Of dit is wat ek onthou ...
Die viswinkel, stokvis en skyfies is ’n verweerde deel van my lewe en heel waarskynlik deel van ieder-elk van ons volk se bestaan. Daar is nie ’n dorp wat ek aan kan dink, waar ek nog nie ’n viswinkel met ’n nasaat van Vasco da Gama in ’n skootvoort ͣ tussen die kasregister, vertoonkas en die vlekvrye staalbraaiers sien staan het nie. Tot hierdie dag, is die vis en tjips ete steeds ’n deel van ons huishouding.
Teen die muur, langs brandewyn se beste vriend se yskas, sit ’n foto van ’n middeljarige man met donker gelaatstrekke. Bo en onder sy foto, teen ’n seeblou-agtergrond, is die woorde geskilder ... “in loving memory”.
Voor hierdie muur van herinnering staan die oorlede eienaar se vrou. ’n Kort, vaal tannie met ’n blommetjiesrok, plastiek I & J skootvoort en ’n haarnet om haar gryshare uit die mense se vispakkies uit te hou.
Sy lyk moeg. Daar’s swart kringe wat die sakkies onder haar oë opwel en die hartseer in haar donkerbruin oë, seermaak om na te kyk. Sy rus haar kop op haar hand, met haar elmboog skuins teen die bokant van die kasregister, terwyl sy vir die volgende bestelling wag. Sy kyk vir ons, ’n paar na-werk hongeres, wat duskant die glasvertoonkas met die pienkspikkelvisse en afkop geelsterte, snoek en -kuite en kerrievis op wit plastiek stoeltjies op ons sout en asyn plesier sit en wag. Maar, dit lyk nie of sy ons werklik raaksien nie. Sy kyk verby ons, deur die winkelvenster met die visprentjies op, moontlik na daar waar haar man se bakkie saans gestaan het ...
Die vier dames wat die vis bak en pakkies opmaak lyk heel vrolik in hul blou Helena’s oorjasse en wit haarnette. Dit gesels en giggel en bak vis en tjips en calamari dat die dampe staan. Tussen hulle wikkel en bring ’n jonger weergawe van Bartolomeu Dias die vars vis en rou aartappelskyfies vir die olie wat roep. Hy lyk gelukkig en sy oë glimlag stuitig wanneer hy die een meisie, die mooiste van hulle, sag om haar middel druk op sy pad terug na die vars snoek toe.
Haar bloos en sy vinnige kyk of iemand gesien het, volg mekaar soos beskuit en koffie.
Nog koskopers daag op. Twee vrouens en ’n man; twee met ’n seuntjie elk en die ander met ’n dogtertjie. “Middel tot laat dertigs” skat ek hulle. Ietwat onversorgde hare en al drie met gesigsuitdrukkings wat ’n kort-af storie kan vertel. Hulle lyk lusverlore en reg om hierdie dag toe te maak, om ’n glas wyn te skink, die kind te versorg en dan te ontspan met nog een. Hul ringvingers is leeg; hulle is sonder goud of silwer verbind.
Die snoek neem ’n bietjie langer vanaand. Die mooi meisie in die blou jas wys “nog 5 minute” en ek wys “duim-op” terug. Die gewag is eintlik nie sleg nie.
Ek sien weer hoe mense lyk.
Hoe onvriendelik sommige senior burgers teenoor okkerneutkleurige meisies in blou jassies is; hoe hoflik Britse burgers met ons mense is en hoe ander skouperde eenvoudig nie kan of wíl lees nie.
Op die toonbank én teen die muur in groot leesbare letters staan duidelik geskrywe, “NO CARD FACILITIES, THANK YOU”, maar tog, is daar die siende blinde enkeling wat sy platinum kaart met grasie uithaal en smaakvol aanbied ...
Regtig my ou.
Ek is bly dat ek gisteraand viswinkel toe gegaan het; dat ons stuk snoek langer as gewoonlik geneem het en alhoewel sy amper soos ’n Sewende Laan-ster op ’n afstand aan ons dorp se inwoners bekend is, ek haar kon sien.
Want daar op die wit plastiek stoeltjie het die woorde van koning Lemuel van Massa se moeder weer tydlose waarde gewys: “Sy pak die werk aan met krag, haar hande staan vir niks verkeerd nie. Sy stel vas of die wins goed is, haar lamp bly heelnag brand.”
En as ek mag ...“selfs in die alleenheid van verdriet”.
***
ͣVriend Danvan noem sy voorskoot ’n skootvoort – dit het goediglik bly vassteek.
(O ja, die vis en tjips by Helena’s is tans R44)


Kommentaar
Ek wag wragtig nie so lank vir snoek nie, hou nie daarvan nie. Nie oor die vis nie, maar oor die grate. Die vis self kan nogal lekker wees, maar dis vir my 'n onbegonne taak om tussendeur die grate klein stukkies vleis uit te grawe. Ek eet eintlik maar net stokvis (hake) uit die wegneemplekke, dis al wat hulle aanbied benewens snoek. Ek het rondom 1980 vir agtien maande in Kaapstad gewoon en baie rondgery om die wêreld te bekyk. Daar ry ek toe eendag verby 'n bakkie wat daar staan, vol snoek gelaai. Ek draai terug en koop een, 'n knewel. By die huis het ek hom bekyk om gaar te maak, toe sien ek daar staan so 'n dun veseldraadjie regop. En dit beweeg effens! Die snoek was dood, so dit kon net 'n soort wurm wees, ek het al gehoor snoek het soms wurms. Reguit vullisblik toe, die hele snoek!
Varkspek