Dis stemtyd: Julio Agrella skryf ʼn sakvol politieke limerieke

  • 0

Askies, jammer maar hier’s ek weer
Na meer as honderd kon ek sweer
  Ek is klaar gerym
  Niks oor in my kleim
Maar politici se snaaks moet mens vereer

ANC

Andile was net bloot naïef
“ʼn Ramaphosa is geen dief
  Bosasa wou gee
  Ek sê moeilik nee
Stem steeds vir Pappie hy is kief”

 

Duduzana in die hof oor sy ongeluk
Wou nog die Porsche se stuurwiel pluk
  Die taxi spring voor hom in
  Hulle ry mos so sonder sin
Hy: Onskuldig deur die impak vasgedruk

 

 

 

En as ESKOM net wou luister
Was ons beslis nie in die duister 
  Zuma het tog gesê
 Hy wil kernkrag hê
Maar almal wou net koste fluister

 

En volgens minister Blade is dit bloed
Wat die alkohol dwing tot spoed
  Maar hulle sal almal vang
  Maak al wat vampier is bang
Beduie Nzimande met ywerige gloed

 

Sars se nuwe baas, ene Kieswetter
Sal als herstel volgens die gekwetter
  Almal sal nou kak en betaal
  Anders kom Edward jou haal
In sy hande gaan jy les opsê, jou wetter

 

Daar gooi SANRAL handdoek in
Hulle het lank en wyslik besin
  Om nou te prosedeer
  Maak by die stembus seer
Ná 8 Mei sal hulle weer begin

 

Jesse sê bekommerd oor Luthuli-huis
Seksuele vergryping is heeltemal tuis
  Nie net mans stook
  Sommer die vrouens ook
Met soveel mag bly net die sterkstes kuis

 

Soos dit graag-reisende politici betaam
Moes hulle self gaan kyk voor hul kon beaam
  Venezuela vaar goed
  Hulle voorbeeld gee moed
Amerika behoort hulle vir fopnuus te skaam

 

Ten minste het SA meer gereeld lig
Oor die ander probleme is die ANC dig
  Chavez en Maduro is groot
  Al roep hul volk kort-kort vir brood
Sosialisme is die antwoord het hul berig

 

Die etiese komitee sal finaal besluit
Wie behoort in en wie hoort uit
  Dit het die NEC beloof
  Hou vas aan jou geloof
Vat ons woord en moenie muit

 

En daar noem die manne van etiek
Die name van leiers van die Republiek
  Gwede en David en nog
  Maar nie vir Ace: vergesog
 Vergeet dit als: net ʼn verkiesingstriek

 

Mashatile, die party se geldgeneraal
Meen die verslag was bloot verbaal
  Dis alweer die pers
  Met ʼn rokende kers
Wat niks tot nuus probeer vertaal

 

Wat is dit tog met Cyril, onse hoop?
Hy praat dan anders, hy het verloop!
  Hy’s politikus, mens!
  As jy als glo is jy kens
Wat jy ook al dink, hy moet stemme koop.

 

Koning Ace

Hou jy ʼn adder na aan jou bors
Byt dit jou annie keel, dis maar wors
  Vat nou maar vir Ace
  Al lyk hy soms kuis
Dis als vernis, bloot ʼn papierdun kors

 

Ace, Ace Ace, die Vrystaat se ystervuis
Welkom in Mister 10% se paleis
  Die provinsiale kas
  Red gereeld sy bas
As hy geld gee aan man, vrou en muis

 

Ons gee vir onverwagse gaste Glen-tee
Maar Ace koop stemme met Glen se vee
  Gepos as die provinsiale landboubaas
  Het sy terugveg almal verbaas
Hy weet mos hebsug sê nooit vir ʼn geldjie nee

 

Mister ten percent vat net kontant
Kak of betaal is die wet van sy land
  Hy help net waar hy kan
  As jy deel volgens plan
En jou siel aan sy netwerk verpand

 

Om geld te vat, is dalk polities gewens
En as jy dit deel, is jy dalk ʼn goeie mens
  Maar lieg oor jou struggle creds
  Dan kort jy wragtag baie meds
Want die ware veterane weet jy’s kens

 

Juju

En wat eintlik vir Julius laat hang-tong:
Witmense se honde eet steak en biltong
  Mediese fondse vir honde
  Is ʼn helse groot sonde
Dit maak hom kwater as vir King Kong

 

Malema weet verseker en sê dit kwaai
Afrika se geskiedenis word verdraai
  Sjaka is bloot ʼn gerug
  Gaan in die verlede terug
Daar is net beeste opgepas en gesaai

 

Volgens Julius se geskiedenis-onthou
Het net die Europeërs Afrika geknou
  Die slawe sou tot by die kus loop
  Arbeid vrywillig aan skepe verkoop.
Kan jy iemand met so min kennis vertrou?

 

Verstaan tog die EFF gebruik innuendo
Met skimpe jaag hulle twyfel tot crescendo
  Wie het feite nodig?
  Emosie maak dit oorbodig
Als is bloot ʼn speletjie soos Nintendo

 

Snaaks dat Julius en Steve dit nie wis
Dat hul eintlik van dieselfde kraal is
  Beide wat die geskiedenis plooi
 Om elk die anderkant  te looi
Elkeen is alleen reg, die ander ʼn rassis

 

Steve

Vir Netwerk24 en Toyota is dit soos dood
Net sonder Steve steun hul Afrikaans is Groot
  Ons haat sy politiek
  Daarom trap ons briek
Siembamba-mamma-se-Steve-in-die-sloot

 

“Ons doen dit vir ons verdeelde land
Die maatskappy is nie aan Steve se kant”
  En al verskil ek van sy politiek
  Wonder ek oor die metodiek
Is dit nie amper soos om boeke te brand?

 

Die Land word ter elfder ure verbied
Deel in die Goemas puur verniet
  Dis oor Steve se portuur
  Dit lyk soos sensuur
Wonder wie besluite so hiet en gebied?

 

En Die Land is tog ʼn te mooie lied
Wat blykbaar net vir blank ʼn plekkie bied
  Een swartman so effe agter
  Die blou overall is tog sagter
As donners in rooi wat wil veg en skiet

 

Maar Steve moes besef dit kom
Hy slaan dan self dié soort trom
  U2-kaartjies in die Juksei
  Die Iere het ons Boere verlei
Bevrydingsliedere! Hulle dink ons is dom

 

Die res

Facebook-Vytjie met die Bybel en ʼn sny koek
Van nou af veg sy in die ACDP se hoek
  Diep in geloof
  Het hul beloof
Hul hang, stenig en kastreer elkeen wat kroek

 

Om ʼn eerlike party te kry is ʼn las
Maar Jimmy Manyi het een wat pas
  African Transformation Movement
  Dis duidelik ʼn improvement
Die akroniem ATM, vir hul wat vat, gepas!

 

Mmusi, Mmusi, hou tog droog jou doek!
Nog ʼn baba toe die ANC vryheid soek
  Mense wat staak en brand
  Gee hul uiteindelik die land
Jy is nog so jonk, jou klagtes vat die koek.

 

Op die trappe van die konstitusionele hof
ʼn Tafel vol wit, bruin, en swart (effens dof)
  “Ons moet protesteer
  Ons wat goed regeer
Dit wat die ANC (weer) doen is onbeskof!”

 

En wrintiewaar Antie Pat prosedeer
En wen waaragtig nog ʼn keer
  Die DA het gelieg
  Moet in die openbaar bieg
Sy’t self geloop, sy’s nie gereduseer

 

Kommentaar

Robert, Robert, eers het ons jou gehaat
As ons jou innie straat kry sou ons slaat
  Maar nou klik jy mooi
  Laat lekker sterk looi
Jou sonde vergewe wyl ons daarby baat

 

Robbie was voorheen die duiwel se bruid
Maar nou dring ons aan: los hom uit!
  Hyself is die dapper wag
  Teen almal wat verkrag
Soldaat teen ongeregtigheid wat jy nie stuit

 

En gode sy gedank vir Shabir
Voorheen dodelik siek op papier
  Heeltemal genees
  Hoe kan dit wees?
Onaantasbaar die Indiese Fakir

 

Wat’sie verskil  tussen vryheid en haatspraak?
Is dit woorde, konteks of bloot net wraak?
  One settler one bullet
  Dis ou lirieke, cool it!
Maar as jy wit is, laat alles die ys kraak

 

Aan alle kante het ons nou aktiviste
Dronk op eie opinies, soos alkoholiste
  Net ek is reg
  Weg met jou, weg!
Ons is vryheidsvegters, julle terroriste

 

Die ironie is uiteindelik al wat bly
Soos elkeen in sy eie braaksel gly
  Met vinger in die oor
  Kinders wat nie wil hoor
Debatteer kan ons nie, net stry

 

En êrens wonder ek oor die stront
Alkant baklei oor verdomde grond
  Meeste bly in stede
  Dalk om goeie rede
Want om te boer kos sweet by die pond

 

As jy steeds wonder hoe om te stem
Daar is ʼn formule wat jy moet tem
  .25 persent van die totaal
  sal jou ʼn sitplekkie behaal
minder as dit en jy is gerem

 

Voor jy finaal oor jou kruisie besluit
Werk tog die hele moontlikheid uit
  Indien agtien miljoen sou gaan merk
  Is jou keuse veertigduisend sterk?
Indien nie eindig jou kies sonder duit

 

En deur dit alles sien bykans niemand raak
Honderd brand hier, duisend wat daar staak
  Die meerderheid sug
  Dis teater, ʼn klug!
ʼn Toekoms vir ons en ons kinders is al wat traak

 

Meesal Christene, sê die sensus oor ons
Maar moenie dat Evangelie jou bedons
  Hê jou vyand lief
  Vergeef selfs die dief
Is woorde vir ander, nie vir myne en ons

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top