Dis nie so nie
Ons het almal prente-albums
Ons kyk almal terug na gister
Ons wens almal dit kon anders
Ons hoop almal dit word beter
My kind, ek hou jou vas
jou lyf, jou siel, jou drome
Met sellofaan wil ek jou toedraai
wil ek jou bewaar
Jou vars hou
Jou keer van verrotting
Vir jou ? springkasteel gee om die val sag te maak
Om jou hoog in die lug te skiet
sodat jy ver kan sien
My kind, ek wil met jou swaai
Ek wil jou ? speelpark gee
waar jy kan draai en
gly en klim om beter te kan sien
My kind, ek wil jou wys:
seisoene se verandering
Kleure wat kom en gaan
soos die see se gety wat jou onbevange
spoel en speel om jou uit te spoeg
en jou toe te draai in sy krag
My kind, ek het jou nodig
om deur jou onskuld, jou ongereptheid
spontaan te beleef
wat die lewe gesteel het
My kind, ek wil by jou leer
dat ons die mooiste skulpe
in die vlakste poele kry
My kind ,ek wil weer sien
dat jou mooiste prente
tekeninge in die sand was
dat jou grootste kasteel
môre nog staan want ek het ? muur gebou
om dit vir jou te bewaar
My kind, ek moet jou stuur
jou los om te leef en te lief
om te gee van jou menswees
My kind, loop mooi
Ons het almal prente-albums
Ons kyk almal terug na gister
Ons wens almal dit kon anders
Ons weet almal dis nie so nie


