Dis ’n leeu baas!

  • 0

Hier uit ons halwe noord-weste kom die storie van die boer en sy vrou wat vir baie jare hard gewerk het vir ’n bietjie luuksheid en vir die eerste keer in amper 20 jaar kon hulle ’n vakansie bekostig. Oujan het intussen ernstig begin voorberei vir hierdie vakansie deur vir ou Hans Gurirab wat al omtrent vir al sy jare wat hy op die plaas is sy regterhand is, op te lei in die verantwoordelikhede om die plaas onder beheer te vat terwyl hy en sy vrou vir so twee weke die pad kus toe vat vir daai groot rus. Met die nodige vermaninge om die drank uit te los, die plaas “mooi na te kyk” en om sy selfoon te gebruik om hom te bel as daar enige probleme is.

Nou vertel Oujan hulle was lekker ingeboek in een van die munisipale bungalows van Swakopmund, sy visstokke en katrolle was gereed en Santie het vir hulle ’n wavrag koekies en beskuit saamgery om te eet doer langs die see waar die vis hulle moet gaan malbyt. Soos die geluk dit dan ook wou gehad het, daai eerste ingooi doer sommer naby Myl 4, toe byt die kabeljou vorentoe en het hulle daai aand al lekker kabeljou op die rooster gehad, ’n lekker dop in die hand gehad en net so gehang in die behaaglikheid van ’n wonderlike koel see-aand, toe daai selfoon lui. Dis ou Hans.

“Hallo! Hans, is dit jy?”
“Naand meneer, dis ou Hans hiersô.”
“Nou gaan alles goed daar, Hans?”
“Meneer! Baas moet dadelik huis toe kom, hier’s groot moeilakgeid.”
“Wat se moeilikheid is daar, Hans?”
“Dis die leeus, baas. Hulle vreet al die beeste op!”

Nou dink Oujan dat dit darem baie jare laas was wat ’n leeu in daai geweste was en hy kry hond se gedagte.

“Hans, is jy gesuip?”
“Nooit, my baas! Ek het mos gasê ek sallie drink nie.”
“Nou waar’s jy nou, Hans?”
“Ek sit by die boom baas! Ek sien hom hoe byt die leeus die bees.”

Oujan dink steeds dis die dop wat praat. “Hans, hoe lyk daai leeus van jou?”
“Fokken honger my baas!”

Toe’s dit maar bakkie laai en terug ry plaas toe!

Namib

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top