Geskryf vir: Alle kunstenaars
Bruin oog vos-haar nooi, speel graag saam die feetjies
Skater lag - hardloop rond - sy sing vir hul haar liedjies
Een oggend vroeg toe die klok lui bedaar
Sien sy uit die venster - die son dans vir haar
Skool is verby. Dis huis toe gaan tyd, maar die skooltas staan alleen
Die skadu onder die groot wilgerboom is koud … is nat … is vreemd
Vir almal vra sy, oral soek sy, maar niemand kan haar sê
In die stille koue skadu van die wilgerboom, is waar die antwoord lê
Dis ’n lang pad huis toe, die twee tasse dra swaar
Dis ’n lang pad huis toe, wat sê sy as iemand vra?
Dis ’n lang pad huis toe, niemand wat saam haar sing
Dis ’n lang pad huis toe …
Die soektog begin, een huis na die ander, hoe kan niemand dan weet?
Almal bel en almal vra - sy hoor haar moeder se kreet
Skemer trek in, soos die wilgerboom se skadu. Is daar hoop in môre?
Die nag was lank, en toe die son op kom, sien sy hom sak agter wolke
Die oggend is swaar en die mense raak te veel
Hulle stuur haar langsaan, om by Tante Grys te gaan speel
Buite soek sy die feetjies om voor te sing
Toe gewaar sy die kar, wat die slegte nuus bring…
Dis ’n lang pad huis toe, twee tasse dra swaar
Dis ’n lang pad huis toe, wag haar sussie daar?
Dis ’n lang pad huis toe, kan sy haar hoor sing?
Dis ’n lang pad huis toe, maar eendag sal sy die tas
vir haar sussie terug bring

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

