Dis dié wat waag wat inpas

  • 0

Ek’t nog altyd baie tyd gehad vir akteurs wat bereid is om dinge te waag.

Vir studente seg ek altyd: sommige van julle wil mooi praat, en opsê – vir julle is daar ’n geil paadjie berei as politici (alhoewel tye verander, nè, Floyed Shivambu!), toergidse en dies meer. Dan is daar dié wat nie omgee om hul name te vergaai nie. Dis akteurs.

Sodra jy te versigtig ’n teks benader, staan jy ’n kans om soos ’n seer duim uit te staan. Dis dié wat waag wat inpas.

Comedy of Errors

Maynardville
Tot 18 Februarie 2012

 

Soos Shakespeare se tradisionele seisoen gisteraand by Maynardville begin, met Matthew Wild se regie van Comedy of Errors, kyk ek die spelers so gedurende die eerste minute, en dink: dit lyk so maklik; asof hulle speel!

En mettertyd ontvou – vanuit ’n effe verbeeldinglose stel – ’n reusagtige, dog verdagte, pandabeer, bont-klere-uitrustings en ander eienaardige keuses, asook ’n absoluut passielose pleidooi om Egeon se lewe, seker die mees vermaaklike Shakespeare-opvoering in jare op hierdie verhoog.

Shakespeare se sleutel – vir betekenis vir die gehoor en die toneelspan – lê in die ingeboude ritmes. Wanneer die span dit onder die knie het, word dit bysaak, en word dit gewone dialoog, soos in vanjaar se Comedy of Errors.

Hier is ’n sleutel wat regisseurs maklik miskyk: iemand wat saam met die spelers kan konsentreer juis op hierdie aspek. Regisseur Wild het soos ’n wêreldbeker-sportspanafrigter ’n ervare span byeen, bestaande uit vervaardiger Brian Heydenrych, projekbestuurder Tara Louise Notcutt en Liz Mills, stemafrigter.

Hy het Oosterse gevegskuns en die bykomende byklanke en choreografie daarby gevoeg – wat puriste seker sal laat stik van veragting. ’n Bietjie dialoogaanpassing, dalk ’n snit of wat, sorg vir ’n gemaklike, indien nie verruklike nie – en relatief kort aand by die teater.

In die gehoor sou mense maklik kon dink akteurswerk is nie ’n rêrige werk nie. Die waarheid is: akteur-wees bestaan uit keuses. Aan die een kant is daar ’n teks waaraan reg moet laat geskied word. Daar is ander spelers wat almal in die groter prentjie moet inpas – deur in te skakel in styl, luim en wat dies meer, of juis uit te staan – buite die vlakke van die res. So jy verlang ’n speler wat bereid is om uit te haal en te wys, soms baie, baie letterlik – en ’n regisseur wat gebalanseerde keuses maak. En dit neem jare, en soms flair, net om die onderskeid te tref.

Die regisseur en spelers moet keuses maak op baie terreine, die bestaan waarvan die toeskouer skaars weet. Soos: Is hierdie dialoog ernstig bedoel? Indien nie, hoe lewer ek dit? Met subtiele emosie, of is dit ’n emosionele uitbarsting? Hoe beheer ek die energie en graad? Lê my waagmoed juis in: Hoe stil en bedeesd is ek bereid is om hier te wees?

Aan wie lewer ek die spel? Wat beteken dit vir wie? En wat beteken dit vir die gehoor, wat, naas die teks, die belangrikste element is? Duidelikheid van spraak en van wat gewys word, is bysaak, tot dit verkeerd loop. In Comedy of Errors is enkele debatteerbare punte (buiten dié van die puriteine). Persoonlik is dit, soos die son wat opkom, as ’n akteur wat voor my gestaan het, met sy rug op die gehoor, sodat mens niks kan sien van die aksie nie, uit my pad uit padgee. Dis ’n regisseursbesluit. ’n Speler met ’n gemaakte rasperstem is net-net verstaanbaar, omdat die stem die teks verbloem – oortreding van reël 1. Dan is dit boonop ’n reuse-irritasie op die oor. Daar gaan reël 2: die gehoor! Dis nog ’n regisseursbesluit.

Een of twee karakteriserings is onbeduidend, en daar is ander klein jakkalsies, maar maak vanjaar se Comedy of Errors ’n definitiewe dagboekinskrywing. Jy sal die tweelingverwarring (uitstekend gespeel deur elkeen: die tweelinge, die susters, die bediende, die (soos die woordeboek sê – “publieke vrou”, Emilia, die pandabeer) wil sien. En hou jou oë oop vir die demonstrasies van woede, vet, vasberadenheid, seks, klas en cute – uitstekend onderstreep deur die regisseur – deur onderskeidelik Nic Pauling, Rob van Vuuren, Sonia Esgueira, Chi Mhende, Adrienne Pearce en Jenny Stead.

Film: Hoofmeisie

Hier is ’n Afrikaanse fliek wat talle grense oorsteek en dui op ’n vernuftige hand aan die stuur. Mens tref moeilik van buite af die onderskeid van wie is vir wat verantwoordelik. Nes ek heimlik oortuig is Amerikaanse suksesse is gereeld te danke aan hul tegnologie, net so dink ek plaaslike filmsuksesse is gereeld te danke aan ’n goeie vervaardiger.

Daar is te veel plaaslike voorbeelde van films wat ’n sukses is, met ’n onsuksesvolle regisseur aan die stuur, of films, gemaak deur ’n bewese span vervaardiger, kameramanne, en spelers, wat weer onsuksesvol is.

In hierdie fliek sorg die span van The Film Factory (Danie Bester) weer vir die essensiële – ondernemende kamerawerk (Tom Marais).

Soos in vorige werk skiet die teks – wat in hierdie genre nie so deurslaggewend is nie, soms tekort. En dis van min belang, as dit nie so maklik was om reg te stel nie.

Maar, nes in die toneelstuk hier bo genoem, Comedy of Errors, is hier ’n graad van waaghalsigheid wat gewoonlik aan ’n regisseur (Morné du Toit) toe te skryf is. Karin Retief, Christel van den Berg en Nazli George en Hannes Muller is die spelers wat hulself oortref. Hul oordadige spel (OTT) is perfek vir hierdie genre. En dis eintlik moeilik om spel in hierdie styl, op keurige wyse gelewer en geredigeer, aan te tref. Daarmee saam kan mens seker nie die kunswêreld wat die agtergrond tot sukses bydra, kunsregisseur Waldemar Coetsee, die redigeerder, Jordan Koen, en die klankbaan ongenoemd laat nie.

Film: Platteland

Steve Hofmeyr vat dit self mooi saam as hy iets sê soos: Hierdie is nie ’n kunsfilm nie, maar ook nie bubblegum-gemors nie. Soos wat ’n mens kon verwag van Sean Else, wie se musiekvideo’s legendaries is, is die fliek kinematografies puik. Die oorgange tussen realiteit en musiekvideo is geloofwaardig genoeg, die spel – veral van Steve self, ’n lus om te aanskou, en die teks – vertrou Deon Opperman en Sean saam – puik.

Die tannies in die gehoor het sommer begin saampraat weens die opwinding.

Soos mens kan verwag in die musiekgenre, kom sekere sangers die mas op as akteurs, ander nie. Maar die besonderhede doen geen afbreuk aan die film nie.

Phantom of the Opera

Nog min in my lewe het ek sulke skouspel ervaar. Om die waarheid te sê: ek het nie geweet sulke skouspel is moontlik nie. Wow. En om elke lid van die publiek so in die operawêreld in te trek, met elke oomblik ’n plesier! Is nes om ’n gehoor in die buitelug in die wêreld van Shakespeare in te pluk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top