Dis alles in die houding

  • 2

Die week in woorde

Gister kom ek op ’n hewige debat op Facebook af oor sogenaamde ivoortoringskrywers en die opposisieparty, die internetdigters. Buiten die kwessie van die gehalte van die stroom gedigte wat daagliks op die internet gepubliseer word, gaan die debat ook oor wie die reg het om hulself ’n skrywer of digter te noem.

Nou, oor die eerste kwessie wil ek my nie vandag op ’n leë maag uitspreek nie ... ek hou my kommentaar vir ’n ander dag. Maar oor die tweede gedeelte van die gesprek – wie mag hulleself ’n skrywer of digter noem en op grond van wat – daarop is ek verheug om te rapporteer dat ek ’n heel eenvoudige antwoord het.

Net twee dinge is in hierdie opsig van enige belang: ’n skrywer is iemand met ’n imponerende outeursfoto en ’n interessante werkspasie. Nee, nee, vergeet van die boeke en die pryse en die persentasie van inkomste wat uit skryfwerk verdien word.  Kyk net na die outeursfoto en die skryfbank en jy kan aflei of iemand werklik, wérklik ’n skrywer is.

Omdat hierdie twee sake van groot belang vir alle aspirantskrywers is, het ek besluit om ’n vinnige gids saam te stel om skrywers te help om die oorgang te maak van amateur tot baie besliste professionele skrywer.  Hierdie week plaas ek die eerste afdeling, wat die fynere kunsies van suksesvolle outeursfoto’s behandel, terwyl volgende week se aflewering spesifiek oor die inrig van die werkstasie sal handel.

Deel 1

Daar is verskeie opsies beskikbaar vir outeurs wat onmiddellik deur middel van ’n foto in die annale van gerespekteerde skrywer aangeteken wil word. Oorweeg een van hierdie kortpaaie. Suksesvolle skrywers weet dat slegs een van die volgende vier houdings werklik aan die wêreld sal kommunikeer dat hulle inderdaad met die pen gebore is. (Dis amper soos met die helm, net meer uitputtend.)

Houding 1: Hand teen die gesig

’n Hand onder die ken of teen die gesig is globale snelskrif vir “skrywer”. Volgens’n kenner op die gebied, Paul Hiebert, wys ’n hand onder die ken dat daar soveel gewigtige gedagtes in jou kop is dat jy addisionele ondersteuning nodig het om dit regop te hou. As die foto verder ook swart-en-wit is, is jy nie net ’n skrywer nie, maar ’n belangrike, ernstige en kunstige skrywer. (Die swart-en-wit-reël is ook van toepassing op al die ander houdings.)

Vir ’n goeie voorbeeld, sien hierdie klassieke foto van Oscar Wilde. Niemand wou glo The Picture of Dorian Gray was goed totdat hulle hierdie foto gesien het nie.

Houding 2: Die bewysstuk

’n Foto waarin jy duidelik besig is om te skryf is natuurlik onomwonde bewys dat jy ’n skrywer is. Met hierdie tipe foto is dit belangrik om te probeer lyk asof die fotograaf jou midde-in ’n sin of versreël onderbreek het. Ayn Rand het hierdie houding reeds vroeg in haar loopbaan bemeester, en dit is die enigste rede waarom mense The Fountainhead lees (of maak of hulle dit gelees het).

Houding 3: Gemaklik en ontspanne (of: Skryf is maklik)

In die foto hier onder demonstreer Marcel Proust die derde houding, waarin die skrywer gemaklik en ontspanne op ’n leunstoel of bank sit, met die liggaam ongeveer 45 grade na voor gedraai.

Proust integreer hier sommer ook die hand-onder-die-ken-houding, wat wys dat sy briljantheid nie groot inspanning van sy kant af verg nie.

Hier demonstreer John Grisham ’n meer kontemporêre manifestasie van die gemaklike houding.

Houding 4: Waar daar ’n rokie trek ...

... moet daar ’n rebelse skrywer wees wat besig is om die middernagolie te brand. Volg Hunter S Thompson se uitstekende voorbeeld en gebruik ’n sigaret om jou rebelse geaardheid te simboliseer.

As een van die bogenoemde houdings nie vir jou werk nie, kan jy enige van die volgende skrywers se voorbeelde volg:

Gooi vuis, soos JD Salinger:

Maak jou gevoelens duidelik, soos Allan Ginsberg

Kostumeer, soos Susan Sontag:

Gebruik rekwisiete, soos Marcel Proust (op die tennisraket), Ernest Hemingway (met bierblik-sokkerbal), Vladimir Nabokov (met skoenlappernet) en Mark Twain (met volledige biljartstel) hier demonstreer.

Intussen kan jy gerus ook na Phillip de Vos se briljante foto’s van volbloed Suid-Afrikaanse skrywers gaan kyk. Dit het vroeër jare op LitNet verskyn onder Gogga se Oog.

Van my gunstelinge is die foto’s van Lina Spies en Wilma Stockenström met katte:

Phillip sê oor sy werkswyse: “Freda Linde het vir my gesê ’n mens is nie net kop en skouers nie. My foto’s probeer dus iets meer wys – verkieslik die huismilieu van die spesifieke persoon.” Dis hierdie einste huismilieu wat volgende week bepreek sal word in Deel 2: Die skrywer se werkswinkel.

(Baie van die wysheid wat ek hier deel, is ontleen aan ’n artikel op Flavourwire.com getiteld Against Promotional Author Photographs deur Paul Hiebert. )

Voorgeskrewe leesstof


Kinderboekskrywer Shel Silverstein

Gaan kyk gerus na hierdie snaakse blogs en lysies oor foto’s van skrywers:

Op my bedkassie

Hierdie week is daar op my bedkassie ’n geraamde outeursfoto van Henrietta Rose-Innes. Dis omdat ek haar bundel kortverhale, Homing,so verskriklik baie geniet het. Ek het al ’n paar verhale vir my ouers probeer oorvertel langs die kaggel in die aand – met minder sukses. Ek dink mens moet dit lees. Dus, lees dit.

En ek is tans aan die lees aan Anton Harber se Diepsloot. Die boek is fassinerend en boeiend. So goed dat ek dadelik vir Harber gaan Google het om te kyk hoe lyk sy outeursfoto.

Ware skrywer, moet wees!

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


   

  • 2

Kommentaar

  • Bibi Slippers

    Johann,

    Dankie vir die skakel.  Hierdie klomp is kostelik!

    Ek vermoed 'n kat is 'n meer belangrike bestanddeel tot skryfsukses as wat ek eers gedink het.

    'n Vinnige storietjie oor 'n litirerê kat:  toe ek in Nieu Seeland gewoon het het ek en my destydse partner die oulikste kat gehad ... Hy was moontlik die beste kat in die hele wêreld. Toe ons ons bure eenmaal by 'n straatpartytjie raakloop vra hulle ons hoe dit met ons oulike kat, Voltaire, gaan.  Ons het maar net geknik en gese^ goed dankie, al is sy naam eintlik Walter.  Met ons aksente het hulle ons kat vir 'n meer litere^re wese aangesien as wat hy was.

    Hy moes agterbly in NZ toe ons terugkom, en het later onder 'n kar beland. Dalk 'n litere^re selfmoord? Dalk net 'n gewone ongeluk - ons sal nooit weet nie.

    Groete
    Bibi

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top