Dirk Rigter se siening oor mor en kla

  • 1

Onderaan my skrywe van 9 Junie 2015 lewer Dirk Rigter kommentaar tot die effek dat ek net ’n rede soek om, ‘soos gewoonlik’, te mor en te kla. Ek het spesifiek verwys na die agteruitgang van Afrikaans wat betref ons universiteite, die verdwynende straat- en plekname en die feit dat daar ook nou in die skole ’n heksejag op Afrikaans is.

Dirk sê nie ek is verkeerd nie. Implisiet stem hy dus saam maar hy is net onvergenoegd dat manifestasies van die sirkus waarvoor hy hom beywer het uitgewys word. Sy houding is hy en sy mede-libertyne (libertyn ̶ aanhanger van hoofstroompropaganda) hét nou die fout gemaak (alhoewel hy dit nooit sal erken nie) en almal moet maar net verstaan dat die tyd van afwesigheid van brandende bande in paaie, en gebrek aan klipgooiery na karre, verby is, ons moet dit net aanvaar. Met ander woorde, ons moet aanvaar dat lewensgehalte aan’t afneem is; dis nou maar die beloop van die lewe lyk dit my is Dirk se siening.

Van bande-brandery en klipgooiery gepraat – ek wonder of Dirk weet daardie soort van aksie is nou rêrig mor en kla; dis nou mor en kla in die oortreffende trap. Indien hy dit weet sal hy dit egter nooit laat blyk nie want dit is ’n gemor en kla deur mense wat nou éérs ontevrede is met die nuwe bestuur waarvoor hy en sy mede-libertyne hulle so beywer het.

Daar gaan byna nie ’n dag verby nie wat in verkeersverslae gewaarsku word dat mens hierdie of daardie pad moet vermy want daar is protesaksies aan die gang. Natuurlik nie sonder rede nie – die protesaksies bedoel ek nou – want waaragtigwaar, die nuwe bedeling faal jammerlik (of mens nou tot klipgooiery moet oorgaan is seker nie nodig nie maar dis ’n ander debat).

Dirk moet maar met die protesteerders gaan praat, vir hulle sê hulle moenie so mor en kla nie want die dae van funksionerende riolering, volgehoue water- en elektrisiteitsverskaffing is verby, hulle moet dit nou maar aanvaar.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan Rap,

    So, volgens jou was daar vanaf die 1960's tot die vroeë 1990's geen brandende paaie en klipgooiery nie, geen opstande en protes nie, geen polisie en soldate langs die paaie nie, geen kommando's op bystand nie, geen soldate op grensdiens nie, geen bomme in die Wimpy's nie, geen bomme in Kerkstraat in Pretoria nie, geen aanvalle op onskuldige burgerlikes in kerkdienste nie, nee alles was pragtig in die liewe Apartheid Suid-Afrika. Die townships was so vreedsaam soos 'n volkspele-byeenkoms op Republiekdag. Geen noodtoestand in 1985 nie, PW was sommer net bedonnerd om ons hiermee op te saal. Net lekker oefening om ons paraat te hou vir ingeval ...

    Weet jy waaroor wonder ek? Het jy elke nag vanaf 9 Junie wakker gelê en wroeg oor jou gemor en gekla tot vandag (15 Junie) om hierdie nonsens te skryf? Emigreer man, dié plek is nie vir jou nie. Gaan soek 'n plek waar daar net Afrikaans gepraat word, net Afrikaanse straatname is, net Afrikaanse skole is, net Afrikaanse universiteite is, net Afrikaanse parlementslede is, net Afrikaanse dorpe is, net Afrikaanse vakansie-oorde is, net Afrikaanse ...

    Wat van Orania? Of dalk Dan Roodtia? Of Volkstatia? Miskien Ossewania? O wee ...

    Lekker wroeg vir die volgende maand, dan skryf jy weer. Cheers vir eers. Awesome en stunnning groete uit Kaapsland.

    Dirk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top