Dirk Rigter se gryp na strooihalms op 29 April 2016

  • 5

Ou Dirk, ek het nog nooit ‘hoog opgegee’ op my eie logika soos jy beweer nie.  As ek iets sê waarvan die logika nie betwis kan word nie is dit maar net omdat ek die status quo beskryf.  Byvoorbeeld:  ‘Die kamtige demokrasie werk toe nie; die land is in ’n gemors, reeds tot byna rommelstatus gereduseer.’  Jy sien?  Dis nie so moeilik nie; jy kan dit ook doen, jy moet net ophou om in ontkenning te leef.

Jy sê jy sien ek verwar christenwees met witwees.  Natuurlik onsin; geen mens op hierdie aarde dink dat net alleenlik witmense christene is nie so hoekom sou ék?  My tuinboukundige assistent, byvoorbeeld, is ‘n toegwyde ZCC en hy’s nie wit nie.  Trouens, die hele Afrika is vol nie-wit christene, sommige lande selfs die meerderheid soos Ethiopië.  En ook nie alle wittes is christene nie.  So, jy lê woorde in my mond en daarop bou jy dan ’n betoog wat dan noodwendig snert moet wees.

Terloops, ek sien jy weerlê niks van die agteruitgang wat plaasgevind het, en nog besig is om plaas te vind, sedert die land nie meer, wat jy ’n wit land noem, is nie.  Jy weet dus dinge gaan agteruit maar mens mag net niks sê wat jóú laat dink die huidige bestel is verantwoordelik nie.

Jy sê ‘tweedens was hierdie land nog nooit ’n land met net witmense nie’ so al asof ek so iets sou beweer.  Weer eens is dit ’n voortbou op jou gefabriseerde vertrekpunt; iets wat jy maklik kan afskiet want wie sal nou ooit kan beweer dat hierdie land net witmense gehad het.  Jy kon net sowel gesê het ‘karre het nie vierkantige wiele nie’; dis ewe onsinnig.

Jy sê ‘derdens stel jy christenwees gelyk aan sendelinge en Jehova-getuies’.  Ek het so iets nooit gesê nie.  Nog steeds jou vals premis want jy sal weet, dat ek weet, ál die christendenominasies  sendelinge het so waar sou ek hulle nou uitsluit soos jy beweer?  Ek het maar Jehova-getuies spesifiek genoem omdat hulle so toegewyd is; kom klop aan mense se deure en so aan.  Net so toegewyd soos julle.

‘Vierdens’, reken jy, is daar nie ’n kerk vir ateïste nie dus so ’n missie soos wat ek beweer word nie verkondig nie.  Wel, dis nie nodig nie; hulle missie is bloot om gelowiges, alle gelowe, te bespot.  As hulle net bloot kopskuddend en skouerophalend gelowiges gadegeslaan het sou ek nie kon praat van hulle ‘missie’ nie.  Maar dis nie wat hulle doen nie, hulle doen hulle meerderwaardig voor en kraak ander wat nie hulle absurde gevolgtrekkings deel nie spottenderwys af.

Jou laaste paragraaf is ’n toonbeeld van a-logika en/of ’n baie gebrekkige kennis van Engels. ‘You fucked up big time’ beteken ‘julle het erg drooggemaak’.  Hoe jy ‘julle moet loop naai’ daarin lees weet nugter.  En hoekom, gegee die trant van die brief, sal ek julle nou iets aangenaams toewens?

Verder, hoe werk jy nou uit ’n belediging in Afrikaans getuig van meer ‘balls’ as ‘n belediging in Engels?  Ek het gesê ‘... sodat jy en jou maatjies (maw suurgat rooiappeltjies)’ kan verstaan, vandaar die Engels.  Maar dit was ’n fout, ek erken; benewens die feit dat jy nie mooi verstaan het nie was dit weer ‘n strooihalmpie vir jou waarna jy natuurlik naarstiglik gegryp het.  So laat ek maar in Afrikaans herhaal:  Jy en jou maatjies het opgefok, julle het ’n gedrog geskep.

Laastens, ek het nog nooit, soos jy beweer, oor RSG en KykNet gekla nie maar bloot die feit konstateer dat hulle Afrikaans ondermyn.  As die weerman sê ’n kwaai storm het bome en telefoonpale omgewaai in Rigtersburg kla hy nie, hy gee maar bloot sy verslag.  ‘n Kla-gat is iemand wat elke keer ‘n vloermoer gooi as iemand verslag oor die agteruitgang van die land doen.

Jan Rap

 

  • 5

Kommentaar

  • Hallo Jan Rap,
    Jou verwysing na die missie van ateïste het betrekking: Kan jy asseblief ’n voorbeeld of twee gee van die ‘absurde gevolgtrekkings’ waarna jy verwys?
    Groete
    Panda

    • Jan Rap,
      Die volgende tipe opmerkings, waarvan ek hier ’n enkele voorbeeld aanhaal, word voortdurend hier op SêNet aan die ‘spul’ in beledigende en onbeskofte trant, toegesnou. “Is daar enige groter en siekliker domme verwaandheid as dié van die agnostikus? Met julle gebrek aan insig, is julle verwaandheid ’n spektakel”
      Ek sou sê dit voldoen min of meer aan die omskrywing wat jy aan ateïste toedig. Jy verdink tog seker nie vir Kobus de Klerk van ateïsme nie?
      Groete
      Panda

      • Hallo Panda

        Jy veralgemeen nou; lyk soos Kobus de Klerk se woorde en hy spreek 'n mening uit (maw sonder om te sê hoekom die verwaandheid 'n spektakel is, of hoekom daar 'n gebrek aan insig is ens). Ek weet nie wat die konteks is nie want ek raak nie in godsdiensdebatte betrokke nie; dis futiel. Al stem mens nie saam met iemand nie moet mens nogtans hulle oortuigings respekteer en dit sluit ateïsme in. Mens kan redeneer oor die onderwerp sonder om jóú oortuiging te probeer afdwing.

        Ek het dit teen snedigheid waarmee van die ateïste hier teenoor religie omgaan, hetsy hindoeisme, islam, christenskap of wat ook al. Die aanhaling hierbo is net so snedig en ek veroordeel dit net so sterk.

        Terloops, my pa was 'n agnostikus en ek vermoed sy pa (my oupa) en my skoonpa ook.

        Groetnis
        Jan Rap

  • Hallo Panda
    Ja ek kan.
    Hulle, die ateïste, gee te kenne, of skimp, of laat blyk dat gelowiges naïef en/of minder intelligent is of, ten minste, dommer is as wat hulle is.
    Hulle skyn van mening te wees dat gebrek aan bewys bewys van gebrek is.
    Hulle het 'n onwrikbare geloof (selfs in sommige gevalle meer onwrikbaar as wat gelowiges in húlle geloof het) in wat as 'die wetenskap' bekend staan en verwerp alles wat hulle dink nie deur 'die wetenskap' onderskraag word nie. Daar is selfs mense (nie net ateïste nie, toegegee) wat glo daar is 'n parallelle heelal waar daar ook 'n Panda en Jan Rap is byvoorbeeld. Soos ek al voorheen gesê het, die wetenskap staan in sy kinderskoene - dis nou maar eers 2016, waar gaan die wetenskap nie wees in 3016 nie, of die jaar 20 000 of 30 000 nie?
    Meeste ateïste is by verstek christen, hindoe, islamiet, jood of wat ook al (gebore). Sy 'bekering' tot ateïsme is dus die gevolg van sy eie (of sy sendeling se) redenasievermoë. Is dit werklik voldoende (gegee dat die wetenskap nog so jonk is - ons weet nog nie eers byvoorbeeld wat skimmaterie is nie)?
    Groetnis
    Jan Rap

    • Hallo Jan Rap,
      Dankie vir die voorbeelde van ‘absurde’ gevolgtrekkings van ateïste, alhoewel ek dit nou nie juis as sodanig sou definieer nie.
      Wat meer is, jy verwyt my verniet oor veralgemening na aanleiding van die voorbeeld deur my aangehaal van opperste onbeskoftheid en snedigheid teenoor ateïste van iemand wat hoog opgee oor sy Christenskap. Die voorbeelde wat jy gee, is sonder uitsondering veralgemenings. Op grond waarvan jy die storie van ’n ’n parallelle heelal betrek by jou voorbeelde begryp ek glad nie veral as jy toevoeg dat dit nie net ateïste is wat daaraan glo nie. As jy die woord ‘glo’ daaraan koppel dan is dit mos klaar by implikasie ’n soort ‘geloof’. Ek twyfel of daar hoegenaamd ’n enkele ateïs is wat daaraan sal byt.
      Moontlik het ons verskillende persepsies van die betekenis van ‘absurd’. Ek respekteer jou standpunt om nie by godsdiensdebatte betrokke te raak nie, maar ek gaan tog uit Die Bybel aanhaal sonder om nou weer Gen 1 en 2 op te saal om aan te dui wat ek as absurd beskou: Die ganse Nylrivier se water wat in bloed verander kon word bloot deur met ’n kierie daarop te tik; die sondvloed en Lot se vrou wat in ’n soutpilaar verander het. Terloops: Toe daar vir ds Rikus Botha tydens ’n radioprogram gevra is wat van al die water geword het na afloop van die vloed was sy antwoord kort en saaklik: “Maar natuurlik het dit teruggeloop in die see.” Ek dink dit was nou ’n absurde antwoord.
      Groetnis
      Panda

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top