Dirk Rigter se Afrikaans en die ekonomie van 19 deser

  • 4

Ek het genoem dat Afrikaans agteruitgaan en Dirk stem saam maar reken dat diegene wat dit uitwys, besig is om te ‘weeklaag’.  Ek kry die indruk Dirk beskou hierdie afskaal van Afrikaans as ’n soort van ’n force majeur en die Ordentlike En Regte Ding Om Te Doen vir die Afrikaanssprekende in dié verband is om stil te wees en te aanvaar; ons sou in elk geval niks daaraan kon doen nie.  Ons moenie golfies maak nie.  Ons moenie weeklag nie. Ons moet modelonderdane wees en aanvaar.

Dirk stem saam oor wat gebeur; hy’s dit net nie eens met wat ek as die oorsake van hierdie agteruitgang, of ‘afskaal’ soos hy dit noem, beskou nie.  Sy rede vir die verdwyning van Afrikaans vanuit die wildsparke, vakansie-oorde ens is die feit dat Afrikaans sy ‘. . . sy dominante posisie afgestaan die dag toe Afrikanerheerskappy beëindig is.’

Dominante posisie?  Onregmatige politieke mag? Afrikaans was een van twee amptelike tale en het toe ook maar gesukkel om kop bo water te hou.  Die gesukkel was tot so ’n mate dat selfs wette/regulasies tov tweetaligheid gemaak is (ontvangsdames by hotelle, besighede ens). Terloops, hierdie maatreël was vir my nogal ’n verleentheid; weer eens ’n bewys van die ongeërgdheid van ’n groot groep van ons mense maar dis ’n ander onderwerp.

Ek is nogal verbaas oor Dirk se siening wat betref ‘Afrikanerheerskappy’; dis juis die tyd wat ons, onder andere, skoon parke en ’n 6% groei gehad het.  Self dink ek egter Dirk maak bietjie die pap dik aan hierso, ‘heerskappy’ is bietjie sterk gestel – goeie administrasie en bestuur ja.

Wat die koek vat vir Dirk se rede vir die agteruitgang van Afrikaans is ‘die ekonomie’.  Dirk praat van die ekonomie soos mens van Brolloks of Bittergal praat; ’n bose entiteit wat daarop uit is om Afrikaans te vernietig. Dis nie ons wat gaan lê dat Afrikaans so agteruitgaan nie beweer hy, dis die ekonomie se skuld. Nou wonder ek hoe sien Dirk die ekonomie onder ‘Afrikanerheerskappy’, hoe was die ekonomie toe soos ’n welwillende beskermer (want volgens hom was Afrikaans in ’n dominante posisie) en nou is die ekonomie soos Brolloks en Bittergal? Lyk my Dirk jet groot agting vir die ou bedeling.

Vir verdere stawing van sy argument(e) wend Dirk hom tot statistiek.  Volgens Dirk is die hele Suid-Afrikaanse samelewing oorwegend Engels.  Wel, Churchill het op ’n kol gesê ‘you get lies, then damn lies and then statistics’.  Ek het met my eie oë op hierdie blad gesien dat beweer word dat Afrikaans staande sal bly juis omdat die Bruines en ’n groot groep Indiërs Afrikaans as huistaal het en nou kom Dirk en hy beweer die Bruin- en Indiërgroep ‘verhoog die Engelse komponent nog verder’. Nou hoe nou?

Dirk praat van die reikwydte van Engels, vandaar die alomteenwoordigheid daarvan.  Wat het reikwydte van Engels te doen met die feit dat omtrent elke advertensie op Afrikaanse radio eindig met ’n slagspreuk in Engels?   Wat het daardie reikwydte te doen met die verdwyn van Afrikaanse straatname, of met die agteroorbuig van omroepers en aanbieders jeens Engels?

Dit is opvallend dat mense soos Dirk, apologete vir versmoring van Afrikaans deur Engels, se redenasies deurspek is met frases soos ‘die dae van x is verby’ of ‘jy kan vergeet dat x weer sal kom’ waar x staan vir iets behaagliks tov Afrikaans of die Afrikaner.  Hierdie uitsprake word leedvermakerig gemaak, byna triomfantlik.  Eienaardig, hoekom is dit vir hulle so verblydend dat die status van Afrikaans afgradeer is tot ongewens?  Wat ookal die rede is, dit is duidelik dat, wat betref hierdie mense, die agteruitgang van Afrikaans verwelkom word.  Daar sal nie ’n vinger verroer word om die agteruitgang te stuit nie inteendeel, hulle verwelkom die proses en werk nog mee ook.

Die welstand van die ekonomie is ’n funksie van, en direk eweredig aan, die werkywer van die nasie. Dit is nie ’n natuurlike hulpbron soos reënval of minerale wat deur die noodlot aan ’n land of nasie toegedeel word nie.  Dus, as jy deur die ekonomie gekasty word is dit hoofsaaklik te wyte aan die wanprestasie van jou medeburgers.  Om te oorleef sal die wat wel presteer natuurlik ’n plan maak; watertenks opsit, eie groente plant of iets. Net so dan met Afrikaans wat nou volgens Dirk deur die ekonomie benadeel word – doen iets; dit help nie om terug te sit en gods water oor gods akker te laat dawer nie.

So, Dirk, dit is ons; dis nie die noodlot of die sterre of die Engelse of die ekonomie nie, dis onsself wat die oorsaak van die agteruitgang van Afrikaans is en dus ook net ons, die Afrikaanssprekendes, wat die agteruitgang kan stuit.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jan, jy skryf:
    "So, Dirk, dit is ons; dis nie die noodlot of die sterre of die Engelse of die ekonomie nie, dis onsself wat die oorsaak van die agteruitgang van Afrikaans is en dus ook net ons, die Afrikaanssprekendes, wat die agteruitgang kan stuit."
    Maar Jan, Dirk is mos reg, en ek sê dit al lankal, dis is mos ons! en Jan, die stuit-deel lê vierkantig voor ons deur.

  • Jan, as jy en Dirk bemerk dat Afrikaans agteruitgaan, dan is dit 'n teken dat 'n nuwe taal in wording is. Nederlands het hier agteruitgegaan en dit het die begin van Afrikaans ingelui. Daaraan kan Afrikaanssprekendes net mooi niks doen nie, net soos Engelssprekendes net mooi niks kan doen aan die verandering wat hulle taal deur die eeue heen gemaak het nie. Ou Engels het veral twee groot veranderings deurgemaak: vokaalverskuiwing en die inname van Latynse woorde dmv Frans.

    As Afrikaans agteruitgaan, moet daar 'n rede voor wees. Dit help nie om maar net Afrikaanssprekendes die skuld te gee nie.
    As Afrikaans verswak moet daar redes voor wees waarom hulle dan Afrikaans laat verswak.
    As die onmoontlike wel moet plaasvind en Afrikaans verdwyn van die aardbol af, dan praat ek maar my taal, Engels. Jan, watter taal gaan jy dan praat?

  • Jan dit is maar seker die menslike natuur dat iets kosbaar nie vir ander ook is nie. Dit is nou maar so in die lewe. Jou held is dalk nie ander se held nie. Dit is ook nie raar dat kommentare oor iets wat jy van waarde skat nie altyd vleiend is wat as jy sou dink of iemand anders nie die respek vir jou sienswyse het nie. Enige taal het sprekers en kan nie net afgemaak of ignoreer word nie. Ongelukkig is dit nou maar in die land so dat Afrikaans nie die eerbied ontvang wat dit moet nie. Vir my as Afrikaanssprekende persoon is dit erg wanneer iemand die taal met ander tale meng. Dit klink vir my plein platvloers en onopgevoed. Maar weer wie is nou deesdae platvloers en onopgevoed? Dit is deesdae die norm. "Kommin soos gras."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top