Dirk en Wouter woedend en verward

  • 0

Ek het gesê mens kan nie sê die Portugese onderdruk die Duitsers omdat dié nie in Portugal mag stem nie. Dirk se vertolking is dat ek sê die Afrikaner het nie die swartes en die bruines onderdruk deur stemreg van hulle te weerhou in hul geboorteland nie.

Gedeeltelik reg; ek het al meer as een keer hier gesê die bruines is die enigstes ten opsigte van wie regstellende aksie geregverdig is. Waar Dirk nou egter weer kreatief raak is die gebruik van 'geboorteland'. Wie of wat het die grense bepaal? Kyk na die grenslyne in Afrika – meestal reguit lyne, onnatuurlike grense en bepaal deur kolonialiste.

Baie, meeste om die waarheid te sê, van die grense het regdeur bestaande, noem dit maar tradisionele, gebiede gesny en, na die 'winde van verandering' genoeg gewaai het, is hierdie gebiede 'bevry'; teruggegee aan kamtig die oorspronklike bevolking. Soos ons almal weet het dit gelei tot chaos; sommige van hierdie 'bevryde' lande het tot 300 verskillende volke in en daar is geweldige wedywering wat meestal lei tot 'n bloedbad.

'n Logiese ding om te doen sal dan wees om ou grense te herstel, tradisionele gebiede te hervestig dus. Dit was juis die beleid, naamlik dat elkeen in die land van sy geboorte stem – die Zoeloes in Zoeloeland, die Swazi's in Swaziland, die Basoetoes in Lesotho, die Venda's in Vendaland ens ens.

Hierdie idee strook nie met wat in ouens soos Dirk en Wouter se koppe ingeplant is nie, dis totaal buite hulle verwysingsraamwerk. Hierdie grootskaalse verwarring sit dan om in woede en hulle begin modder gooi. Dirk praat van my " ... onvermoë om intelligent oor ons apartheidsgeskiedenis te debatteer..." in plaas van om te wys hoekom die Portugees/Duitse analoog verkeerd is. Dit is dalk verkeerd, maar Dirk sê nie hoekom nie.

Wouter nou weer haal ellelange stukke van onvergenoegde Engelse skrywers aan, ouens wat daarvan oortuig is dat, alhoewel die Boere die oorlog verloor het, hulle toe tog toe die land regeer het soos hulle wou. As dit waar was sou daar nooit 'n Nasionale Party aan bewind gekom het in 1948 nie of hoe? Die SAP-regering was so Engelsgesind hulle het selfs die Engelse gaan help in twee oorloë teen die Duitsers. Ek stel voor Wouter gaan lees bietjie geskiedenis op wat nie deur die oorwinnaar geskryf is nie.

Ten slotte, weer eens 'n wenk vir Dirk en Wouter: Mens se mening is nie noodwendig die waarheid as jy sê die ander mening is twak nie. Jy kan slegs 'n argument wen deur die ander ou verkeerd te bewys; eers dan kan jou beledigings sin maak.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top