Dinsdag met Ma

  • 11

Foto: Canva

Dinsdag met Ma

I

Nie een van ons is ontgrendel nie,
die opstuwende paniek in berading gesus nie,
sedert Ma, drie hartaanvalle later,
finaal begrendel,
in ’n versorgingskooi oorleef.

II

In die blink kou van die verstelbare bed,
een stapeltjie Romanzas vir ontvlugting,
deur jong liefde bekrag, verskiet Ma se verkromde
liggaam buite die dampkring van die dag,
sewe dekades terug weggevoer in die arms
van ’n gespierde vreemdeling, haar wange pienk.

III

Goed gespasieer, waar verswakte hande nog kan bykom,
die proviandhouer se soet oorlewingsaar: roepknoppie,
oumensfoon, waterbottel, naelvyl, handeroom, Lip Ice,
suiglekkers, Turkish Delight, Crunchie, toffies;
soutbeskuitjies en biltong teen lae bloeddruk.

IV

Met die toegegroeide linkerhand in myne,
verwaarloosde palm grof, vingernaels lank en vuil
daar ingevreet, walg ek aan die reuk.
“Toemaar, dis net sweet,” verweer die suster.
Ons kon nie vandag genoeg ontvlug nie, Ma,
voor ek moet terug, my toegegrendelde hok
se ingeperkte patroon moet tog herhaal.

V

Kom vannag in my drome, Ma,
vertel jou stories van gespierde ridders,
ek was vanmiddag al te ongeduldig,
middeljarig-verskrik deur spitsverkeer.
Vertel my in die fynste besonderhede,
al die stories wat in jou ondeunde oë wink.

  • 11

Kommentaar

  • Dit is pragtig, Celesté. Ek kan daarmee identifiseer, want ek is self al 87. Gelukkig is ek baie gesond, fisies en psigies, maar my tyd kom.

  • Uit die siel, net soos my Tannie Celesté dit kan verwoord. Dit lê my na aan die hart, want dit handel oor my Ouma Rita, met die mooiste blou oë wat tot in jou siel kyk. So is ons almal verganklik en dit bly 'n realiteit.

  • Dankie vir die lees, Kas. Wees dankbaar vir daardie goeie gene en jou flink verstand; ek waardeer jou terugvoer soos altyd.

  • Dankie, liewe Vanessa. Ja, in al die stadia van Ouma se oudword was liefde 'n behoudende faktor. Die dieper kyk, beslis. Hoe gelukkig is ons om haar te mag hê. Ek waardeer dit dat jy tyd gemaak het om hier te kom lees.

  • Liewe Debbie, dankie vir die lees. Ja my ma en jou ma, die twee susters, wat tot diep in die nag gesels het -- tot die kerse uitgebrand was. Mag ons hulle stories onthou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top