
Prent: Canva
- Jason Lloyd skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.
........
In ’n heel ironiese en bisarre stap het die ANC teen die einde van verlede maand ’n klompie bevrydingsbewegings van Suider-Afrika buite Johannesburg byeengebring vir ’n bevrydingsbewegingsberaad.
........
In ’n heel ironiese en bisarre stap het die ANC teen die einde van verlede maand ’n klompie bevrydingsbewegings van Suider-Afrika buite Johannesburg byeengebring vir ’n bevrydingsbewegingsberaad.
Dié beraad was glo ’n strategiese ingryping in organisatoriese vernuwing, die verdieping van solidariteit tussen partye en om die bevrydingsbewegings in ooreenstemming te bring met hedendaagse sosio-ekonomiese aspirasies.
Die beraad is gehou omdat die ANC glo dat politieke, ekonomiese en kulturele oorlewing van Suider-Afrika se bevrydingserfenis eerlike introspeksie, gedeelde kennis en werkbare eenheid vereis.
Ses Suider-Afrikaanse bevrydingsbewegings – die ANC (Suid-Afrika), MPLA (Angola), Swapo (Namibië), Frelimo (Mosambiek), Zanu-PF (Zimbabwe) en Chama Cha Mapinduzi (Tanzanië) het die beraad in Kempton Park bygewoon. Dié partye regeer almal in hul onderskeie lande.
Verteenwoordigers van die Chinese Kommunistiese Partye, die Polisario Front in Wes-Sahara en Fatah van Palestina was ook teenwoordig.
Die vraag wat onwillekeurig by my opkom, is wat op dees aarde wou dié klompie bewegings by mekaar leer? Of andersom: Wat wil hulle ons, die inwoners van Afrika, leer?
Afrika se bevrydingsbewegings is dikwels bekend vir hul diktatorskappe, korrupsie en magsverbruik in Afrika – dit is die geval sedert Ghana in die laat 1950’s een van die eerste Afrikalande geword het wat onafhanklikheidstatus bereik het.
Die politieke ontleder Theo Venter was reg toe hy volgens Netwerk24 gesê het bevrydingsbewegings is eerder besig om mag te verloor, soos byvoorbeeld die ANC.
“Die bevrydingsbewegings is so veranker in hul ideologiese ingesteldheid. Hulle het nog ideologiese oogklappe aan wat hulle nie wil afhaal om by die werklikheid aan te pas nie. Hulle sukkel om buigsaam en inklusief te wees en pas baie stadig aan.”
Daar word nog te veel vasgekyk in die verlede en nie op die toekoms gefokus nie, sê Venter.
Op eie bodem is die ANC-regering reeds besig om die land te versmoor met premoderne ekonomiese beleid, rassistiese indiensnemingskwotas, breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) en die Onteieningswet.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie groei nie sedert 2011 nie – dit terwyl die bevolking jaarliks met sowat 3% groei. Die vooruitsigte is dat die ekonomie oor die volgende drie jaar nie eens met 1% gaan groei nie.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) het pas bekendgemaak dat die werkloosheidsyfer opgeskiet het tot 33,2%. Dit beteken dat byna nege miljoen mense werkloos is.
Amerika se 30%-handelstariewe (op motoronderdele, voertuie en landbouprodukte soos wyn) dreig om sowat 100 000 werksgeleenthede, meestal in die Oos-Kaap, te vernietig.
Die Nasionale Dialoog wat die ANC op almal probeer afdwing, en wat reeds baie stigtings (byvoorbeeld die Thabo Mbeki-stigting) en verskeie politieke partye (waaronder die DA) vervreem het, beloof om ’n flop te wees.
Dit het ook onlangs bekend geword dat die verskillende politieke partye in die RNE selde, indien ooit, vergader, soos die DA-leier en minister van landbou, John Steenhuisen, gesê het.
Die vraag wat nou by my opkom, is of die ekonoom Duma Gqubule reg is wanneer hy die RNE beskryf as ’n sandkasteel wat in duie sal stort omdat dit nie ’n sterk fondament het van ’n geloofwaardige plan om die reële ekonomie te laat groei en werk te skep nie.
Dit lyk asof Duma wel reg is en dat die RNE gebou is op valse optimisme. So wat bly nou oor om die land te red uit die kloue van die premoderne ANC-regering, wat hulle dikwels skuldig maak aan rassistiese, seksistiese, korrupte, onnosele gedrag?
Ek sou sê ’n vervroegde algemene verkiesing binne die volgende drie maande.
Lees ook:
Reign of ruin: Oscar Mabuyane and the Eastern Cape’s lost decade
Yes for national dialogue, but don’t forget municipal services
Die Nasionale Dialoog: ’n berekende strategie, of ’n geldverkwistende “talkshop”?