in die tuin van die digter
skyn die son soos ’n leeslamp
en blaai die wind deur die blare
die miere skryf lopende skrif
en die kritiese kwêvoëls kom
vang die hinderlike goggas
saam met al die erdwurms wroet
die digter in malse grond om
humus van emosies te maak
op Sondae swerm daar kenners
deur die tuin – hulle bloemlees
die blomme tot rare rangskikkings
as die dood sy rondte doen
en hom kry by die komposhoop
sal die digter bly staan
en vergeet van Isfahan
want die dood sal hom inhaal
selfs al probeer hy klippetieklop
op Pegasos weggalop