Diereriem
Wanneer verlange kwaai begin druk
Stuur ek vir jou ’n goue straal van die maan
Mooi geknoop in ’n strik
Vasgebind, om jou te gaan haal
Deur die Melkweg sal ons gly
Totdat ons die lekker-lag-lyfies van die Tweeling kry
By die Weegskaal sal ons gaan staan
En vir hande vol liefde en vriendskap met ’n ster betaal
By die Suiderkruis soek ons die Skerpioen
En stuur vir die Vredesengel ’n soen
En dan sien ons die Bul, stoer en alleen
Besig om te stoei vir ’n jaar van goeie seën
Êrens flikker die pyl van die Boogskutter wat waak
Oor die Sewe Susters en die Maagd
Mercurius, Venus, Mars, onbewoon deur mensekind
Ons sal die sterrepad tot by hulle vind
Op soek na die Vis en die Kreef
Ondersoek ons die liefde wat in ons leef
Dan maak ons ’n wye draai tot bokant Ankerbaai
Ons staan ’n oomblik stil om vir die engele te waai.
Die Aarde gooi ons in ’n rondomtalie-wentelbaan
En ons beland by die Waterdraer en die Ram
En skielik staan ons verstom
Voor God en sy Almagtigdom
En die Leeu maak plek vir die Steenbok, dié kom lê by hom
Ons haak ’n goue straal
Aan die stert van die Sekelmaan
Gly jy terug tot by jou plekkie daar ver
En elke keer as ek verlang, verskiet daar ’n ster
![]() |



