Die skrywer van Mattewis beweer as volg:
51 Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars.
52 Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek,
53 en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.
Nou wonder ek net:
1. Hoekom is daar geen vermelding van hierdie grootste gebeurtenis op enige ander plek in die Bybel (insluitend die ander Evangelies) nie?
2. Het die Romeinse owerhede ooit die verskynsel aangeteken en indien nie, waarom nie?
3. Het die zombies hul lewens hervat en later vir ’n tweede keer tot sterwe gekom, of het hulle ook in daardie tyd na die hemel opgevaar? (Indien eersgenoemde, wat was die punt van die hele oefening?)
4. Jesus het homself slegs enkele jare tevore as die Messias openbaar – was die zombies dus almal indiwidue wie hom in daardie kort tydjie gesien, gehoor, verstaan en as die seun van God geëien het? (En toe boonop oorlede is?) Maar hoe “baie” van hierdie merkwaardige mense kon daar nou wees, synde Die Twaalf, wie hom elke liewe dag oor daardie tydperk gesien, gehoor en met hom gepraat het, op daardie stadium self nog enorme geloofsvertwyfeling ervaar het? (Hulle het hoeka ’n nadoodse verskyning of twee nodig gehad om almal heeltemal “aan boord” te bring.)
5. Hoe is dit dat die zombies uit die dood opgestaan en derhalwe gered is, terwyl die evangelie (neerdaling ter helle en opstanding uit die dood) nog nie tot vervulling gebring is nie? Ek bedoel, moes Jesus nie juis die dood eers oorwin (geskeduleer vir die daaropvolgende Sondag), alvorens enigiemand gered kon word nie?
6. Synde Jesus maar een van “baie” dooies was die strate van Jerusalem daardie naweek bewandel het, hoekom was sy dissipels so uit-hul-sandale verbaas om sy graf leeg te vind? Waarom het veral Thomas so swaar aan die hele opstanding – geit gesluk as die plek kort tevore gepak was met wandelende lyke?
7. As mens sou aanvaar dat die skrywer van Mattewis moontlik ’n foutjie kon gemaak het, is die vraag natuurlik: hoeveel ander foutjies het hy gemaak, en waarom moet mens ’n enkele ding glo wat hy kwytraak?
Kom ons kyk: miskien is alle dinge, ongeag hoe ongelooflik absurd, maar weereens moontlik by Kobus.
Oom Daan

