Ek het Donderdag in my reaksies belowe om die volgende dag op die SêNet-hoofwerf 'n poging aan te wend om die Wouter-kwessie af te handel. Vrydagoggend vroeg het ek my skrywe gestuur, maar dit is nie Vrydag of Maandag gepubliseer nie. Op grond van wat Wouter sedert die versending van my genoemde skrywe kwytgeraak het en ook omdat ek self bedenkinge gekry het oor die te groot mate van vergewensgesindheid wat ek getoon het, het ek my skrywe Maandagaand aan publikasie onttrek.
Dinsdagoggend het Naomi my in kennis gestel dat my skrywe nie deur SêNet ontvang is nie. Ek begin dus nou van nuuts af oor hierdie saak skryf en hierdie keer sonder tegemoetkoming. Verskoon asseblief as ek in wat volg soms in outobiografiese besonderhede verval. Daarvoor is daar net een motief, naamlik om die gaping in kennis en insig tussen my en Wouter aan te toon. Ek is nou hartlik moeg daarvoor om keer op keer op 'n bedenklike manier in Wouter se aanvalle geteiken te word. Ek reageer min indien ooit op wat hy skryf, behalwe wanneer sy verwysings na my onuitstaanbaar word.
Dekades gelede het ek in veral twee Spaanse filosowe, Ortega en Unamuno, belang gestel. Ek het selfs 'n poging aangewend om 'n leeskennis van Spaans te bekom. Later het ek oor Ortega se bekendste boek geskryf (6.04.11 - al sodanige datums verwys na SêNet). Ek het die woord "hordes" gebruik omdat dit in die boektitel van die Nederlandse vertaling voorkom. Wouter, wat klaarblyklik toe nog feitlik niks van Ortega geweet het nie (ek sê dit omdat hy na hom as "Gasset" verwys het), het my aangeval op die foutiewe veronderstelling dat die hordes swart is. Ek het hom geduldig in besonderhede reggehelp (14.04.11). Dit het egter nie verhoed dat Wouter daarna talle kere met stekies oor Ortega en hordes vorendag gekom het nie.
In die jare sestig was eksistensialisme hoog in die mode. Ek het eerder aanklank by die Franse as die Duitse weergawes gevind, bv dié van Sartre, maar veral by Camus, wat in eksistensialisme 'n randfiguur was. In Frans het ek 'n leeskennis verwerf wat ek dokumentêr kan bewys. Voor dit, in die jare vyftig, het AM van Schoor, die koerantredakteur van Die Vaderland, een keer per week oor wêreldgebeure op die Afrikaanse radiodiens van die SAUK gepraat. Die Algerynse oorlog (1954-1962) het toe pas begin. Van Schoor het gesê dat die lot van die blankes in Algerië 'n aanduiding kan gee van wat mettertyd met die blankes in Suid-Afrika gebeur. Van daardie dag af, bykans sestig jaar gelede, stel ek in Algerië belang.
Omdat daar baie ooreenkomste tussen die "bevrydingstryd" in Suid-Afrika en Algerië is, het ek met verwysing na 'n roman van Camus onlangs daaroor geskryf (7.03.13). Daar kan geen twyfel hoegenaamd wees dat Camus, as gebore Algeryn, hom aan die die kant van die blankes geskaar het nie. Ek het dit met aanhalings uit sy boeke gestaaf. Wouter, wat heel moontlik bitter min van Camus en Algerië weet, het my egter soos gebruik daarvan beskuldig dat ek dinge plooi soos dit my politiek pas.
Nadat ek oor dekades baie boeke deur en oor Kafka gelees het, het ek uiteindelik 'n stuk oor hom geskryf (18.02.13). Ek het dit baie duidelik gemaak waarom daar in hierdie geval sulke uiteenlopende opinies is. Dit was kos vir Wouter, wat die bietjie wat ek probeer staanmaak het, foutief bevind het; heel moontlik sonder dat hy 'n enkele werk van en weinig oor Kafka gelees het.
'n Mens kon redeneer dat Wouter 'n bietjie oorywerig met sy uitsprake oor Ortega, Camus en Kafka was, maar dat hy oor onlangse gebeure, soos die oorgang na die nuwe Suid-Afrika, die lig van sy kennis en insig helder op SêNet kon laat skyn. My skrywe oor FW de Klerk (1.03.13) het tot 'n lang debat tussen my en Wouter gelei. Die kerngeskil is soos volg. Ek beweer magsdeling is aan die blanke kiesers voor die 1992-referendum belowe. In plaas daarvan het hulle in 1994 magsoorgawe aan die swartes gekry. Wouter, daarenteen, beweer die wittes het toe hulle in 1992 gestem het, geweet dat 'n ja-stem goedkeuring van een mens, een stem en magsoorgawe beteken. Groter onkunde oor 'n gebeurtenis skaars twee dekades gelede kan ek my kwalik voorstel.
Elke keer is die probleem Wouter se metodologie. In al vier die voorafgaande gevalle het Wouter hom myns insiens verlaat op brokkies inligting wat hy in 'n kits op die internet opgespoor en dan in die vorm van skrywes op SêNet gereproduseer het, sonder dat sy aanhalings naastenby bewys wat hy dink hulle bewys. Al wat in die meeste gevalle duidelik is, is dat hy my wil teenspreek. Wat nie duidelik is nie, is wat hy andersins probeer sê, want sy formulerings- en sistematiseringsvermoë is buitengewoon beperk. Jan Rap het nie net onlangs nie (18.03.13) maar ook voorheen (20.04.12) dieselfde waargeneem. Lank voor dit het ek geskryf: "Ek dink Wouter moet minder skryf en meer besin oor wat hy lees, ander mense se menings kernagtig in sy eie woorde saamvat en dan probeer om sy mening beter te formuleer (1.07.10).
Wat my van die geval Wouter hinder, is dat hy skynbaar onhervormbaar is en skaamteloos op hierdie trant voortgaan. Wanneer hy hom erg te buite gegaan of gewoon fouteer het, het ek op 'n verskoning aangedring (bv 19.11.10, 14.02.12), maar hy is nie daartoe in staat nie. Hy mors my tyd, want ek voel soms verplig om op sy aantygings te reageer. Byvoorbeeld, ek het 'n stuk oor Abraham Lincoln geskryf (21.02.13). Dan kom Wouter met sy teenspraak, wat prominent geplaas word (8.03.13). Daarna verduidelik ek hoekom sy voorstelling van my skrywe skeef is (12.03.13). Dit is hoogs waarskynlik dat daar lesers is wat Wouter se relaas gelees het en nie my korrektief daarop nie. Die skade wat hy aandoen, is in hierdie sin permanent. Maar hy redeneer telkens dat SêNet 'n openbare forum is en daarom kan hy hom gedra soos hy hom gedra.
Ek dink dat as 'n mens so 'n beperkte feite- en insigbasis het, jy dit liewer gerade moet ag om te swyg; of as jy geroepe voel om te skryf, jy dit doen oor onderwerpe waarvan jy genoeg weet. Waarom sou 'n mens die weg van konfrontasie doelbewus soek, terwyl dit moontlik is om nie-konfronterend oor ander onderwerpe te skryf? Dit kan op 'n DNS-fout dui. 'n Mens kan ook kies om oor dieselfde onderwerp te skryf, maar dan moet aanvullende inligting liefs ewewigtig en verhelderend aangebied word pleks van sowel die onderwerp as verhoudinge te vertroebel.
Op 15 deser het Wouter 'n tipiese brief oor demokrasie geskryf. Let op die stekies na "hordes", ens. Sonder om duidelik te maak wat hy onder demokrasie verstaan of watter aspek daarvan hy wil aanspreek, kom hy met aanhalings en dan hierdie gevolgtrekking: "Die beste manier om demokrasie te bereik is deur demokrasie." As analogie die volgende: Ek het al aan Wouter te kenne gegee dat die beste manier om te leer skryf, is nie deur te veel te skryf nie; eerder om minder en beter te skryf. Hoekom nie eerder die volgende stellings nie: "Die beste manier om demokrasie te bereik, is 'n diktatuur" of "Die beste manier om 'n diktatuur te bereik, is die soort demokrasie waarmee ons tans sit"?
By twee geleenthede het ek 'n toets vir Wouter aangelê (22.11.11, 12.03.13). Ek wou vasstel of ek nie dalk bevooroordeeld teenoor hom is nie. Ek het aan hom twee maniere gebied waarop hy my met min moeite verkeerd kon bewys. Hy het egter geweier om hom te laat toets. Hy verkies om ongesteurd en onbepaald soos tans voort te gaan. Sy weiering, tesame met sy valse bewering dat hy oor boeke van Godwin en Barnes geskryf het (sy erkenning 13.03.13 onderaan Geval Wouter 12.03.13), het my gebring by die gevolgtrekking waaroor ek hom vooraf gewaarsku het (12.03.13). Ek dink ek het rede om hom voortaan as 'n loodswaaier te beskou. Ook dat hy hom oneties gedra. Hier dink ek onder andere aan die tyd toe hy my in Engels en Afrikaans onder verskillende skuilname aangeval het, sodat dit moet lyk asof 'n hele leërskare dit teen my het, terwyl dit maar net 'n enkele indiwidu, naamlik Wouter, was. Hy het sy Engelse skrywes gelos toe iemand hom daarop gewys het dat hy nie lekker weet hoe om "is" en "are" te gebruik nie.
Ek het pas die moeite gedoen om my en Wouter se verskille op SêNet aan die hand van my skrywes na te gaan. (Ek het nie uitdrukke van sy skrywes nie.) Dit het op 1.02.10 begin oor sy gebruik van die neologisme "posteer". Daarna het gevolg (ek gee om ruimte te bespaar elke keer net 'n kort aanduiding van die opskrif of onderwerp): tirade (1.07.10), Osiris se weegskaal (12.07.10), mymering (14.07.10), mislikheid (17.11.10), tirades (19.11.10), teensprake (7.02.11), Satan (4.04.11), internetvlinder (14.04.11), vliegfamilie (10.05.11), brakkie (26.05.11), broederlike gesprek (1.06.11), uitdaging (22.11.11), DNS (6.02.12), Metusalem (10.02.12), wanvoorstellings (14.02.12), mikrogeeste (20.04.12) en daarna die geskille sedert 8 deser. Ek is verbaas oor hoe baie keer Wouter my tot reaksie uitgelok het. Ek kan SêNetters verseker dat hy my baie meer kere as dit aangeval het. Die jongste is dat hy kommentaar onder aan 'n skrywe van my lewer al beweer hy dat hy dit nie gelees het nie (14.03.13).
Om lood te swaai, is een manier waarop lood gebruik kan word. 'n Ander manier is om dit as 'n dieplood te gebruik. Ek het die diepte van Wouter se kennis en insig oor 'n lang tyd probeer peil en bevind dat dit uitermate vlak is. Op SêNet laat hy my dink aan iemand wat in 'n swembad duik voordat met die uitgrawing begin is. Uitgrawing is harde werk en neem tyd, maar is noodsaaklik sodat die fondament stewig gelê kan word. Hoe gouer Wouter begin om 'n stewige fondament vir sy skrywes te lê, dus om substansiële werke te lees en deeglik daaroor te besin voordat hy skryf, des te beter. Op die oomblik is dit steeds warboeldenke wat uitdrukking in te veel warboelskrywes vind.
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes,
Ek het ook aan Naomi genoem vanoggend dat my kommentaarbrief wat ek geskryf het, na die artikel: Nostalgiese geheuekiekie:kinderjare, nog nie verskein het nadat ek dit oor dieselfde tyd gestuur het. Intussen het ek haar gevra om dit maar te los.
Daarin het ek juis verwys na jou eerste brief aan Wouter, i.v.m. hierdie saak, omrede ek heeltemal met jou saamstem.
Probeer asb nie te veel tyd afstaan aan Wouter, aangesien dit kosbare tyd steel, en die pragtige invloei van jou briewe, wat ek baie geniet, mag kortwiek. Ek geniet en leer baie, en lees al jou biografiee aandagtig.
Trienie
Hallo Trienie, ek het sowaar as vet ook nie daardie brief van jou ontvang waarna jy hierbo verwys nie. Wat gaan aan? Ek plaas als wat ek kry. Stuur maar weer vir die gulsige webvoet-posbus en ek publiseer jou skrywe. Groete, Naomi M
Hello,
Voetnota:
Voetnota:
Ek het beweer Wouter het nie oor Godwin en Barnes geskryf nie nadat hy dit self erken het. Nou het hy opgespoor dat hy wel oor albei iets geskyf het. Maar ons destydse ooreenkoms was dat hy oor 'n bepaalde boek van Godwin en 'n bepaalde boek van Brink sou skryf. Wat hy nou aanbied, is wat Godwin in 'n artikel in Vanity Fair geskryf het.
Ook is dit glad nie duidelik uit wat hy oor Barnes geskryf het dat hy daardie boek van Barnes gelees het nie. Wat Wouter geskryf het, kan uit 'n bron oor Barnes se boek kom. Dat dit so kan wees, volg uit Wouter se foutiewe stelling dat die dood 'n gebeurtenis is. Om te sterf, dus om dood te gaan, is 'n gebeurtenis, want dit neem tyd. Dood, daarenteen, is 'n toestand. Dit neem nie tyd nie. Die een oomblik lewe iemand en die volgende oomblik is hy dood.
Oor Lincoln kan Wouter steeds nie Dilorenzo reg spel nie. Oor FW de Klerk beweer Wouter dat "die geskiedskrywers" met hom saamstem en my teenspreek. Ek het in die polemiek na verskeie boeke verwys, wat ek almal van voor tot agter gelees het. Wouter het, sover ek kan onthou, nie na 'n enkele sodanige bron verwys nie. As fragmentis beroep hy hom op stukkies en brokkies, ditjies en datjies, maar hulle raak nog kant, nog wal. Wouter, die kuberkabouter, boer met oppervlakkigheid.
Johannes Comestor
Comestor skryf aanvanklik:
Dit is ook nou opgemerk dat 'n nuwe skelnaam vir hierdie deelnemer gevind is deur Comestor, naamlik die term 'kuberkabouter'.
Hello,
Hello
Op 20 deser om 17:52 het Wouter hierbo geskryf: "Hierdie [is] my laaste kommentaar hieroor en sal die enigste kommentaar wees." Sedertdien is ses verdere kommentare deur Wouter hierbo gepubliseer. Hy moet sy sterre dank dat ons in die elektroniese era is, want sulke omvangryke kommentaar sou nie in gedrukte teks geduld word nie. Sou Shakespeare nie dalk opgemerk het dat die kuberkabouter te veel protesteer nie?
Johannes Comestor
Hello Oom Comestor,
Hello,
Hello,
Hello,
Hello,
In die siklus hier bo is daar verwys na Julian Barnes. Die naweek was daar 'n onderhoud met Julian Barnes gepubliseer waarin sy nuwe boek, Levels of Life, bespreek word.
Die boek bestaan uit drie dele. Deel een en twee behandel Frankryk laat 1900's met verwysings na Sarah Bernhardt, die aktrise, 'n soldaat met die naam Fred Burnaby, en laastens Gaspard-Félix Tournachon bekend as Nadar. Die eerste persoon wat daarin geslaag het om 'n lugfoto vanuit 'n lugballon van Parys te neem.
Die laaste deel van Levels of life bespreek die afsterwe se vrou in 2008 en die routydperk na haar afsterwe.
Barnes verbind die drie dele op die volgende manier:
"At the time, Nadar's photos were as disturbing as they were beautiful and they remain so today. To look at ourselves from afar, to make the subjective suddenly objective: this gives us a psychic shock.It is similar to the shock one gets from grief; that moment of seeing oneself suddenly, appallingly out of context, the co-ordinates as off as in a drawing by Escher."
Aanvanklik wou Barnes die verhaal van Eurydice en Orpheus gebruik as 'n manier gebruik om sy gedagtes te struktueer maar het besluit op die volgende.
"But at a certain point I thought, no, I have to do that straight rather than through myth. And I don't want to do it in fiction. I have to do it absolutely straight and head on. So the development process was both organic and slightly mysterious, in the way that it sometimes is. What was taken away is greater than the sum of what was there.This may not be mathematically possible; but it is emotionally possible".
Die verlies weens die afsterwe van sy vrou was intens aangesien die pilaar van sy lewe verkrummel het:
"I was 32 when we met, 62 when she died. The heart of my life; the life of my heart." "You put together two things that have not been put together before and the world is changed."
Soos verwag kan word, beroof die verlies, Barnes van die lus asook die wil om te leef en bied Barnes daarmee 'n erkentenis wat sonder twyfel as universieel beskou kan word. Barnes rou oor haar afsterwe "uncomplicatedly and absolutely", and misses her "in every action, and in every inaction".
Barnes brei egter uit en erken ook dat vir die eeste keer het hy selfmoord oorweeg:
“The question of suicide arrives early, and quite logically. I knew soon enough my preferred method – a hot bath, a glass of wine next to the taps, and an exceptionally sharp Japanese carving knife. I thought of that solution fairly often, and still do.”
Die bestaan van die huidige boek bevestig vanselfsprekend dat Barnes dit nie deurgevoer het maar dui Barnes ook aan dat die versoeking is nog steeds aanwesig. Die impuls word beveg net deur die besluit van Barnes waarin om die onthouer, "rememberer" van sy vrou te wees.
Die slotsom is dalk soos volg:
"In so far as I have successfully evoked or described grief, I would be describing my love for her."
In die konteks daarvan is dit dus nie 'n "moeilike" boek nie, en maklik herkenbaar vir die wat al verlies ervaar het.
Baie dankie