Beide Angus en Chris waag hulle weer aan die integriteit van die Woord so sin die Bybel opgeteken.
Angus raak ’n spul snert kwyt oor Moses met horings en dan raak hy verlore in die antagonistiese retoriek rakende die ontstaan van die Bybel, deurvleg van sy eie agnostiese mistastinge en wanvoorstellinge. Die resultaat is dan wat ons verwag van so iemand – ’n spul oningeligte, insiglose snert.
Chris kom weer en haal die een sekulêre teoloog na die ander aan en probeer die Persoon van die HERE Jesus Christus verdag maak. Die pogings het geen meriete nie en hulle verteenwoordig maar weereens net sienswyses van Bybel antagoniste.
Uiteraard word hierdie agnostiese en sekulêre bronne en skindertonge sorgvuldig deur die twee ateïste uitgesoek om hulle obsessie oor die Woord te probeer voed deur die Waarheid te onderdruk.
Chris se persoonlikheidsvergelykings tussen Bybelse apostels en evangeliste en ander onbekende persoonlikhede, is van geen waarde of konsekwensie, nie. Die feit dat sommige mense persoonlikheidsooreenkomste vertoon, laat hulle nie hul oorspronklike identiteite verloor, nie.
Hierdie metodiek van die deursnee agnostikus soos nou weer deur Angus en Chris aangewend, is natuurlik niks nuuts nie. Dit is ou, holruggeryde metodiek wat al letterlik vir eeue aankom. Sedert die HERE Jesus Christus se bediening op aarde meer as tweeduisend jaar gelede, is daar konstante en volgehoue aanslae van agnostici en sekulariste om die Woord soos in die Bybel opgeteken, te diskrediteer.
Het dié aanslae teen die Woord enigsins geslaag? Hoegenaamd nie. Die teendeel blyk. Die geskiedenis wys vir ons dat die Woord gedy het onder dié aanslae. Die feite toon aan dat die einste Bybelboek, wat só deur die agnostici aangeval word, die mees dinamiese Boek van alle tye, is. Daar bestaan nie ’n publikasie op aarde, histories en verál vandag nog, wat die distribusie syfers kan ewenaar van juis die Bybel, nie. Daar is geen ander boek wat op aanvraag in soveel verskillende tale vertaal is, nie. Daar is geen boek wat op só ’n skaal vrywillig (anders as, byvoorbeeld, die Islam waar dit verpligtend is om ’n Koran aan te hou, nie) en met groot ywer, aangeskaf word nie.
Niemand kan dié Boek weerstaan nie – verál nie die agnostici, nie - hoe ironies is dit nie, dit is veral húlle by wie jy feitlik elke weergawe van die Bybel sa aantref. Hoe dan so? Juis hulle probeer dan die inhoud van dié Boek so afkraak? Van hulle, soos Chris, is selfs bereid om te erken dat hulle ’n obsessie oor die Bybel het … wat is dan so anders aan dié Boek dat die Inhoud daarvan só ’n enigmatiese houvas op self die felste antagoniste daarvan, het, vir eeue al?
Die Bybelboek is só dinamies dat dit Hollywood noop om juis Hollywood-styl oor dié dinamika flieks te maak, soos byvoorbeeld die kontroversiële The Book Of Eli (niks met die profeet Eli te make, nie, maar is die naam van die hoofkarakter wat uitstekend deur Denzel Washington vertolk, word) met ’n uitstekende rolverdeling en wat handel oor die ongekende krag en dinamika van die Bybelinhoud op verkillende vreemde maniere vir verskillende mense.
Waarom is die Bybel dan so ongeëwenaard en ongekend gewild en gesog ten spyte van soveel ononderbroke eeue lange kritiek en aanslae?
Daar is ’n baie goeie rede waarom dit só is. Dit is omdat die Bybel die geopenbaarde, geïnspireerde Woord van God bevat. Dit is omdat die Woord-inhoud ewig dinamies is, Lewend is, soos géén ander boek, nie. Die Bybel waarin die geopenbaarde, geïnspireerde Goddelike Woord as sulks opgeneem is, weerstaan en oorkom álle aanslae daarop, juis omdat die Woord vol Krag en Lewe is. Die Woord in die Bybel is verbysterend.
Dat die arme antagoniste se pogings bog is, behoef nie gedetailleerde bespreking, nie. Na ál die jare, die eeue, is dit eintlik pateties. Hulle kon steed geen vordering maak sedert hulle voorgangers se insigloosheid, nie en kan steeds nie die groef waarin hul vasgevang is, ontsnap, nie.
Die Bybel is die eersteklas getuienis van mense wat ’n persoonlike verhouding met die HERE had. Paulus is só ’n man wat ’n persoonlike ervaring en uiters hegte verhouding met die HERE van die Bybel had, welke verhouding begin het op pad na Damaskus op ’n dag toe hy wat tóé Saulus geheet het, juis gegaan het om gelowiges van die HERE te gaan vervolg, omdat hy, nes die Chrisse en Angusse vandag, gedink het die evangelie van die HERE is versinsel. Só ook ander wie vir die opskrywe van die Woord verantwoordelik, was. Nie net is dié mense deur die Gees van God geïnspireer nie, maar hulle is kontemporêre van die HERE Jesus Christus en die onmiddellike tyd ná SY opstanding en hemelvaart.
Lukas het ook toegang tot die HERE se moeder, Maria, gehad met wie hy kon praat oor die HERE en ook met ander kontemporêre wie saam met die HERE was. Daarom is die versinsels wat Chris nou aan Lukas se evangelie wil toedig, niks anders as sinnelose kwaadwillige verdigsels en grondelose spekulasie, nie.
Maar nie almal verstaan die Woord nie, omdat hulle harte en sinne weens karnaliteit en wêreldsheid stomp geword het (Romeine 1:18-25), ten spyte van hulle obsessie oor juis die Woord. Hulle het kontak met die openbarende Gees van God verloor en selfs verbeur. Dit is te wagte, want die HERE van die Woord wat hulle so insigloos en sinneloos probeer kritiseer, het al destyds, meer as tweeduisend jaar gelede, geopenbaar waarom dit met hulle só is (Mattheus 13:13-15). Maar waarom die slegte gesindheid oor juis dít waarvan hul nie kan ontsnap, nie? Waarom bly hulle juis die Woord kritiseer terwyl hulle obsessief met die Woord is? Omdat hulle aan hulle eie slegte gesindheid oorgegee is deur die HERE (Romeine 1:28).
Daarom is die antagoniste vandag steeds vir ons die toonbeeld van betroubaarheid van die einste Woord, soos die Woord meer as tweeduisend jaar gelde al geopenbaar het jeens hul optrede en die sielkunde daaragter (daar was hoegenaamd nie sielkundiges destyds, nie), presies soos ons dit vandag sien uitspeel met hulle.
Angus gee in sy insigloosheid allerlei self uitgedinkte redes waarom die Bybel kwansuis destyds van mense weggehou, is. Hy praat snert. Die Bybel is weggehou van mense omdat die Katolieke kerk van destyds hom aan die mens vergryp het weens hul onkunde. Daar was allerlei ontoelaatbare stelsels in plek, waarvan die afkoop van sondes deur betaling van geld aan die Katolieke fiskus die berugste is. As die mense toegang tot die Bybel had, sou hulle sien watter vergrype dit aan hul onkunde was en sou in opstand kom. So, dit is juis weens die integriteit van die destydse Bybel, dat die Bybel van die mense weggehou is, want só is die Waarheid daarin vervat óók weggehou. Hierdie sweer het eers oopgebars toe Martin Luther in 1517 sy 95 vergrype-klagskrifte oor die Katolieke kerk van die tyd se praktyke rondom doop en afkoping van sondes op die All-Saints kerkdeur in Wittenberg gaan vasspyker, het. Dit was die begin van die openbaring van Waarheid. Luther was daaroor vervolg deur die Katolieke kerk, maar het ontkom.
Maar hierdie tipe vergrype het die grondslag gevorm vir die Katolieke kerk se weerhouding van die Bybel aan alle mense en nie die snert wat Angus in sy absolute kwaadwilligheid en onkunde kwytraak nie.
Chris kla weer dat die Woord nie ’n ‘duidelike’ prentjie gee oor die relevansie van die HERE se kruisigingswoorde aan die veroordeelde langs Hom oor die paradys, nie en ook nie SY tydelike besoek aan die doderyk, nie. Chris en sy sielsgenote se inperking van begrip maak dat hulle selfs die bestaan van dei HERE, van God, nie kan begryp, nie – totale Spirituele blindheid, presies soos die Woord verklaar en perfek uitwys (Mattheus 13:13-15). Die rede vir hierdie onbegrip is reeds hierbo en soos talle kere tevore, uiteengesit. Maar ook Chris se gebrek aan Spirituele insig en Intelligensie, maak dat hy nie kan begryp hoe die HERE die doderyk én die Paradys in een ‘dag’ kon wees, nie.
Eerstens verwar hy in sy onkunde die doderyk met die hel. Die hel is ’n plek en toestand wat die bestemming is van uiteindelike destinasie van finale veroordeeldes (die tweede dood – Openbaring 21:8) waarvandaan daar geen terugkeer is, nie (Mattheus 10:28; 25:46; 2 Petrus 2:4; 2 Tessalonisense 1:9; Judas 6). Die doderyk is die verwysing na die teenoorgestelde van die lewendes. Van die doderyk is daar terugkeer moontlik, Deo Volente – só is die HERE Jesus Christus die primêre voorbeeld en daar is ook die gevalle van Jaïrus se dogtertjie (Mattheus 9:18-26) en natuurlik Lasarus (Johannes 11:33-44) en natuurlik ook die opstanding van die dode wat met die HERE Jesus se opstanding saamgeval, het (Mattheus 27:51-53) – laasgenoemde as kragtige voorteken van die werklikheid van wederopstanding van die vlees, waarvan die HERE die Eerste opstandeling, was (lees gerus hieroor Johannes 6: 39-40; 1 Samuel 2: 6; 1 Korintiërs 15: 19-23, 35-46 in samehang).
Die doderyk is die versamelterm vir die tydelike destinasie van gestorwenes tot die Oordeel. Daar word gevind die plek waar ongeredde siele in afwagting is vir die Oordeel en daar is ook die ander deel waar die gereddes wag tot na die Oordeel. Hierdie skeidende dispensasie in die doderyk word glashelder deur die Woord verduidelik (Lukas 16:19-31). Soms word daar ook na die plek van afwagting, as die paradys verwys.
Dan verwar Chris ook die Paradys met die Hemel. Die Hemele is die verwysing na die finale destinasie van gereddes ná die Oordeel en die finale skeiding (Mattheus 25:31-46) waar die gereddes ewig sal vertoef (2 Korintiërs 5:1) terwyl die Paradys ’n plek in die doderyk is wat soos die voorportaal van die Hemele is, ’n plak van afwagting vir regverdige gestorwenes en waarvandaan daar, Deo Volente, ook terugkeer moontlik is (Lukas 23:43; 2 Korintiërs 12:4; Openbaring 2:7)
By die afsterwe het al drie die gekruisigdes die fisiese dimensie verlaat en die spirituele dimensie ingegaan. Daarom was die Paradys vir die HERE Jesus Christus, qua Mens, direk na die kruisiging die aangewese plek en het hy die pas geredde mede gekruisigde daarheen saamgeneem, maar as Woord van God, had HY ook geredelik toegang tot die doderyk se ánder kant, waar die ongereddes wag en het HY dáár qua Woord, verlossingswerk gaan doen ten aansien van diegene wat Hom vooroorlede was deur verlossing aan hulle te gaan bedien (1 Petrus 3:18-22; 4:6).
Die HERE Lewe en HY LEWE in en deur SY Woord en Heilige Gees, met Wie ons as ware gelowiges elke dag verbintenis het – daarom dat Sy opgetekende Woord sóveel ongebonde krag en dinamika, het, soos wat algar die uitwerking kan sien soos hierbo na verwys. Alles wat die arme agnostici in hul desperasie om Hom te diskrediteer, selfs SY bestaan te probeer ontken, plaas eenvoudig net meer klem op die absolute snert waaraan hulle gebuk gaan en ons teenstrydige persoonlike ervaring van lewe God, die HERE van die Woord in die Bybel.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Beste Kobus,
Die bybel is my gunsteling boek. Ek het Engelse, Nederlandse, Duitse, Hebreeuse, en Griekse weergawes daarvan; altesaam 23 van hulle. Hulle staan neffens langs mekaar, saam met Rooikappie, Jan en die boontjierank die Grimm broers se fabels en Suid-Afrikaanse Goëlstories, almal op dieselfde rak.
Jy stem darem saam met my dat die kerk iets gehad het om weg te steek, en daarom die verbanning van die Bybel. Jy sê self die waarheid het eers uitgekom met Martin Luther se vergrypskrifte. Ek moet sê, jou oë is besig om oop te gaan, alhoewel jy nog die kat aan die stert beet het. Die probleem met en na die Konsilie van Nicea (325) was of Jesus Christus ’n mens of ’n god is. Volgelinge van Arius is vervolg omdat hulle nie wou toegee dat hy ’n god is nie. Martin Luther se "waarheid" is duisend jaar later se geskiedenis.
Jou pogings om my en Chris se skrywes verdag te laat voorkom deur dit af te maak as snert en insigloosheid, werk ongelukkig nie, en het nog nooit gewerk nie. Val liewer dit wat ons skrywe, aan. Jy kan begin deur vir my te verduidelik waarom Arius en sy volgelinge na Die Konsilie van Nicea as ketters beskou en vervolg is.
Sjoe! Goed gestel. En as jy nou regtig kuiwe wil deurmekaar krap moet jy nog die Agnotici vertel dat "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie." Joh 1:1-3
Daar is geen einde of diepte aan die rykdomme van die Bybel nie. Ek is skoon opgewonde om weer my Bybel nader te trek en te 'sien' wat daar nou weer te siene is. Skatte en kennis - onbeperk.
1. Hoeveel keer het Petrus vir Jesus verraai?
2. Wat was Jesus se tuisdorp tydens sy geboorte?
3. Hoe groot was die ster wat oor die huis kom hang het?
4. Hoe het Judas gesterf?
5. Hoeveel boeke in die Nuwe Testament is nie vervalsings nie?
Ai ou Kobus, ek's rêrig jammer maar daar klap jy weer my gemoed toe! Hoekom?
My reaksie hierbo gaan omtrent Kobus se skrywe oor Die Woord, en nie die nonsens wat die ander kwytraak. Glo my, ek mag dalk met meer bybels om my grootgeword het as Angus (in ’n pastoriehuis) en was hulle nut en betekenis ook jare vir my toegesluit! – net soos vir Angus.
Maar toe gebeur iets wonderlik! Iets nuuts kom woon in my binneste, en ’n nuwe geboorte vind plaas in my gees. Ek sal dit nooit vergeet. (Ek was al getroud met kinders.) Toe ek weer my bybel lees, het alles nuut geword. My gees het oopgemaak soos ’n sonneblom onder die hitte van die son en skielik kon ek alles begryp en interpreteer wat daar staan! En dit was defnitief nie fabels soos Rooikappie. Daardie tyd het ons nie krag op die plaas gehad, en het ek deur die nag my kers gebrand om my bybel te lees. ’n Herontdekking. Dit was soos woorde direk vanaf God!
Voor hierdie ondervinding nie in jou plaasvind, sal die bybel slegs logos bly. Maar daarna – Rhema! Godspraak. My begeerte vir julle almal is dat dit met jou ook sal gebeur ...
Liefde
Trienie
Chris,
Ten spyte van jou abnormale ‘belangstelling’ in die Bybel, kan jy die inhoud nie begryp, nie. Kom ek wys vir jou ...
Petrus het die HERE by slegs een geleentheid – net na sy gevangesetting – verloën, maar nie verraai soos jy te kenne gee, nie. Jy raak deurmekaar met Judas, wat die HERE ter wille van geld verraai, het.
Jesus se tuisdorp was Nasaret (waar sy moeder normaalweg woonagtig was), maar sy geboortedorp was Bethlehem omdat sy swanger moeder op daardie stadium daar was ter wille van die sensus.
Ek weet nie hoe groot die ster van Bethlehem was nie, die Woord sê nie vir ons, nie en dit maak hoegenaamd nie saak, nie. Interessantheidshalwe kan ek vir jou sê dat dit nie ’n ruimteskip was, soos Cornelius op aandring, nie. Sommige kenners meen dit is ’n nova, wat God by die geboorte van die HERE Jesus laat lig gee het. Dan is daar weer die mening dat dit ’n besondere komeet was wat net toé verskyn het en waarvan die stert agter die huis in Betlehem, waar die krip met die HERE Jesus in, te sien was en dáár verdwyn het. Dan is daar nog die ander mees algemene, gewilde en mees waarskynlike verklaring dat die besonderse Bethlehemster ’n konjunksie (’n aantal planete wat gelyktydig deur die meridiaan gaan) was. Jupiter en Saturnus het tot drie maal bymekaar gestaan in die sterrebeeld van die ‘Visse’. Die wyse manne was sterrekundiges en het dit dan opgemerk – die eerste keer in hulle vaderland, die tweede keer toe hulle in Jerusalem ?kom, en die derde keer toe hulle na Betlehem gaan. Die vermoede is dat hulle via Daniël ?(die een waarna in Esegiël 14:14, ?20; ?28:3 verwys word), wat eeue tevore tot hulle kring behoort het, kennis gedra het van die profesie wat in Numeri 24:17 vermeld, word en het dus hierdie wonderbaarlike verskynsel met die geboorte van ’n báie besonderse Koning in verband gebring en daarmee vereenselwig en hulle was reg.
Judas het gesterf deurdat hy selfmoord gepleeg het deur homself te hang omdat sy gewete hom te veel gepla, het. Hierdie blote feite word vermeld in Mattheus 27:3-5. Maar selfs die verskriklike gewetenswroeging en tweestryd en berou wat Judas vooraf deurgemaak het, word in grafiese idiomatiese detail vir ons verhaal in Handelinge 1:16-19. Die idioom wat hier gebruik word, is die idioom vir ontboeseming wat ons ook in Engels aantref, naamlik ‘he spilt his guts out’ wat beteken dat hy homself nie gespaar het nie en niks teruggehou het, nie. Dus, Judas het vooroor geval op sy aangesig en by wyse van idioom sy ingewande uitgestort (spilt his guts) – bitterlik berou gekry (soos in Mattheus 27:3 bevestig) en die leed wat hy die HERE aangedoen het daar bely en daarna sy eie lewe geneem. En só het hy met sy lewe vir die stuk grond betaal, wat deur die tempelowerstes met die 30 sikkels silwer verraadgeld wat hy vir hulle teruggegooi het, gekoop is as begraafplaas vir vreemdelinge – daarna Bloedgrond genoem.
Al die boeke in die Nuwe Testament is nie vervalsings, nie, maar nie op die Langenhoven manier bedoel, nie maar eerder menende daarmee, dat geen boek van die Nuwe Testament vervals is, nie en dieselfde geld vir die Ou Testamentiese boeke.
Moenie probeer slim wees, nie, Chris. Jy is nie opgewasse nie. Ek is nie bereid om speletjies met jou te speel, nie, dit is baie kinderagtig. As jy nie ernstig gesprek kan voer, nie, laat staan dan maar.
Cornelius,
Wat jou klagte aanbetref kan ek maar net sê dat ek nie bedoel om jou te laat 'toeklap' nie, maar dat ek ook glad nie kan skrywe net wat jou in jou kompleksiteit sal behaag, nie. Ek skrywe nie om enigeen hier te behaag, nie, maar soos ek gelei word. As jou hart reg sou wees, sal dit jou mos behaag. Dus, miskien wil jy toeklap omdat jy issues met die Woord soos in die Bybel vervat, as enigste geskrewe gesagsbron van die Woord van God, het.
Daarom sou ek in alle billikheid aanbeveel en selfs versoek tot jou rig, dat jy eerder oopkop en in gebed tot die HERE oor die Woord besin eerder as om 'toe te klap'. Vrede vir jou.
Kobus de Klerk
Hello Trienie
So ’n rukkie terug het jy gepraat van "profetiese gelowiges", ’n term wat ek nie weet wat om van te maak nie, en ’n kar-rit in die reen beskryf asof dit "teken" op "teken" was, van wat het jy nou nie eintlik uitgespel nie. Einde van die wêreld of iets?
Dis ewe skielik duidelik vir my wat die probleem is: dis daai kerse wat jy brand as jy Bybel lees. Die goed is besig om jou te vergiftig.
Chris
Kobus,
Dankie vir jou volgehoue getuienis van die Waarheid in God se Woord. Dankie ook dat jy bereid bly (ondanks die gedurige aanvalle wat ons ateïstiese, agnostiese en evolusionistiese vriende loots en ook die verdagmakery en twee-spalt wat hulle probeer bewerkstellig onder ware gelowiges) om die Waarheid van die Woord van God uit te spel vir elkeen wat soekend is en selfs ook vir ander gelowiges wat meer wil leer uit God se Woord. Dankie ook vir die treffende wyse waarop jy die ateïste en agnostici se monde gereeld snoer (tot hul frustrasie só) en hulle bose motiewe die nek inslaan. Ek self leer gereeld meer uit jou skrywes. Mag die Here jou seën en in die waarheid lei. Aan God al die eer!
Trienie,
Wat ’n wondelike getuienis en verduideliking van ware geloof! Jy sien, dít is wat ons ateïstiese en agnostiese en evolusie aanbidders nie verstaan nie en ook nie kan begryp nie – die God-gegewe, genade gawe van ware geloof wat nét die Heilige Gees in harte kan wek! Dit is dán wanneer die absolute Waarheid van die Wonderlike Woord van God ons Vader en Skepper, deurbreek. Sonder die genade gawe van ware geloof sal én kan geen mens die diepte en rykdom van God se Woord besef en indrink nie! Dit is eenvoudig onmoontlik en daarom die wanhopige en patetiese pogings van mense soos Chris, Thomas, Angus, en dies meer, om die Bybel te probeer diskrediteer! Die krag, liefde, waarheid en redding wat stroom uit God se Woord is die lewenswater wat elke ware gelowige vul en wat ook uit hulle borrel tot God se eer en verheerliking alleen! Ons ateïstiese, agnostiese en evolusionistiese vriende kan dit nie begryp nie en dit gaan eenvoudig hulle verstand te bowe! Kyk hoe dikwels en doelbewus hulle laster en kettery hulle wanhoop vooruitloop! Brianvds soek naarstigtelik (Angus se woordjie) na teorieë en wetenskaplike bewyse vir kreasioniste se belysdenis dat God die Skepper van alles is! Sy begrip is uiters beperk en sy verwysingsraamwerk berus op die mensgemaakte leuen van die evolusieleer en afgodsdiens.
Maar wat hulle nie besef nie is dat ons ’n Liefdevolle en Genadige God aanbid en dien wat elkeen met Homself versoen het wat Sy genadeversoening ín en deur Sy enigste Seun, Jesus Christus, se verdienste aan die kruis, wat Hy bewerkstellig het, aanvaar en bely! Jy sien, hulle is blind (uit eie keuse uit) vir die feit dat Jesus Christus, Sy hand van redding uithou na elkeen wat Hom soek – hulle hoef net hul hand in opregtheid en berou na Hom toe uit te steek en die Ware Lig sal ook vir hulle opgaan!
Vrede en Sterkte vir jou.
Dolf
As jy minder belang gestel het in jou eie ego as die Bybel sou jy die vrae wat ek hierbo gevra het ernstig opgeneem het. In jou ywer om Dolf en Trienie te beindruk het jy die werklikheid van die probleme wat fundamentele geloof bedreig geminag. Dit is hierdie arrogansie wat die einde van jou geloof gaan beteken. Geen geloof kan groei en floreer sonder intellektuele eerlikheid nie.
Kobus, van dag een af wat ek my op die werf begeef het was dit duidelik dat jy op die aandag wat jy met jou omstredenheid bereik floreer - om selfs na jouself as 'n "ou grote" op die werf te verwys. Selfs ware kundiges soos professor Christina Landman is nie jou sensasionele spirituele intelligensie gespaar nie. Derhalwe, die algemene betekenis van woorde het sekerlik niks met my sogenaamde kompleksiteit waaraan jy my as persoon probeer neerhaal te doen nie. 'n Agnost is eenvoudig nie 'n ateïs of anders om nie. Jou gruwel staan egter duidelik in jou veronderstelling dat "as my hart reg sou wees" jou helse gedweep my sou behaag - jy die een wat katolieke se heiligmaking van hul toewyding elders neerhaal wyl jy jouself of so 'n infernale styl probeer heilig. Ek weet nie wat jy met die Bybel "as enigste geskrewe gesagsbron (sic) van die Woord van God "probeer veronderstel nie, maar wat duidelik die afgelope jare is dat jy regte mense se harte wat aan God behoort onderhewig aan jou veronderstelde en sogenaamde "enigste geskrewe gesagsbron (sic) van die Woord van God " maak. Dink jy werklik die Bybel is belangriker as enige kind in die liefde en genade van God se empirie? Ek vergewe jou nogmaals. Jou amigo in Adam, Cornelius.
O, ek is baie ernstig met my antwoord aan jou pogings om my vaste vra, Chris.
Maar dit slaag nie - nie omdat ek arrogant is, nie, want ek is nie, maar omdat jy bevooroordeeld en besonder insigloos is. Vandaar jy venyn en aggressie.
Kyk byvoorbeeld jou neerhalende, snedige reaksie op Trienie se sagte, absoluut inspirerende en openhartige, maar uiters leersame kommentaar hierbo oor haar wedergeboorte - die woorde van 'n opregte, onbevooroordeelde ware gelowige. Daar is Dolf se gereelde kragtige getuienis ook waaruit jy gerus kon leer.
Nou, wat jou opmerkings oor die antwoord op jou kamstige strikvrae aan my aanbetref, verwys ek jou na Trienie se belydenis hierbo en presies verduidelik wat die verskil tussen jou en ons, is, waarom jy niks verstaan nie, en ons alles. By haar getuienis kan ek net byvoeg dat sy vandag die wonderlike voorreg en ervaring van insig, begrip en lewende dinamika van die Woord ervaar, uitleef en met ander deel, omdat sy die deur van haar hart, waartoe Dolf ook al sovele kere vir jou en jou maters uitgenooi het, oopgemaak het, wyl jy jou hart vir 'n sekulêre ketter soos Bart Ehrmann oopgemaak het, Die resultaat? Ons gedy en floreer op die Godgegewe Wysheid, Insig en Kennis en gemeenskap met God welke ons met algar kan en wil deel, terwyl jy, arme jy, soos 'n besetene probeer om 'n verterende obsessie te voed wat nie gevoed kan word, nie, omdat die leuen wat jy opsluit wil afdwing, in der ewigheid nooit oor die Waarheid van die Woord sal seëvier nie, maar wel andersom.
Dus, teenstrydig met wat jy sê, floreer ek en ander mede gelowiges in ons voortdurende geloofsgroei en word ons kennis en insig meer en meer by die dag want ons dien die Lewende God, die HERE van die Woord Wie jy so probeer afkraak in jou besete obsessie, Wie dit aan ons skenk, terwyl jy met jou bare 'intellektualiteit' al verder en verder agter en verwyderd raak. Jy het gewoon geen Spirituele intellek, nie... wat nog te sê van Spirituele intelligensie
Daarom die venyn en jaloesie by jou, omdat jy ware gelowiges nie kan uitvang met jou lis nie.
Ek het dus nuus vir jou - die antwoorde op die vrae wat jy in jou lis gestel het en in jou gesig ontplof het, omdat jy in jou eie strik geval het (die Woord Leef en is getrou - Psalm 141:9-10), is korrek weergee, maar jy verstaan dit nie omdat jy is soos jy is - bevooroordeeld en onwillig.
Die dinge wat ek vir jou sê, is nie as beledigings bedoel nie, maar is waarnemings wat die gronde vir die verskille tussen ons, uitlig.
En tog, na dit alles, wens ek jou dieselfde pragtige wens toe wat Trienie, vir wie jy so onnodig en ongevraagd met druppende sarkasme en venyn probeer van stryk bring (jy ken duidelik nie die krag van ware gelowiges nie).
Kobus de Klerk
Kobus, jy moet regtig 'n bietjie weier gaan "lees" as jou eie bydraes oor die Bybel hier op Litnet. Jou antwoorde hierbo sal uitgelag word, en selfs verdoem word in meeste fundamentele sirkels. Dit gaan duidelik hier oor jou eie blou balle eerder as jou geloof.
Jy weet natuurlik wat jy met "pragtige wens" kan doen: Draai hom dwars en ...
Chris,
Ek is nogal seker dat jy sal wil hê dat mense my uitlag, maar dit is maar net wensdenkery aan jou kant. Jy en Cornelius is nou die kluts kwyt met wat ek hier weergee, en nou is dit weer die ou, ou truuk wat ons almal al so goed ken van julle – val my in die persoon aan. Dit het nog nooit gewerk nie, sal nie nou werk nie en ook nie in die toekoms, nie.
Ek herinner julle weer daaraan, om my woorde te verdraai, allerlei kwaadwillige etikette om my nek te probeer hang en my bona fides aan te val, sal julle twee niks baat nie – julle is diegene wat nie verstaan wat aangaan nie omdat julle ’n probleem het – en daarom is julle agnostici. Hoe wyer ons lees, hoe meer kom ons agter werklik hoe onkundig julle is, ongeag die tierlantynerige woordeskat wat so uit plek, is, veral die van Cornelius. Sulke truuks verbloem nie julle onkunde nie, maar beklemtoon dit eerder want die opgesmukte taalgebruik kan onkunde nie mooi tooi nie.
Dus, as jy nie sinvol kan skrywe nie, bly eerder stil. Dit was nog altyd ’n goeie stukkie advies wat julle klaarblyklik nie kan begryp en insien, nie. Julle het die manier om ’n gesprek in ’n heel onvanpaste rigting te wil indwing om die aandag van jul onbeholpenheid te probeer afwentel – dit werk nie met my nie, want ek het nie ’n kwesbare ego, nie. My ego is te klein daarvoor.
Uiteindelik – en dit weet ons algar al vir ’n geruime tyd – is dit julle suur druiwe wat julle opdis wanneer julle nie meer raad het herwaarts of derwaarts teen die Waarheid, nie
Dit is dus eerder julle wat uitgelag sal word – maar ons doen dit nie, ons kry julle werklik en innig jammer. JY weet werklik nie wat jy doen, nie. My goeie wense aan jou blyk nietemin staan. Soms moet ons as gelowiges maar vir julle doen wat julle nie in staat is om vir julleself te doen, nie. Dit is maar waaroor naasteliefde ook gaan.
Kobus de Klerk