Die Woord, die Skepping

  • 11

Baie mense is geneig om die Woord oppervlakkig te lees en dan in diepte opinies daaromtrent te lewer. Dit lei dikwels daartoe dat andere sê mense neem die Woord kwansuis 'letterlik' op. Een van die aspekte in die geskrewe Woord wat die meeste hierby betrek word, is juis die skeppingsgebeure in Genesis.

Maar as mens die Woord behoorlik lees, dan sien mens dat daar verskillende prosesse is wat God gedurende die huidige skepping aangewend het.

Eerstens word daar in Genesis onderskei tussen hoofsaaklik twee skeppingsmomente - die aanvanklike skepping van die hemel en aarde (dws die planetestelsel in ons sonnestelsel) en waarvan in Genesis 1:1 verwys word en daarna kom die huidige skepping aan die beurt in Genesis. Die Woord dui vir ons aan dat God van tyd tot tyd nuwe lewe op aarde bewerkstellig of skep. Openbaring 12 dui daarop dat die aarde al bestaan het voordat daar enige waters op was, maar op daardie stadium het die water waarskynlik alles verdelg. Genesis 1:2 en verder dui op 'n nuwe skepping, die huidige een, en dié skepping het tot stand gekom terwyl die aarde met water oortrek was maar sonder lewe (sien Openbaring 12:15 ev hoe die aarde met water oordek was). Dit is die begin van die huidige vestiging van lewe op aarde, die huidige skepping. Alles het uit die water ontstaan nadat God die waters sodanig verminder het dat daar nou aarde uitgekom het wat drooggelê was (sien 2 Petrus 3:5 en die uitleg daarvan in Psalm 24:2; 136:6 saam, wat dus verwys na alle lewe op aarde en in die hemel - lugruim - wat die aarde oordek). Die lig waarna in Genesis 1:3 verwys word is die felle son wat die water verdamp het en welke digte waterdamp toe weer die aarde oordek het as gevolg. Ná hierdie watervermindering met gevolglike swaar waterdamp wat die aarde omring het, het God dus ook die atmosfeer georden (Genesis 1:6-7) en in die proses van Genesis 1:14-19 is die vogdamp in die atmosfeer sodanige verminder dat die son se bestraling (lig) kon deurbreek op 'n daaglikse basis. Dat daar ook in die toekoms weer 'n vernuwing, 'n nuwe skepping van lewe op aarde en in die hemel tot stand sal kom met ingrypende veranderinge, word ook duidelik in die Woord bevestig (Jesaja 65:17; 66:22; Romeine 8:21; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1).

Dit is dus duidelik dat God van tyd tot tyd die aarde se lewe heeltemal vernuwe. Daarom vind mens nog op aarde oorblyfsels van vorige skeppings op aarde, soos wat die fossielrekord duidelik aandui en dus die korrektheid en betroubaarheid van die Woord ook in daardie belangrike verband bevestig. Die arme Spiritueel-verdwaaldes verstaan dit nie en dink dat die enigste manier om dit te verklaar is met die onsinnige evolusie-teorie. Ongelowiges begryp dit ook glad nie en het die onsinnige Darwinistiese tipe evolusieteorie saamgeflans om vir hulle in hul onkunde darem 'n verwysingsraamwerk te gee, waaraan hulle verbete vasklou en wat hulle met fabelagtige teorieë soos wat die beroemde broers Grimm hulle skaars sal kan nadoen, probeer aan die lewe hou.

Die Hebreeuse werkwoord vir “skep” (create) is bārā. Dinge wat deur God geskep is, sluit in die hemel en aarde reg aan die begin (Genesis 1:1); die groot seediere en waterdiere en organismes volgens hul soorte asook die gevleuelde voëls (Genesis 1:21) en dan ook die mens ooreenkomstig sy SY Eie beeld (Genesis 1:27 gelees met Genesis 2:18; 5:2). Hierdie dinge en die mens is dus deur God ontwerp en daarvolgens geskep en alles ander het daaruit ontstaan volgens die skeppingsplan van God.

In die res van die skeppingsverhaal word die werkwoord “maak” of “bewerkstellig” (make, made) gebruik. Die Hebreeus daarvoor is āśâ, asook die ekwivalent wat op inwerkingstelling dui, naamlik die opdrag “laat daar... wees”. Die Hebreeus daarvoor is hāyâ. Die werkwoord “maak” of “bewerkstellig” word dus gebruik waar God tydens die huidige skepping sekere dinge bewerkstellig en in werking stel uit reeds bestaande materie, baie waarvan reeds deur die skeppingsproses van Genesis 1:1 geskep is.

Hierdie proses gee vir ons ook die aanduiding van die werking van die Goddelike Drie-eenheid tydens die skepping. God die Vader is die Skepper, die Beplanner, deur die (SY) Woord, Wie dit wat geskep is, formeer en tot stand bring en die die Heilige Gees (as Skeppingskrag) in werking gestel word – sien die telkense verwysing na die aanwending van die Woord (laat daar... ens) tesame met Genesis 1:2, waar daar aangedui word hoe die Gees eers oor die hele aarde vaardig word vóórdat die skepping tot stand gebring word sodat dit na die formering daarvan, as gevolg en deur werking van die Gees, in werking gestel word, as 't ware in lewe gegiet word.

Só word hierdie spesifieke werkwoorde gebruik in verband met die bewerkstelliging deur God van die beskikbaarstelling van direkte sonbestraling (Genesis 1:3); formering van die atmosferiese uitspansel en die skeiding van water en atmosfeer (Genesis 1:6-7; 14-19); water en land (Genesis 1:9); die toedeling van lewenskrag van gewasse (Genesis 1:11); die inwerkingstelling op die vierde skeppingsdag van sonlig en nag vir latere dagsiklusse (Genesis 1:14); die beskikbaarstelling / inwerkingstelling van die bestraling van die son (lig) en die maan en die sterre tot voordeel van die biosfeer op aarde (Genesis 1:16); die formering en inwerkingstelling van voortplanting van water- en vlugvermoë van gevleuelde diere (Genesis 1:20, 22); van die formering van die diereryk en kruipendes (wat insekte insluit) elk volgens sy soort (Genesis 1:24-25).
Ten opsigte van die mens se skepping word beide die woorde gebruik (Genesis 1:26 vgl Genesis 1:27; 5:2) asook ten opsigte van die skepping en inwerkingstelling van hemel en die aarde (Genesis 1:1; 2:4). Hierdie dui aan dat, net soos in die geval van die hemel en aarde wat aanvanklik opnuut of oorspronklik geskep is, die mens ook as nuwe, unieke oorspronklike wese geskep en met spesifieke unieke eienskappe bedeel is deur God. Alles wat omtrent die mens bekend is, dui daarop dat die mens van meet af aan met unieke kwaliteite en vermoëns bedeel is hier op aarde, terselfdertyd spirituele (geestelike) as fisieke wese.

Maar wat nog duidelik blyk, is dat die tydperk van skepping van die hemel en die aarde as geheel nie vasstelbaar is nie. Slegs die begin van die vyfde dag en daarna, weet ons dat die dag-tydperk 24 uur is, want dié is deur God ingestel uitsluitlik en uniek vir die gerief en tydsbepaling deur die mens. God is 'n tydlose Wese en het dus nie tyd nodig nie en dus weet ons nie hoe lank, in ons bekende tydformaat gemeet, die vroeëre skeppingsdae was nie.

As mense dus die Woord verstaan - en dit is slegs moontlik met toewyding aan die Woord onder leiding van die Heilige Gees (Johannes 14:16-18, 26; 15:26 Lukas 12:12; 1 Korintiërs 2:10-16; 1 Johannes 4:1-6) - sal hulle nie so rondflenter met ander se bespiegelings nie en veral nie met die onsinnige Darwinistiese tipe evolusieteorie nie. Hulle sal verstaan dat daar verskeie tydperke van lewe op aarde was, wat van tyd tot tyd uitgewis is en nuwe lewe die plek daarvan ingeneem het, volgens vaste ontwerp- en skeppingspatrone wat deur God vasgelê is.

Dit is dus ook baie verkeerd van sommige om te beweer dat die ganse skepping, wat hemel en aarde in die sin van die planetêre stelsel en kosmiese heelal insluit, slegs ongeveer 6 000 jaar oud is óf dat die huidige skepping in ses 24-uur dae geskep is, terwyl dit slegs volgens die Woord, die laaste twee skeppingsdae (vanaf dag 5) is wat 24-uur siklusse had.

Kobus de Klerk

  • 11

Kommentaar

  • Beste Kobus

    Dit is verstommend dat jy steeds die Bybel voorhou as ‘n wetenskaplike handboek waarvolgens God se skepping verduidelik kan word.

    Jou verduideliking oor die ontstaan van ‘dag en nag’ vat die koek. Maak ’n draai by
    http://www.universetoday.com/59707/what-causes-day-and-night en dan daarna by
    http://www.planetsforkids.org/planet-jupiter.html en jy sal sien dat die son ‘nêrens opkom en ondergaan nie en dat wat ons as dag en nag sien eintlik gebaseer is op ons eie foutiewe waarnemings.
    • ‘Dag en nag’ verskil dus soos ‘dag en nag’ oral in God se skepping. Oor Jupiter kan jy lees dat:
    • All planets in the Solar system orbit round the Sun. The Earth takes just over 365 days, so the Earth’s year is 365 days. It takes Jupiter 11.9 of the Earth’s years to make its orbit round the Sun.
    • Although Jupiter’s orbit, and therefore its year, is so much longer than the Earth’s, its day is much shorter. The Earth turns on its own axis, turning away from the Sun and so giving us day and night, once every 24 hours. Jupiter spins round much faster, turning on its axis once every 9.84 hours!
    • This fast spinning gives rise to very strong weather patterns in the clouds which surround the planet and so its appearance changes rapidly.

    Lees ook gerus onder http://phys.org/news/2015-01-planets.html How are planets formed? En jy sal agterkom dat jy nie die Bybel kan gebruik om dit te verduidelik nie.

    Ja Kobus – God het inderdaad ‘geskep’ maar op ’n totaal ander wyse as wat jy lesers probeer wysmaak aan hand van jou Bybeluitleg.

    So eintlik is indeling van ‘dag en nag’ ook verkeerd en begin ‘nag’ op aarde wanneer die sonlig verdwyn en ‘dag’ wanneer dit weer verskyn en kan ons nie ’n natuurverskynsel wat ons ‘nag’ noem opdeel en ’n stukkie aan die ou en nuwe ‘dag’ toeken nie. Daarom begin ‘dag’ en ‘nag’ so in die Bybel.

    As ons dan werklik ernstig begin raak dan sal sal jy tot die slotsom kom dat ‘tyd’ eintlik nie bestaan nie want in ’n heelal waar alles stilstaan is daar nie ‘tyd’ nie. Tyd in die gewone sin van die woord is dus ’n illusie geskep deur ons foutiewe waarneming van gebeure in die heelal.

    Laat dit met jou goed gaan.

    • Kobus de Klerk

      Boot
      Kyk nou jou irrelevante en niksseggende antwoord hierbo. Hoe is dit moontlik dat jy nie kan verstaan wat ek skrywe nie? Waar kom jy aan die goed wat jy kwytraak? Jy maak bewerings wat ek byvoorbeeld hoegenaamd nie maak nie. Byvoorbeeld, op geen stadium het ek gesê dat die Woord vir ons verduidelik presies hoe die planete geskape is nie, tog insinueer jy dat ek het. Jy is so bevooroordeeld en antagonisties dat jou skrywes al minder en minder relevant raak. Selfs Jaco sien dit raak want dit is al so ooglopend. Jy probeer Jaco afkraak maar jy is nie in staat om enigiets wat hy sê, te weerlê nie. Sy begrip vir die Woord wat hy hier deel, is veel meer sinvol as jou onbegrip.
      Dit sal nie help jy reageer hierop nie. Die gesprek met jou gaan ongelukkig nêrens heen nie. Dit het geen nut vir enigiemand nie. Jy verkondig jou eie storie en kies jou eie 'bronne' wat nie sin maak nie en boonop sal iemand anders net ander bronne kan kies uit die massas kettery wat op die internet beskikbaar is, wat verskil van joue. Jy steun dus op wankelrige opinies van ander wat jy uitkies om jou te pas. Maar met die Woord en die uitleg van die Woord, het dit niks te make nie. Die Woord is objektief en standvastig en onveranderlik (Psalm 119:89; Jesaja 40:8; Mattheus 5:18; Matteus 24:35; Markus 13:31; Lukas 21:33) en weerstaan die talle ketterye wat jy so aanhaal. Tog is jy so verdwaald dat jy gedurig aan die Woord torring en die Woord verdraai en selfs verwerp om by jou persoonlike kettery te pas. Byvoorbeeld, jou sogenaamde interpretasie van die skeppingsgebeure in Genesis is hoegenaamd nie te versoen met die Woord nie en daar is sekerlik talle ander voorbeelde ook, soos jy probeer maak het oor Moses se vermoë om te kon skryf, wat jy ontken het en toe later heeltemal in sirkels begin argumenteer het met Jaco daaroor, net omdat jy die Woord verwerp en dan verdraai in baie belangrike opsigte.
      Kobus de Klerk

  • Môre Kobus

    Ek hou baie van die manier waarop jy dit wat ek nog altyd, sonder 'n indiepte bestudering van die Bybel, in my eenvoud glo. Vinnig gelees en sonder bestudering van jou skrifverwysings, maak dit vir my sin.

    Wat my pla, is die manier waarop jy na andersdenkendes verwys: "Die arme Spiritueel-verdwaaldes“ “saamgeflans” “darem 'n verwysingsraamwerk te gee“ en "sal hulle nie so rondflenter met ander se bespiegelings nie“. Dit klink vir my neerhalend en sarkasties en pas nie by die toon van die res van die skrywe nie. Om te verskil is goed; om in liefde te verskil is beter.

    Magriet Hugo.

    • Kobus de Klerk

      Hallo Magriet,
      Dankie vir jou reaksie.
      Ek is jammer as dit vir jou pla, die manier hoe ek na sommige se reaksie en hul sienswyses verwys.
      Ek kan vir jou sê dat ek al baie jare hier deelneem en ek kan jou verseker dat die diegene wat met ons verskil, nie skroom om hul openlike antagonisme en veragting jeens en verdraaiing van die Woord en draer daarvan te kenne te gee nie - daar is wel egter uitsonderings, soos Jaco. Oor al die jare heen het ek ook agtergekom dat hulle verskil weens die feit dat hulle verdwaald is en dikwels moedswillig is, veral in die geval van sommige agnostici en mense wat sê dat hulle gelowiges is. Wat ek dus van hulle sê, word nie as skeltaal of beledigings bedoel nie, maar is inderdaad woorde wat die feitelike stand van hul oortuigings daarvoor en die onderliggende redes asook die wyse waarop hulle dan met die Woord omgaan, weergee.
      Om eerlik te wees en die feite te weergee soos hulle gevind word, ook ten aansien van die antagoniste van sommige jeens die Woord, is nie om sarkasties of neerhalend te wees nie. Soms is die feite en die waarheid daaromtrent, nie aangenaam nie en help dit nie om dit te probeer verdoesel nie. Dink nou net hoe voel die HERE oor sommige dinge wat mense dikwels moedswillig omtrent Hom en SY Woord kwytraak en kyk hoe HY daarop reageer ... ek het tot daardie besef gekom dat diplomasie nie gepas is in sulke omstandighede nie, nadat ek besef het hoe sterk die HERE Jesus Self daaroor voel en hoe sterk HY Self daarop reageer en die waarskuwing wat Hy daaromtrent rig (sien gerus weer Mattheus 12:33-37; 23:27, 33) en HY het dit sekerlik nie as beledigings bedoel nie, maar as waarskuwings ...
      As jy wil, kan jy gerus al die Woordgedeeltes wat ek weergee, nagaan.
      Groete,
      Kobus de Klerk

  • Chris Dippenaar

    Soos altyd moet mens maar net die Bybel onder Kobus se neus druk om te demonstreer dat sy argumente kinderlik en naïef is. Die hele idee dat God eers die "bestanddele" skep in Gen.1:1 en dan begin in vers 2 om die lat aanmekaar te timmer is heeltemal afhanklik van die manier waarop hierdie verse vertaal is in baie Bybels. Daar is egter baie Bybels wat dit anders doen:
    Jewish Study Bible: Gen.1:1 When God began to create heaven and earth - 2 the earth being unformed and void, with darkness over the surface of the deep and a wind from b God sweeping over the water - 3 God said, "Let there be light" ....
    NRSV: Gen.1:1 In the beginning when God created [of 'when God began to create'] the heavens and the earth, 2 the earth was a formless void and darkness covered the face of the deep, while a wind from God swept over the face of the waters. 3 Then God said, "Let there be light" ...
    A Mechanical Translation of the Book of Genesis (Benner): 1 in~ Summit he~ did~ Fatten “Elohiym [Powers]” At the~ Sky~ s2 and~ At the~ Land 2 and~ the~ Land she~ had~ Exist Confusion and~ Unfilled and~ Darkness Upon Face~ s Deep.sea and~ Wind “Elohiym [Powers]” much~ Flutter~ ing(fs) Upon Face~ s the~ Water~ s2 3 and~ he~ will~ Say “Elohiym [Powers]” he~ will~ Exist Light and~ he~ will~ Exist Light
    As Kobus nie kan sien dat hierdie gesaghebbende vertalings 'n reuseprobleem veroorsaak vir sy troetel-interpretasie nie, kan dit net wees omdat hy nie regtig belangstel in die waarheid nie. Volgens die skrywer van Genesis 1 skep God orde ('fatten') uit bestaande chaos. Hy skep nie chaos uit niks wat hy dan uitsorteer nie. Hierdie was weereens 'n geforseerde interpretasie van Augustyn waaraan Kobus sy verwerping van evolusie wil hang.

    • Kobus de Klerk

      Chris,

      Die vertalings waarna jy verwys, is net in jou oë gesaghebbend. Die NRSV, byvoorbeeld, is een van die sogenaamde 'moderne' vertalings wat vry vertalings prosesse volg en nie ten doel het om te vertaal ooreenkomstig die oorspronklike tekste nie, om nie eens te praat van die sogenaamde Mechanical Translation of the Book of Genesis wat jy op probeer steun, nie. Die talle werklike gesaghebbende vertalings, ignoreer jy mos maar, soos gewoonlik.

      En dan, wat gee jou as deurdagte ateïs dan die bekwaamheid of bevoegdheid om hierdie nuwe pogings te verkies bo, byvoorbeeld, die van die ouer vertalings, almal werklike deskundiges omdat hulle mense was wat hulle lewe aan God en SY Woord gewy en bestee het, in teenstelling met mense vandag wat dikwels sekulêre taalverwerkers is en in gevalle ook agnosties wat maar net die werk doen omdat dit daar is om te doen. Vandaar die onbetroubaarheid van sommige van die nuwer vertalings. Dit is ook die rede waarom verse somtyds ook sommer uitgelaat word.

      Wat die Jewish Study Bible aanbetref, kan ek vir jou sê dat hulle teen die Christendom is en dit dus in hul vertalings en besprekings gesien word.

      Maar selfs bogenoemde inaggenome, is die vertalings wat jy aanhaal, nie altyd onversoenbaar met die werklike kundige vertalings nie. Die verwysing in jou voorbeeld met verwysing na 'wind from God' is versoenbaar met die Gees van God, want wind word ook gebruik as metafoor vir die Heilige Gees van God (sien as voorbeeld die aanwending daarvan in Johannes 3:8 om 'n Geesvervulde mens te beskrywe en sien ook veral Handelinge 2:2 met die aankoms van die Heilige Gees). Die Griekse woord 'pneuma' wat ook wind beteken, word in nie minder nie as 200 gevalle vertaal met gees en die Gees en Heilige Gees van God. Die Hebreeuse woord 'rûaḥ' wat in Genesis 1:2 gebruik word, is die woord vir Gees van God, maar word ook soms met 'wind' vertaal - dit word ongeveer 232 keer in die Ou Testament met gees en die Gees van God vertaal en slegs ongeveer 92 keer as wind, maar dikwels dan ook met Geestelike betekenis, soos waar God Homself in die wind teenwoordig maak.

      Wat die uitleg van Genesis 1:1 aanbetref, is selfs in die vertalings wat jy noem, nie noodwendig teen die uitleg dat vers 1 momenteel losstaande is van die res van die verse in Genesis nie - welke in by verre die oorgrote meerderheid van die vertalings gebruik word. En dan ondersteun die feite wat bekend is omtrent die skepping, natuurlik die uitleg dat vers 1 momenteel losstaande is van die opvolgende verse. Daar is geen getuienis dat die aarde nie ook, pas na God dit aanvanklik geskape het, woes en leeg was, soos dit die geval was toe God met die huidige skepping begin het, nie. Daarom staan vers 1 op sy eie bene. Trouens, dit is te verwagte, want die lewe op aarde soos dit telkens bestaan het, was uitgewis en dan bly niks opsigtelik oor nie en dan word nuwe lewe geskep - dus, die 'beginning' waarna die vertalings waarna jy verwys, kan netsowel verwys na die begin van die huidige skepping op 'n reeds bestaande woeste en leë aarde.

      Die feite wat bekend is, bevestig ook op 'n aarde met verskillende skeppings, soos byvoorbeeld uit die fossielrekord.

      Natuurlik is God se skepping te versoen met SY Woord. Enige ander interpretasie, is 'n mistasting.

      Jou argumente hou dus nie water nie.

      Kobus de Klerk.

  • Chris Dippenaar

    Kobus, vir my is dit baie maklik om te erken dat Genesis 1 dalk vertaal kan word soos wat jy dit wil hê. Die Septuagint, die vroegste vertaling van die Ou Testament, doen dit dan op jou manier? Die punt is dat daar geen ooreenstemming is dat dit wel so vertaal moet word uit die Hebreeus nie. Jy gaan net so 'n groot probleem hê met Bybelkenners as met wetenskaplikes om jou interpretasie (van 'n spesifieke vertaling) te laat seëvier.
    Kom ons sê vir 'n oomblik, om vrygewig te wees, dat jou interpretasie van hierdie vertaling 'n 50% kans het om waar te wees, of selfs 95%, dit laat jou nog steeds met 'n probleem. Jy sien, Kobus, jy verkoop hier 'n tipiese argument van 'n prokureur. Jy dink dat as daar die skraalste kans is dat jou kliënt kan wegkom met iets dit beteken hy is 100% onskuldig. Wat jy egter doen is om hierdie prokureursargument op sy kop te probeer draai. Jy gryp 'n doodonskuldige ou van die straat af (Gen.1:1) en beskuldig hom van moord (jou interpretasie dat dit 'n moment verteenwoordig). As niemand kan bewys dat hy onskuldig is nie, word hy gehang.
    Die hele storie wat jy kwytraak oor Genesis 1 word genoem 'katastrofisme' en het begin met Cuvier in die 19de eeu toe hy gekonfronteer was met fossiele. Laat ons tog asseblief weet as jy afkom op 'n bron wat hierdie interpretasie noem voor die 19de eeu. Twee honderd jaar gelede het sy (en jou) interpretasies dalk sin gemaak vir Christene, maar vandag weet ons van beter. Jy sit met oorweldigende wetenskaplike opinie teen jou interpretasie, asook Bybelversies waaroor niemand kan saamstem oor die vertaling, wat nog te sê jou interpretasie daarvan. Weereens, om vrygewig te wees, as jy eerlik was met jouself sou jy gesê het dat jy so 5% seker is van jou saak, maar dit sal jy mos nooit doen nie.
    Daar is twee redes hoekom ouens soos jy 'n graf grawe vir julle geloof. FC Boot en Magriet verwys na die eerste rede: Julle tree nie op soos 'n Christene nie. Die tweede rede is dat julle argumente eenvoudig onnooslik is.

  • Kobus

    Jy sê vir Dirk: "Natuurlik is God se skepping te versoen met SY Woord. Enige ander interpretasie is 'n mistasting".

    Met ander woorde as jy sê iets is so, dan is enige ander opinie 'n mistasting. Komende van 'n man wat deur sy tande lieg oor Jupiter se mane en jou eie verbeelde spirituele intelligensie, dink ek dis bietjie dik vir 'n daalder om dit van enigiemand te verwag.

    Groetnis
    Thomas

  • Beste Kobus de Klerk
    Daar is net iets wat groter is as jou onkunde en dit is jou arrogansie .Kry jy nie skaam om oop en bloot onwaarhede te verkondig nie.

    Laat ek vir jou op die proef stel.Wys vir my waar ek geskryf het dat Moses nie kon skryf nie.Wat ek wel geskryf het en dit is op goeie navorsing gebaseer dat Moses nie die skeppingsverhale kon geskryf het nie, want die een is in ballingskap geskryf en die ander tydens die Konings.

    Dit was dus beide na Moses se dood.Dit beteken nie dat Moses nie kon skryf nie, maar soos dit gegaan het omdat daar is lank gepraat is voordat daar geskryf is, wel oor dit kon gepraat het.

    Daar word bv van mak diere gepraat in die verhale.Wel honde is al 12000 jaar gelede mak gemaak, terwyl, kyk gerus na die Joodse jaartelling, Adam en Eva +- 5775 jaar gelede deur God geskep is.En dit is meer as 6000 jaar nadat honde (wolwe) mak gemaak is.

    Jy staan dus op saam met Jaco op wankelbene en daarom verwerp ek jou aantyging dat ek God se Woord verwerp.Ek volstaan dus by my standpunt dat die Bybel ‘n geloofsboek is en nie ‘n wetenskaplike handboek nie-soos jy dit probeer maak.

    Weet jy ooit wat geloof is?

    Laat dit met jou goed gaan.

    • Kobus de Klerk

      Boot
      Jou byvoeglike name vir my reflekteer eerder op jou, let maar op die volgende:
      Jy het te kenne gegee dat Moses nie die Pentateug kon skrywe nie. Die enigste manier hoe dit waar kan wees, is as jy kan bewys hy kon nie skrywe nie. Maar jy erken indirek dat hy wel kon skrywe, dus, op watter basis sê jy hy was nie die outeur van die Pentateug nie? Jy kan nie, terwyl die teendeel ook deur Jaco ook aan jou uitgewys is, naamlik dat die HERE Self bevestig dat Moses omtrent Hom geskrywe het – tog verwerp jy dit sondiglik soos 'n agnostikus.
      Jy moet dus aanvaar dat Moses die Woord soos dit in die Pentateug vervat is en so georden is, wel neergeskryf het omdat hy kon en omdat dit sy erns was, juis as blywende rekord vir toekomstige geslagte. Daar is verskeie aanduidings in die Ou Testament van opdragte om sulke belangrike dinge op skrif te stel. Jy moet onthou dat Moses sekerlik een van God se grootste profete was en dat hy, nes die profete wie hom opgevolg het, seer sekerlik God se mededelings en instruksies en wense op skrif gestel het vir latere verwysing deur deur die volk.
      Jy maak melding van die Ou Testamentiese boeke wat kwansuis eers gedurende die ballingskap ongeveer 700 – 400 vC geskrywe is. Maar ongelukkig het jou geneentheid om jou te laat mislei deur die argumente van agnostici wat 'n punt daarvan maak om die Woord te probeer diskrediteer – welke jy ywerig navolg – die oorhand oor jou insig en begrip vir die werklikheid gekry. Jy sien, die situasie is eenvoudig dat die rabbyne gedurende die ballingskap gewoon die ou rekords oorgeskrywe het en dit is 'n verskynsel wat vandag nog plaasvind – die Woord word telkens in herdruk uitgegee. Destyds is dit noukeurig met die hand 'vars' oorgeskrywe, maar dit reflekteer steeds die ou rekords. As jy dit ontken sal jy seker ook, byvoorbeeld, ontken dat die King James Version nie uit die 17 de eeu dateer nie, maar slegs sedert die datum van die jongste herdruk daarvan nou onlangs. Tog is dit sinneloos om so iets te wil beweer, maar skielik is dit nou vir jou nie moontlik as dit by die Ou Testamentiese geskrifte kom nie ... dan ontken jy dit geredelik.
      Dan die ouderdom van die aarde, mense en mak diere. Jou onkunde en gebrek aan insig in die Woord blyk hieruit baie duidelik, dieselfde fout wat 'n sekere geloofsgroep maak om na die genealogieë in Genesis te verwys asof die woorde se betekenisse daar dieselfde is as die moderne ekwivalente.
      Maar voor jy verder hieromtrent uitgewys word, eers dit – nou dat dit jou pas, aanvaar jy skielik die genealogieë van Genesis vir jou argument as korrek ... hoe so? So val jy verward rond met jou argumente.
      Maar nou verder – jy sal net reg wees omtrent die berekening as jy drie dinge kan waarborg – al drie.
      Eerstens, dat die jare van Genesis dieselfde tydsduur was as wat ons vandag onder die term 'jaar' verstaan. Maar jy kan nie. Ons volg die Gregoriaanse jaarberekeninge van 1582. Nou maak jy die fout om te dink dat die oerjare van pre-vloed en post-vloed se verwysing na 'jaar' dieselfde betekenis en tydsduur het. Selfs die Hebreeuse kalender verskil ook en inligting omtrent hulle jaarberekeninge het eers baie lank na die vloed en Noag rugbaar geword, na die uittog uit Egipte vir doeleindes van Godsdiensoefening.
      Jy kan dus glad nie aandui hoe lank 'n oerjaar in die tyd van Noag en sy nageslag tot by Abraham op die vroegste, was nie. Dit is waarskynlik dat oerjare baie langer tydperke beslaan het as vandag se twaalf maande jaar.
      Jy bespiegel dus oor die ouderdom van die aarde, omdat jy nie 'n idee het hoe lank 'n oerjaar was nie.
      Tweedens moet jy ook kan waarborg hoe lank Adam en Eva in die Paradys gewoon het voordat hulle uitgeban is. Eers daarna het hulle kinders gehad. Jy weet dus nie wat die antwoord daar is nie.
      Derdens moet jy kan waarborg dat daar geen gapings in die Ou Testamentiese genealogieë is nie. Dit kan jy nie, want dit is bekend dat daardie tydperk se genealogieë nie so volledig is nie, maar dat daar lede uitgelaat is en dikwels net die belangriker lede vermeld is. Dus is die genealogieë van Genesis nie so direk opvolgend soos jy wil voorgee nie en kan die ouderdomme van die skepping glad nie met verwysing daarna uitgewerk word nie.
      Laastens sal jy moet kan bewys dat die betekenis van 'vader' en 'seun', soos dit in Genesis aangewend word, dieselfde is as wat ons vandag onder daardie begrippe verstaan – jy kan nie. So beteken die woord 'ab' vir 'vader' enige van die volgende – vader, grootvader, voorvader. Die woord 'ben' vir 'seun' beteken enige van die volgende – seun, kleinseun, familielid, kind.
      Dus, as daar in Genesis staan dat iemand 'n seun had, kan dié persoon na verwys word as voorvader (met hoevele geslagte tussenin) wat 'n kleinseun had, welke by name genoem word. So kan jy hoegenaamd nie die ouderdom van die skepping van die mens met verwysing na die genealogieë nie.
      Uiteraard is jy so mislei en verward dat jy nie die Woord verstaan nie, omdat jy jou so laat mislei deur die opinies van agnostici en sekulariste en judaiste te wat net so verward is soos jy.
      Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Chris,

    Al die 'ismes' wat jy aan die uitleg van die Woord wil koppel, sal niks aan die korrekte uitleg daarvan verander nie. Jy sien, almal slaan spreekwoordelik hul hand aan die 'interpretasie' van die Woord, veral ook agnostici soos jy. Almal. Daar is haas geen mens wat nie deur die Woord gefassineer word nie, al is dit vir om verskillende subjektiewe motiewe.

    Sommige, soos jy en ander wat ook dieselfde probleem het, sal enigiets wat hulle te lese kry en verslind en dan alles wat vir hulle sin maak, as gangbaar verkondig - maar sin maak in hul beperkte insig in wat die Woord aanbied.

    Die probleem vir julle is dat die Woord hoofsaaklik 'n Geestelike (Spirituele) betekenis het en al die feite wat daarin voorkom, aangewend word om die Spirituele daarvan te ondersteun en te verduidelik en in konteks te plaas.

    En siende dat die opgeskrewe Woord dus primêr 'n werk van Spirituele aard is, word die Woord slegs sinvol en korrek uitgelê deur diegene wie erkenning verleen aan die Gees van God (Johannes 14:24-26; Jeremia 33:3) en die Gees van God opsoek, Wie in die eerste plek die Woord geïnspireer het, in hul hantering en uitleg van die Woord. Daarom sal jy ook vind dat talle mense dit nie doen nie en vandaar die verskeidenheid van 'interpretasies'. Jy natuurlik, sal dus die interpretasies van sulke sekulêre kommentators en agnostici verkies bo die Godgerigte uitleg van ware gelowiges.

    Jy as ateïs kan jou natuurlik dan ook hoegenaamd nie uitspreek oor hoe dit is om deur die Gees van God gelei te word nie omdat jy gewoon geen begrip daarvoor kan toon nie. Jy besef nie eens soiets is moontlik nie, want jy wil nie eens erkenning verleen dat die Gees van God leef nie...

    Selfs jou onsinnige aanmerking dat ons as ware gelowiges 'onnooslik' is, is, sonder dat jy dit so bedoel, weereens bevestiging van die kwaliteit en integriteit en betroubaarheid van die Woord - duisende jare gelede is dit al so opgeteken dat julle die Waarheid en Wysheid van God's Woord as sulks sal beskou en bestempel, en die rede daarvoor - 1 Korinthiërs 1:18-21; 2:13-15. Lees dit gerus weer en besef wat werklik aangaan.

    Maar dit is die ingrypende invloed en teenwoordigheid van die Gees van God Wie maak dat alle mense, altyd, vir watter rede ookal, so verdiep raak in SY Woord... na alles, God is die Skepper van die mens... dink maar net aan jouself, en hoeveel jy as ateïs van jou tyd spandeer aan God en SY Woord, en mense soos Richard Dawkins ens., al is dit nou vir die verkeerde motief.

    Julle wat agnostici is en wat so baie van jul tyd en energie spandeer in die bestudering van God's Woord, is in daardie opsig een van die mees voor die hand liggendste bewyse van die feit dat God lewe en SY ingrypende teenwoordigheid oor die hele aarde heen... dit sou eenvoudig net nie moontlik wees of gebeur het indien God nie gelewe het en die Skepper van die heelal was nie. Niks wat nie bestaan, het soveel Krag, Mag en invloed vir soveel eeue, oor al die mense wat op aarde leef en geleef het, nie.

    Kyk maar of jy vir jouself dit kan verwerk, en wees eenmaal in jou lewe eerlik met jouself en erken dat God leef, maar dat jy dit ontken bloot omdat jy dit nie so wil hê nie.

    Terloops, Christelike liefde word nie gedemonstreer deur verdraagsaam en selfs bevorderlik te wees teenoor opsetlike antagonisme en verdraaiing en pogings tot verdagmaking van die HERE Jesus Christus en SY Woord nie. Wys net hoe min jy van ware Christelike liefde weet. Maar Christelike liefde is juis daarin geleë om, ten spyte van hoe aanstootlik en antagonisties jul pogings daartoe is, tog maar te volhard en julle ter wille van julself te wys op jul dwaling en poog om julle tot insigte te bring, vir julle eie beswil, selfs al word mens agterna daaroor getakel. Christelike liefde is dus 'n onbaatsugtige omgee-liefde, al is die toepassing soms streng omdat die omstandighede dit verg.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top