Ek het vandag die film oor Eugéne Marais gesien en na my mening is dit 'n topgehalte-werk, met spelers uit die boonste rakke. Dit is met die ou motors, perdekar en ou huis met meubels van die era in die regte tydperk geplaas, sodat 'n mens die atmosfeer van daardie jare goed kan aanvoel, ook die doenigheid op so 'n plaas.
Dit beeld net een greep uit sy lewe uit, die tydperk wat hy op die plaas Rietfontein by 'n gesin gewoon het. Daar het hy navorsing gedoen oor bobbejane en termiete en ook ander diere bestudeer en aangehou as troeteldiere. Ook sy morfienverslawing word goed uitgebeeld.
Daar is ook liefdesintriges en jaloesie (sal ek sê van hoogstaande gehalte?).
Myns insiens kom sy digkuns egter nie tot sy reg in die prent nie, miskien was daar nie genoeg tyd daarvoor nie.
Ek is al vir jare 'n liefhebber van Marais se gedigte en die mistieke en soms depressiewe aura om hom en sy werke. Sover ek kan onthou was die eerste werk van hom wat ek gelees het, toe ek nog 'n tiener was, Burgers van die berge, 'n gewilde en nie noodwendig wetenskaplike boek oor bobbejane. Later jare het ek Die siel van die mier gelees in 'n Engelse vertaling, 'n boek wat my bekoor het met sy verrassende en interessante besonderhede oor diere en veral termiete. In omtrent 1974 het my suster my sy biografie as geskenk gegee, die titel is Die groot verlange, geskryf deur Leon Rousseau.
Synde self 'n ietwat pessimistiese mens is sy gedig Skoppensboer vir my 'n openbaring:
'n Druppel gal is in die soetste wyn:
'n traan op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.Die een wat deur die nag
ons pret beloer
en laaste lag
is Skoppensboer.Gewis en seker is die woord:
die skatte wat ons opvergaar,
ondanks die sterkste slot en koord
word net vir mot en roes bewaar.Net pagters ons
van stof en dons
om oor te voer
aan Skoppensboer.Die heerlikheid van vlees en bloed;
die hare wat die sonlig vang
en weergee in 'n goue gloed:
die dagbreek op elk' sagte wang
en oë vol van sterreprag
is weerloos teen sy groter mag.
Alreeds begin die rimpel sny;
oor alles hou die wurm wag
en stof en as is al wat bly:Want swart en droef,
die hoogste troef
oor al wat roer,
is Skoppensboer.L'Envoi
Gewis is alles net 'n grap!
Ons speel in die komedie mee
geblindoek met 'n lanferlap
wat selfs die son 'n skadu gee.Wat treur ons tog?
Viool en fluit maak nog geluid;
en lank die nag wat voorlê nog.
Al kan ons nooit volmaaktheid raak,
nog blink die oog en gloei die huid
wat heel die winter blomtyd maak.Dus onverlee
lag ons maar mee
met elke toer
van Skoppensboer!
Tiens Pretorius