Dagsê, julle klomp woedende Christene,
In my verbeelding kan ek julle al sien sit, so voor julle rekenaars. Moue opgerol, salpeter wat uitslaan om die oksels, skuim om die mond, terwyl die sleutelbord so kort-kort misgekap word om tog hierdie agnoste eens en vir altyd op hulle plek te sit met bladsye en bladsye vol Bybelversies.
As ek sou sê julle is heeltemal mal, sal ek daarvan beskuldig word dat ek beledigend is. Dis darem ’n snaakse ou wêreld, is dit nie?
Eintlik kry ek julle Christennasie bitter jammer, ek simpatiseer met julle, want dit moet darem seker bitter wees vir julle om te aanskou hoe kommervry ateïste is, terwyl julle krepeer van die sondelas wat julle skouers elke dag nog krommer maak. Dit moet julle harte breek om te sien hoe ons deur die lewe gaan, sonder daardie skuldgevoel, en glad nie eens ’n teken dat ons gaan neerval op ons knieë en sondes bely nie. Daar is ook nie eens ’n beduidenis van bekommernis dat ’n ewige straf van ween en kners op die tande vir ons wag nie. Ek moet erken dat as ek ’n Christen was, sou ek darem gewonder het hoe de hel is dit dat sulke klaplopers so lekker leef, terwyl ek soveel gewig op my skouers moet dra. Ek glo nie dit sou my eens getroos het as ek daaraan dink dat ek eendag hemel toe sal gaan, terwyl hulle in die ewige vuur sal beland nie.
Soos dit is, voel ek alreeds sleg daaroor dat Jesus vir my sondes aan ’n stuk hout vasgespyker is. Ek voel skuldig dat ek nie meer dankbaar teenoor hom is nie, maar hy kon darem eers die bleddie moeite gedoen het om my te vra het of hy vir my sondes kan sterwe. Nou voel ek soos die dag toe ek by die restourant ’n toebroodjie bestel het, en toe die rekening kom, is dit vir beeshaas en groente met sommer nagereg daarby ook.
En dis hoe dit met elke Christen gaan: die dag as hy gebore word, is hy sommer diep in die skuld by Jesus; ’n skuld wat hy alleenlik kan terugbetaal deur dood te gaan. Dis regtig ’n vrot transaksie wat julle daar ingedwing is. Dis soos om nog af te betaal op die huurkoopooreenkoms van ’n motor wat jy alreeds besit.
Wat alles nog vererger is dat iemand soos Jesus nooit eers bestaan het nie. Hy’s die skepping van die verbeelding van ’n wrede keiser van die Romeinse Ryk so tweeduisend jaar gelede. Hy kon sy onderdane nie beheer nie, toe dink hy maar hierdie Romeinse god, Jesus, uit, want hy het geweet die ou klomp bygelowiges sal skrik vir hom.
As storieboekkarakter, was Jesus nogal ’n goeie ou. Was dit nie hy wat gesê het as iemand jou klap, moet jy die ander wang ook vir hom draai nie? En het hy nie gesê dat jy jou vyande moet liefhê nie? Ek weet dis vreemde taal vir julle Christene, maar ek is absoluut seker hy het dit vir julle voorgeskryf. O, ek het skoon vergeet; niemand lewe meer volgens die Bybel nie.
Dis dan ook maar goed dat Jesus nie werklik bestaan het nie, want as hy sou terugkom en sien watter gemors julle van sy leerstellings gemaak het, sou hy vir seker weer teruggeklim het op die kruis.
Groete
Angus


Kommentaar
Apie Angus,
Al wat jy nodig had om te sê, sonder om so baie te boggem, is:
"Huh, boggem, wat gaan aan! Ek lees, maar verstaan nie; ek kyk,maar ek sien nie; ek luister maar ek hoor nie ! Ek weet niks! Ek verstaan niks, Duh, Duh, Duh"...
Maar toemaar, apie Angus, die HERE Jesus Christus kan al die onderskeidings tref, wat jy as apie nie kan tref, nie. En, die HERE weet darem wie my vyande is, en ook wie Sy vyande is, en wie hul eie vyande is, soos jy, apie Angus.
Soos ek elders ook sê, is julle apies op 'n vreemde manier tevrede met julle bestaanswêreldjie, soos jy dan ook hierbo bevestigend boggem en koggel - totdat die roofdier julle kom verskeur.
Kobus de Klerk
Beste oom Bobbejaan Kobus,
Hello Angus, my apie broer. Huh, boggem, wat gaan aan! Ek lees, maar verstaan nie; ek kyk, maar ek sien nie; ek luister maar ek hoor nie! Ek weet niks! Ek verstaan niks, Duh, Duh, Duh ... Wasie ROOFDIER ennie baas va' hom wat myne se gat en joue se ook ga' hap. Wie se vyand is saam me' wie en wat de fok vyand ek myself met wat?
Ek is nie besig om die kriptiese vierdeel-brief wat dit hierbo met spirituele insig verklaar te skryf nie.
Geniet jou dag (Chris 1:1)
Hi Angus, jy kom redelik intelligent voor. Ek bid dat Jesus jou oë sal oop maak. Want dink net hoe bly sal hy wees om jou as deel van sy huisgesin te hê.