Die windpomp
die windpomp het ratte
’n krukslag
en ’n glyer
waarsonder hy sou steier
hy kreun al jare
al hoor niemand hom dreun,
met sy rooi stert
sal hy wag ─
vir ’n stillenag
vir ’n bloulug dag
vir ’n kind se lag;
soos skapies stadig slurp
pomp en skrok die windpomp nog
die gorras blink droog,
dors tortelduifies knip oog
die kraaie kras tussen die kanotgras
môre sal jy jou geheim vertel
as die winde jou pype
laat roggel
en mense jou koggel
maar ek kan jou hoor
as ek luister met my oor,
hoor ek jou fluister in die stilte
oor die nooitvergete vlaktes
Kommentaar
Goed gedoen Morne!
Lekker Morné
Ek hoor nou nog die twee windpompe op ons kleintyd erf se brieke as hulle kreun teen die wind!
Pragtig Morné.
Jy het my weggevoer.
Dankie Anze, Andries en Margaret en LitNet ook, word daadwerklik op my hart gedra.
Wat is gorras?
As ons vir my oupa gaan kuier het op die plaas, het my speelmaatjie, Pietso, vir ons gewys hoe om gorras te grawe. In die droë rivierbedding grawe jy 'n gat, en as jy 'n rukkie wag, loop hy vol helder water. As jy haastig is, gryp jy 'n handvol nat sand, druk dit hard en drink aan jou duim, of laat dit teen jou arm af hardloop en by jou elmboog hou jy jou bekertjie.