Hello Chris,
Die volgende word aangebied oor die Bybel en letterkunde. Huidiglik lees ek Erich Auerbach se “Mimesis: The Representation of Reality in Western Literature” en is dit gelaai met insigte oor die lewe soos hy die werke van Homerus tot en met Virginia Woolf bespreek en toets aan hoe dit die wel en wee van die alledaagse vergestalt. Dit is vele beter as ‘n boek oor niks, eerder die oorvloed van die alledaagse en hoe om dit te verwoord.
Natuurlik is dit onmoontlik om reg te laat geskied aan die boek in 600 woorde en gaan slegs ‘n klein deeltjie aangeroer word.
Daar word ‘n studie in kontras gedoen tussen die gebeure waar “Odysseus” terugkeer en sy voete gewas word en sy huishoudster van ouds hom erken en hoe dit vergelyk met hoe die werklikheid vergestalt word in die Ou Testament.
In die Ou Testament is die daaglikse gang deurspek met die invloed van God met die goeie en slegte gevolge wat dit impliseer vir die persone in daardie verhale terwyl daardie invloed en manier hoe dit die daaglikse gebeure vorm geen sin sou maak vir die karakters in Homerus se verhale nie.
Dit sinspeel op ‘n voor die handliggende probleem dat die verhale van die Bybel maak grootliks volkome sin slegs wanneer dit met die Goddelike as agtergrond gelees word. Daar is dus begrip vir jou versoek dat dit nie as letterkunde verwerp moet word en word as sodanig respekteer maar hierdie bevestig die uitdaging wat die hoof gebied moet word.
Homerus word as meer realisties beskou, die alledaagse. “Odysseus” se voete word gewas, die litteken word erken en wanneer dit opgedoen is word gaan haal en aan die leser vertel, vergelyk dit met die karakters van die Ou Testament wat grootliks funksioneer in ‘n vertelling wat hulle verhouding met God uitbeeld.
Hoe sal die modern leser dit lees en nog steeds waarde daaruit kan put indien dit verg van die leser om dit as onwaar aftemaak. Dit is dalk hoekom die Bybel as sodanig nie so geredelik beskikbaar is vir die ongelowige leser op dieselfde vlak as letterkunde nie.
Dit word kontrasteer met die gebeure in die Nuwe Testament en die insig wat Auerbach in daardie werke identifiseer en formuleer hy ‘n argument wat aanvoer dat die Evangelies, Handelinge en Briewe is onmiskenbaar die begin van ‘n diep beweging die ontplooiing van ‘n nuwe historiese ontwikkeling. Dit het aansluiting tot ‘n innerlike hergeboorte en verandering, waar die woorde, sonde, dood en geregtigheid, nie net aksie, gebeure en aard aandui nie, maar fases is van ‘n historiese transformasie.
Indien dit aanvaar word as korrek dan beteken dit Auerbach het ‘n belangrike verandering in die aanbieding van die werklikheid identifiseer soos dit aangebied word in die geskrifte wat die Nuwe Testament opmaak en die omwenteling van daardie tyd vasvat.
Hierdie ontwikkeling gaan gepaard met die addisionele ontleding wat saamgaan met vele van die vertellings en die verskil in werklikhede uitbeeld. Wanneer die spies in Christus se sy gesteek word en die bloed en water kom uit dan moet dit gelees word in die konteks van die sakramente.
Om volkome sin te maak van die Nuwe Testament moet dit gelees word deur die bril van reeds bestaande betekenisse soos vasgevang in die teologie en in kontras staan tot die betekenis wat op eie terme in ‘n roman, gedig of toneelstuk gevind kan word.
In daardie konteks is Kobus dalk reg om te formuleer dat die Bybel nie letterkunde is nie, maar die mens se verhouding met God probeer opskryf en ‘n werklikheid van God aanvaar wat nie tot niet gemaak kan word nie, sonder om die kragtigheid van die werk in die gedrang te bring.
Baie dankie
Wouter

