Gereeld haal ek volledige verwysing aan uit verklarende woordeboeke omtrent die betekenis van die woord mite. Ek verwys met vrymoedigheid na hierdie bydrae uit vele getiteld "Angus: Woordeboeke en Bybels" van 8 Julie 2010.
Ek't geen illusie rakende Satan se telge op die werf wat met oorgawe verskeur waar ’n pêrel aan hul voete land. Enigeen wat werklik belangstel in my standpunt, sal wel uit my voorbeeld hierbo begryp hoe spreek als vanself.
Ek's pynlik bewus van verklaringe van die woord mite soos byvoorbeeld vervat in die Afrikaanse Woordeboek, HJ Terblanche, Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg 1966:
mi’te –s, [G, mythos woord, storie, fabel, mite], verhaal wat ontstaan uit die drang van primitiewe volkere om natuurkragte (dit wil die mens vrees inboesem, soos wind, see, donder, storm) te personifieer en te vergodelik, verhalende oorlewering met betrekking tot die godsdiens en die wêreldbeskouing van ’n volk; fabel; ongegronde praatjie.
Deur die jare heen het godsdiensboewe juis bewys hoe so ’n formele verklaring van die woord mite gebuit kan word. Durf ek rig dat die Bybel mites bevat, dan byt Kobus de Klerk en sy paranimfe my dat ek die Bybel as leuens en fiksie afmaak. My pleit dat ek die woord mite as ’n verhalende oorlewering met betrekking tot die godsdiens en wêreldbeskouing van ’n volk in my hart dra, pas nie hul agenda nie en daarom sal hulle vir hul aanklag daaruit suig dat ek ’n godslasteraar (ateïs) is en my tot voor die troon van GOD sleep.
Mites is nie leuens of fiksie nie.
Werklik en onwerklik, is die mees betekenisvolle verwysing daarna.
Mites is denkbeeldige vertolking van ons bestaan met ons harte. So is die Bybel in werklikheid ’n pragtige versameling mites. Die mites daarin, en ook in ander Heilige Skrifte, is die poetry van ons bestaan. Vir sommige (en in alle opregtheid vir my ook) kom mites soms as iets onwerklik tot ons gedagte en roep ek saam; hoe kan dit wees!
Mites is egter mites totdat GOD self dit werklik in jou hart maak. Geen mens kan vir ’n ander geloof gee nie. Mites dig die geheimenis in ons elkeen se besondere verhouding met ons almal se één Almagtige Lewende Skepper. Die godsdiens daarin laat ons deel word met die Geheel; die sterflike met die Onsterflike; die kind met die Moeder ...
Ja, mites is ’n treetjie die ewigheid in ...
Mites uit elke windrigting oor ons aarde, kan elk ’n biblioteek vol maak. Nie net is daar ’n verstommende ooreenkoms in die pragtige mites uit die Griekse, Noorse, en Romeinse nie, maar daar's ook dieselfde ooreenkoms tussen dié van baie ver en afgeleë kontinente soos Asië, die Amerikas, Oseanië en Afrika. Elk van die uiteenlopende kulture en beskawings ag hul mites heilig en bring dit diep uit hul geskiedenis saam.
Selfs wetenskaplike teorie val kwalik buite die grens van die mite. Die hartseer is egter wanneer in ’n gewilde reeks soos die sogenaamde Mythbusters, die woord mite karikaturiseer om afgeskets te word tot ’n verlies in ons geestelike bestaan. Om te ontkom van bespotting aan die woord mite, debatteer fundamentaliste dat ALLES in die Bybel FEITE is, en verval hulle tot tipiese oorlogshond met; "moenie jou god naby my god bring nie ..." EN, as jy nie meer gereformeerd is nie, dan is jy vanselfsprekend ’n agnos of ateïs hul VYAND!
Mag Jesus Christus ons Ewige God, self die mite van Sy menswording en bestaan ’n werklikheid in ’n ieder se hart maak en daarmee vrede bring vir elkeen wat hier lees.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, en katolieke liefde,
Cornelius Henn

