Die water wat verby is: 'n besondere eenheidservaring

  • 0

Titel: Die water wat verby is
Skrywer:
Johan en Ria Smuts
Uitgewer:
Kaapstad: Tafelberg
ISBN:
9780624054696

 

Klik hier om Die water wat verby is te koop by Kalahari.com.

Johan en Ria Smuts het bekendheid verwerf vir hulle samestellings van kortverhale, mét inleiding en aantekeninge, vir die skole se voorskryfmark, soos: Jangroentjie, Mosaïek, Japtrap en Pylvak. Die kortverhale in Die water wat verby is is egter hul eie maaksels en onder die gekombineerde outeursnaam Johan en Ria Smuts, teenoor die vroeëre JP en Ria Smuts.

Die rede vir selfs hierdie subtiele verandering blyk al gou uit die inleidende “Tydskrifverhaal” onder beide die outeurs se name, soos ook die laaste verhaal, “Stephen”, wat handel oor Etienne Leroux/Stephen le Roux. Tussenin verskyn nog twaalf kortverhale wat onderskeidelik as groeperings onder een van die outeursname, Johan of Ria, gepubliseer is.

Dit is egter uit die staanspoor duidelik dat die outeursname in hierdie bundel se geval nie ’n ongekompliseerde aanduiding is nie. Reeds in "Tydskrifverhaal"  is die metatekstuele aard van hierdie samestelling duidelik, en ook die ondermyning van die sogenaamde outeur. JP Smuts, Johan Smuts en Johan Septimus (laasgenoemde die skuilnaam waaronder Johan Smuts se eerste tydskrifverhaal verskyn het) is naamlik almal medeskrywers aan en verskillende personas van die outeur van “Tydskrifverhaal”. Om sake verder te kompliseer is Johan se vrou, Ria, ook as medeskrywer, kritikus én sy eggenote betrokke by die skryf van hierdie teks. By die ingebedde verhaal “Stem van die son” deur Johan Septimus, vorm ook die inleiding deur Johan en die kritiek deur JP en Ria deel van “Tydskrifverhaal”.  Die leser, wat hiervan moet sin maak en dus as medeskepper van die verhaal optree, is ook ’n besliste bydraer tot die betekenisvorming van die teks.

“Tydskrifverhaal” bevat ook heelwat besinning oor die aard van die tydskrifverhaal en uitgebreide kommentaar oor die verhaal “Stem van die son”. Dié metatekstuele bespreking lok die volgende opmerking deur JP Smuts oor Johan Smuts se teks uit: “Egodokument, metateks, postmodernisme, dekonstruksie. Die pynlike waarheid waarmee Johan Smuts sal moet vrede maak, is dat nie een van hierdie sake werklik meer nuut is nie …” Die aard van die outeur in die daaropvolgende verhale deur Johan en Ria Smuts is dus van die begin af onder verdenking, asook die aard van die “tydskrifverhale” wat onder hulle name deel is van die versameling. Is die verhale opsetlik geskryf volgens die voorskrifte soos in “Tydskrifverhaal” bespreek, of is dit juis ’n doelbewuste ondermyning van daardie sogenaamde eienskappe?

Selfs Ria se eerste verhaal, “Wat verby is, is verby”, met die verwysing na die titel van die versameling, is in ’n sekere opsig nóg ’n inleiding wat die aard van die (haar) volgende verhale bepaal. Sy sluit hierdie eerste verhaal, herinneringe aan ’n besoek aan haar grootworddorp, af met: “Ek het hier geloop op die spore van mense wat ek eintlik glad nie geken het nie … Dis húlle stories wat ek moet vertel” (67). Sy verduidelik dan voorts haar tegniek: sy sal hierdie mense se identiteite verdoesel, hul eienskappe deurmekaar klits, episodes omruil, gebeure versin, tyd en ruimte manipuleer en fiksie van hulle maak. Die spel tussen werklikheid en fiksie word pertinent aan die orde gestel: “Want dit is nie die werklike lewe wat ek rapporteer nie. Al wat werklik daaromtrent sal wees, is die onpeilbare omvang van die eensaamheid” (67).

Dit is dan ook die ervaring van eensaamheid wat die kern vorm van “Ek dra die blou steen in my hand”, “Hitte”, “Violetta” en “Die ballade van Anna Lourens”. Al vier hierdie verhale gryp in veranderde vorm ook terug na personasies en gebeure wat in “Wat verby is, is verby” kortliks as herinneringe aangeraak is.

Die temas van buitestanderskap, die liefdesdriehoek, ontrouheid in verskeie vorme en die aard van gesonde en swak oordeel van en oor mense kom ook voor in die verhale van Johan, met hier en daar die ooreenstemmende inhoudelike besinning tussen sy verhale en dié van Ria, soos in “Weduwee” (Johan) en “Soos ek dit wil hê” (Ria). Tipies van die verhale in hierdie versameling is eienskappe van die tydskrifverhaal waarop die inleidende verhaal die leser reeds voorberei het: die sikliese, noukeurig-beplande, treffende slot, die gebruik van die agternaperspektief en die raamvertelling. Daar is ook, getrou aan die aard van die postmoderne teks, die spel met verskeie ander verhale en tekste: vergelyk byvoorbeeld onder andere Hennie Aucamp se “Armed vision”, wat op sy beurt weer gebruik maak van NP Van Wyk Louw se gelyknamige gedig uit Tristia, “Die uitdraaipad” van Elise Muller en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins.

Die verwysing in “Tydskrifverhaal” na JP Smuts se tydgenote AH de Vries en Hennie Aucamp en húl sukses met kortverhale is ’n verdere waarskuwing aan die leser om nie die daaropvolgende verhale net as gewone tydskrifverhale te lees nie. Hier word beslis deur Johan en Ria Smuts werk gemaak (alle woordspelings bedoel!) van hul wye ervaring en kennis van kortverhale, teorie en tegniek: “alles is tegniek” (23). In een van die laaste verhale, “Die Contessa van die Veneto”, word spesifiek verwys na al die maskers in die stad Venesië en die spreker wonder: “Is Venesië een groot maskerbal? Is alles wat ek sien een groot maskerbal? Is alles wat ek sien een groot illusie? Bedek die elegante maskers en die mooi fasades die sinkende stad se ware identiteit? En wat is daardie identiteit?” (231). Dié vrae is beslis van toepassing op heelwat karakters in die versameling, maar ook, uit die aard van die verhale, op die outeur(s) self: Wie is werklik aan die woord, hoeveel redigering is deur wie gedoen, wie se teks is dit eintlik? Waar hou die spel tussen werklikheid en fiksie op?

Met die laaste saamgeskrewe teks, “Stephen”, wat handel oor Johan (as JP?) en Ria se ontmoetings met en betrokkenheid by Etienne Leroux/Stephen le Roux, is die klem baie sterk op die aanduiding van die outobiografiese gebeure en persone (met stawende dokumentasie). Tog is daar die tergende besef dat slegs teks oorgebly het, dat hulle nooit werklik die mens agter die donkerbril kon deurgrond nie, en dat die waarheid nie so maklik agterhaalbaar is nie. Johan skryf oor ’n grap wat Stephen hom vertel het: “Die reine waarheid, het Stephen (of is dit dalk Etienne?) my verseker, maar ek weet nie. Ek wantrou romanskrywers omdat ek weet dat party soms moeilik tussen waarheid en fiksie onderskei” (249). Opvallend is ook die verskillende perspektiewe van Johan en Ria op Stephen, vanuit hul onderskei ervarings met hom en sy werk. Met Stephen le Roux se dood moet Johan oor hom skryf asof hy reeds dood is: “Dit klink soos ’n toneel uit ’n Etienne Leroux-roman. Net hierdie keer, Stephen, is dit nie fiksie nie” (265). Aan die einde van hul skrywe oor Stephen wonder Johan egter: “Is dit ’n verhaal; ’n verslag van enkele ontmoetings, miskien selfs van ’n vriendskap; ’n huldeblyk aan ’n skrywer wat ons aangegryp het? Of het dit bloot los flardes gebly?” (266).

Die slotsin van die slotverhaal en bundel lui: “Miskien is dit waaroor ons hier geskryf het: die onpeilbare omvang van die vrees” (266). En die “hier” sou ook verwys na die hele versameling. Die vrees wat juis lê in die onpeilbaarheid van die menslike identiteit, eensaamheid en verganklikheid.

As geheel bied die bundel ’n besondere eenheidservaring – Ria het immers haar M-studie oor die eenheidsbundel gedoen (21) – en ’n mosaïek van metatekstuele insigte, maar ook die lees van treffende, eenvoudig gekonstrueerde kortverhale soos, onder andere, “Violetta”, “Weduwee”, “Soos ek dit wil hê” en “Die contessa van Veneto”.

Johan en Ria Smuts kan gerus voortgaan met teksproduksie deur hul verskeie personas; ’n verskeidenheid lesers sal dit meer as net interessant vind.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top