Die WAT bly "verstommend gesond as neëntigjarige"

  • 0

Johan Holtzhausen, Deon Meyer, Marianne Vorster, Rufus en Ilse Gouws, Tersia en Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur (foto verskaf)

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal het onlangs as deel van die viering van sy 90ste bestaansjaar 'n konsert met Elna van der Merwe en Zorada Temmingh as kunstenaars in die US Konservatorium aangebied. Die jaarlikse prystrekking vir Borg 'n Woord is deur Deon Meyer, vanjaar se beskermheer, en Johan Holtzhausen, voorsitter van die WAT Trust, waargeneem.  Nanna van Niekerk van Bethal en Thomas West van Tennessee in die VSA het elkeen 'n Sanlamprys van R25 000 gewen. West is 'n vertaler  van beroep en skryf en praat Afrikaans vlot. Borg 'n Woord gaan voort en persone wat nou deelneem, kom in aanmerking vir 2017 se prystrekking. Volledige besonderhede is by www.wat.co.za.  Rufus Gouws, ondervoorsitter van die WAT Direksie, was die spreker van die aand.  Hieronder verskyn die toespraak deur Rufus Gouws by die geleentheid.


 

Goeienaand, dames en here, en baie welkom by hierdie negentigste verjaarsdagviering van die WAT. ‘n Besondere woord van welkom aan elkeen wat help skryf of meegewerk het aan hierdie monumentale werk. Baie dankie aan elkeen wat in die direksie en trust dien of gedien het, en ‘n groot dankie aan ons ondersteuners, vriende en donateurs wat vanaand teenwoordig is.  Danksy ons donateurs kan ons ons nog verwonder aan die wonder van Afrikaans.

Soos enige negentigjarige het die WAT vreugdes en frustrasies beleef, hoewel die WAT as  negentigjarige die voordeel het dat daar nie meer baie portuurdruk is nie. Maar andersoortige druk was en is daar wel deeglik.

Nadat die werk in 1926 begin is, het dit lank, te lank, geneem voordat die eerste deel (A-C) in 1951 verskyn het. In daardie stadium van Afrikaans se ontwikkeling is die publikasie van die vroeë dele allerweë as ’n volksgebeurtenis beskou en aangekondig.  Dié dele is redelik taalpatrioties en onkrities deur resensente ontvang.

Woordeboeke word deur gewone taalgebruikers as bronne van taalgesag beskou. Reeds as ’n jong woordeboek is dié gesag van die WAT wyd aanvaar – in studeerkamers en laboratoria, op die kansel en voor die regbank.

Maar die vrolike jeuglewe van die WAT het gou in ’n middeljarige en middelalfabetkrisis beland toe die Woordeboek lelik vasgeval het in die bewerking van die letter “K” – ’n letter wat vir enige Afrikaanse leksikograaf ’n uitdaging is weens die omvang daarvan, maar wat vir die WAT ’n amper onoorkomelike spoedwal was.

Die eerste deel van die letter “K” is in Deel V bewerk – wat in 1968 verskyn het – en die redaksie was vir vier woordeboekdele kniediep in “K” tot en met die verskyning van Deel VIII in 1991 waarin die woord kywiehouer “K” se einde aangekondig het. Resensente, die kywiehouers van die leksikografie, se mooi woorde was iets van die verlede en die WAT het onder fel kritiek deurgeloop. Vir die WAT was die resensies van die “K”-dele ’n keerpunt, maar ewe belangrik: hierdie resensies was grootliks die stimulus vir ’n wyer teoretiese gesprek oor die Afrikaanse leksikografie. Die WAT was teiken en katalisator van die leksikografiese gesprek, maar anders as wat van ’n katalisator verwag word, naamlik dat dit ’n  verandering veroorsaak sonder om self te verander, het die WAT self ook verander – ten goede.

As ’n regstreekse uitvloeisel van die fel kritiek het die WAT ’n gesprek gereël waarna die resensente, enkele taalkundiges en teoretiese leksikograwe genooi is om die kritiek te bespreek. As gevolg hiervan is die dapper besluit geneem om midde-in die alfabetiese vordering die redaksionele stelsel ingrypend aan te pas. Die WAT is in 1990 en 1991 in sy geheel herontwerp en het daarna op ’n nuwe en teoreties verantwoordbare manier voortgegaan met die redaksionele werk.

Ná die krisis van “K” het “L” blyke gegee van ’n nuwe en stewige greep op die leksikografiese lewe.

Vir die WAT was die afgelope ongeveer 25 jaar ’n opwindend tydperk met ’n nuwe vonkel in die ouer wordende woordeboekdame se leksikografiese oog en geen sprake van bysiendheid nie. Daar is vernuwend gedink en versiende opgetree. Die WAT het verander van ‘n instelling wat bloot ‘n groot woordeboek saamstel tot ‘n sentrum vir leksikografiese aktiwiteite. Hoogtepunte in hierdie tyd sluit die volgende in:

  • Die vaktydskrif Lexikos word sedert 1991 uitgegee; van 1996 as amptelike mondstuk van Afrilex, die African Association for Lexicography en die toonaangewende internasionale tydskrif.
  • Ook ander woordeboeke word gepubliseer, dikwels saam met outeurs van buite en altyd deur na-uurse werk van die WAT-redaksie, soos Woordkeusegids: ‘n Kerntesourus van Afrikaans (1992), Etimologiewoordeboek van Afrikaans (2003) (in samewerking met die Instituut voor Nederlandse Lexicologie, Leiden), Sinoniemwoordeboek (2006, saam met Pharos), en Basic Afrikaans (2010, saam met Pharos).
  • Op haar amperse oudag raak die WAT ook digitaal geletterd en elektronies beskikbaar: as ‘n CD en ‘n aanlyn woordeboek (2003).
  • Reeds in 1995 ontwerp die WAT opleidingskursusse vir leksikograwe, dosente, studente, onderwysers en leerders en raak die redaksie betrokke by die praktiese opleidingsessies aan hierdie groepe.
  • Ná die stigting van PanSAT, die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad, is daar ’n nasionale woordeboekeenheid vir elk van die elf amptelike Suid-Afrikaanse tale gestig. Die WAT as nasionale woordeboekeenheid vir Afrikaans het ’n leidende rol gespeel en oor taal- en kleurgrense heen beweeg om dié gewaardeerde rolmodel vir die ander eenhede te word.

2004 breek aan …
Maar ouer word geskied nie sonder skete en skokke nie. Op die kruin van die golf,  vlugvoetig woord vir woord werkend deur die tweede helfte van die alfabet, word die WAT in 2004 eensklaps in die grootste krisis van sy bestaan gedompel – ’n krisis wat “K”se probleme na kinderspeletjies laat lyk het. Sedert 2004 (toevallig die jaar waarin Willem Botha as die jongste hoofredakteur die WAT se woordmeester geword het) tot 2008 word die staatsubsidie van R2,3 miljoen tot R1 miljoen verminder. En geen hoofredakteur sou kon doen met net dié miljoen.

Die hoofredakteur kon nie meer net woorde by woorde voeg nie maar moes nou die daad by die woord voeg. Hy moes nou nie net leksikograaf wees nie, maar ook bemarker, fondswerwer, finansiële beplanner en, helaas, heel dikwels traumaberader.

Personeelvermindering en ander besparingstrategieë is in 2004 in werking gestel. Die WAT word tans steeds deur die kleinste redaksie in sy bestaan van nege dekades saamgestel. Dit is nie net in ’n woordeboek dat besparing voor oorlewing kom nie. Dit moes in die kantoor van die WAT verwerklik word.

Maar besparing alleen kon nie die projek red nie en bemarking en fondswerwing het fokusareas van deurslaggewende belang geword.  Ten einde doeltreffend fondse te werf, moes die profiel van die WAT verder verhoog word en baie sukses is aanvanklik met fondswerwingsdinees behaal. Baie dankie aan GT Ferreira en Johann Rupert, wat die eerste twee dinees aangebied het en saam met Marcus Jooste en Erna en Paul Meaker ons eerste miljoenrand-donateurs was.

Blootstelling in koerante, oor die radio en op televisie het ‘n noodsaaklikheid geword en derhalwe is baie tyd en energie aan bewusmaking deur die media bestee.  Daar is byvoorbeeld begin met ‘n weeklikse aanhaling uit die WAT in verskillende koerante. Daar is ook ‘n weeklikse Woord van die Week-rubriek en ‘n maandelikse taalrubriek op RSG.  Die Nuutskeppingskompetisie saam met RSG en die ATKV by die US Woordfees is ‘n ander suksesvolle bewusmaker van die WAT, maar dit is primêr ‘n bewusmaker van die skeppende krag van Afrikaans.

Die Borg ‘n Woord-projek het groot sukses ten opsigte van bewusmaking én fondswerwing behaal. Dit het ‘n wen-wen-karakter deur die konsep van ‘n beskermheer of –vrou, ‘n sertifikaat aan elke deelnemer en ‘n stewige prysgeld van Sanlam wat saam met die kreatiewe span van GivenGain bedink is. Vir die 90ste bestaansjaar is daar twee pryse van R25 000 elk van Sanlam te wen en elke deelnemer kry gratis toegang tot die Aanlyn WAT.

Die WAT word tans gedra deur sy donateurs, groot én klein, wat sorg vir byna 70% van sy jaarlikse begroting van R5 miljoen. Die WAT is steeds ‘n dinamiese en produktiewe maatskappy danksy sy personeel en ondersteuners se liefde vir Afrikaans en die personeel se bereidwilligheid om die hand aan die woordeboekploeg te hou en nie om te kyk nie.

Die werk aan die gedrukte en aanlyn WAT word gelyklopend gedoen. Na beraming sal die gedrukte WAT uiteindelik uit twintig dele bestaan. Dit gaan nog ’n tydjie duur en voortgesette ondersteuning en toewyding is nodig. Dit is geen vreemde verskynsel dat ’n omvattende woordeboek 90 jaar en ouer word en steeds nie verby die letter “S” is nie. Die WNT, dit is Het Woordenboek der Nederlandsche Taal, is eers ná 148 jaar voltooi. Dertig jaar nadat daar met dié woordeboek begin is, verskyn sy eerste aflewering in 1882: van A – ajuin. (verouderde woord vir ‘n ui.). Daar was eweneens fel kritiek. Ene Van Vloten het die volgende spotrympie geskryf:

O, luid weerklink de lofbazuin!
Het Woordenboek kwam tot ajuin
In dertig jaren al! dat heet
Zijn tijd voorzeker welbesteed!
‘t Duurt nu geen dertig jaar gewis
Eer ‘t tot azijn genaderd is.

Maar uit die 90-jarige WAT-perd se bek:

In Deel XI van die WAT waar die letter “N” bewerk word, word die volgende voorbeeldsin in die artikel van die woord neëntigjarige gegee: “Hy is verstommend gesond vir ’n neëntigjarige” en by negentig is 'n voorbeeldsin: ”Hy is ’n man met ’n vol program en hy is negentig jaar.”

Aan die WAT sê ons vanaand in haar eie woorde: “Bly verstommend gesond as neëntigjarige” en handhaaf die vol program. Hartlik geluk met nege dekades van werk, woorde en wen; hartlik geluk met veertien dele wat nie minder nie as 68 cm op die boekrak beslaan en wat vir die Afrikaanse taalgemeenskap sonder twyfel dié skatkamer van Afrikaans is.

Hieronder is foto's van die geleentheid (alle foto's is verskaf):

WAT90.2

wat90.3

wat90.4

wat90.5

wat90.6

wat90.7
wat90.8

WAT90.9

wat90.10

wat90.11

wat90.12

wat90.13

wat90.14

wat90.15

wat90.16

wat90.17

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top