Die ware godsdiens: nog ’n herbesoek

  • 9

Wouter maak in sy kommentaar die fout om Joodse met Judaïese te verwar. Onkunde en insiglose vooroordeel verblind die ontdekking van die inherente waarheid.

Daar is vandag, nes toentertyd, báie Jode wat nié Judaïste is nie, maar Christene wie nog steeds die ou Mosaïese wette eerbiedig en gebruik in soverre dit in die hedendaagse konteks gebruik kan word en nodig is om te gebruik, sans die 613 rabbiniese presepte waarop die Judaïsme gefundeer is.

Dít is die verskil – die Judaïsme, soos dit vandag nog daar uitsien, het begin met die 613 rabbiniese presepte wat gedurende die verstrooiing en daarna ingeskryf en bygevoeg is, by die suiwer Joodse/Abrahamiese Godsdiens. Dié presepte onderskei die Judaïsme en die outentieke Joodse, of Abrahamiese/Mosaïese Godsdiens.

Die outentieke Joodse, of Abrahamiese/Mosaïese Godsdiens het sy ontstaan by Adam en dié se verhouding met God (al het dit skeefgeloop) en soos dit ontwikkel het deur Noag, Abraham, Isak, Jakob (Israel) en sy kinders tot vandag toe. Daardie Godsdiens het die Messias verwag en toe die Messias, die HERE Jesus Christus, die profesieë van daardie ware Godsdiens kom bewaarheid en vervul, het daardie Godsdiens Hom onmiddellik aanvaar – maar nié die Judaïste nie – ’n sekte wat tot vandag toe, nié die Messias aanvaar nie.

Dus, ja. Die HERE wás as Jood opgevoed, maar in die are Godsdiens wat deur Hom in vervulling gebring is - juis nié in die presepte, die Judaïsme, nie. Wat Hy gaan onderrig het in die tempel (het al op twaalfjarige ouderdom begin daarmee), was juis die profete, wie gewaarsku het teen dié indringer religie in die ware Godsdiens (wat in Hom verwesentlik word – die Christendom). Daarbenewens het die HERE in soveel woorde met die fariseërs, soos die Judaïste daardie tyd genoem was, verskil oor dié valse rabbiniese religie en hulle kinders van die duiwel daaroor genoem, juis dáároor.

Enige mens met die geringste insig kan dit mos sien, maar dít is waar julle dan mos nou ook uit die bus val.

Chris se stortvloed is die toonbeeld van ontkenning van die werklikheid. Hy projekteer die perspektief van sy piepklein geslote groepie ateïste op die kontrasterende, magtige  werklikheid – uit desperasie omdat hy géén sinvolle antwoord kán hê vir sy ewe irrasionele lewensbeskouing nie. Die getuienis, of dit vanuit die geledere van die massiewe geloofskorps is, of vanaf die sekulêre Pew, of die ewe sekulêre Oxford universiteit se studie resultate, dui algar daarop dat die Christendom steeds toeneem en veld wen, selfs en veral waar dit tevore nie ingang had, nie. Verder is daar in Europa ’n aansienlike verskuiwing (wat deur sommige onkundige sekulariste verkeerdelik as verlies aangemerk word) vanaf die tradisionele formele doktrine-georiënteerde kerke na die meer Charismatiese, Gees vervulde kerke en ’n geweldige groei in laasgenoemde, oraloor.

Chris en Angus maak wilde bewerings van Bybel vervalsing – maar lewer géén bewyse nie, al praat Angus van “bewyse” daar ís gewoon nie sulke bewyse nie, want insiglose ontkenning is geen bewys nie – wat ons wél weet, is dat dít, die bewering van vervalsing, juis ’n óú truuk is van agnostici om andersins verdoemende getuienis teen hulle standpunte die hoof te probeer bied – óú nuus, eeue oud al, om die waarheid te sê. Dus net swape soos hulle, van nog daarvoor.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 9

Kommentaar

  • Hello, 

     
    Kobus verwys weer na Pew en is stil oor die drie honderd miljoen Christene wat hy in Sjina gevind het terwyl Pew dit nie kon bevestig nie. 
     
    Met so 'n onbetroubare gids, wat 'n openbare dokument wanvoorstel en die algemeen aanvaarde konsep van die verhouding tussen Judaïsme en die Christenskap nie kan snap nie, is daar enige stelling komende van sy kant wat geglo kan word? 
     
    'n Eerste toets sal wees, wie en waar vergader die "ware godsdiens" vandag en wie is die segsman van bogenoemde abstraksie. 
     
    Soos bevestig, verkwansel beide Cornelius Henn en Kobus de Klerk hulle eie maaksels hier en kan beide met gemak verwerp word. 
     
    Dit is moontlik vir my om oor die Judaïsme en die Christenskap te skryf en die historiese ontwikkeling te bevestig maar wat sal die punt wees? 
     
    Die ingeligte leser weet en verstaan die band tussen die twee gelowe en vir sulke lesers sal dit nie nuus wees nie, terwyl 'n gelowige van Kobus de Klerk se kaliber nooit die werklikheid sal aanvaar nie. 
     
    Bogenoemde brief was dus grootliks vir sy gehoor wat sy standpunte alreeds ondersteun. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
  • CorneliusHenn

    Kobus, jou insiglose miskenning is nimmer te nooit goddelike waarheid nie. Jou waan blyk einde niet tot in alle ewigheid te stink.

     
     
  • Die bewyse is daar voor jou. Dis 'n goeie voorbeeld van niemand is so blind as hy wat nie wil sien nie. Ek het nie net gesê die eerste twee hoofstukke van Matteus is later bygevoeg nie, ek het bewyse gegee dat hulle aanvanklik nie daar was nie, jou ou leuenaar!

  • Kobus de Klerk

    Angus,

    Mensig! Besef jy dan nie eens wat jy self sê nie?

    Kyk mooi – jy sê “Ek het nie net gesê die eerste twee hoofstukke van Matteus is later bygevoeg nie, ek het bewyse gegee dat hulle aanvanklik nie daar was nie” – besef jy wat jy dan sê?

    Maak nou jou Bybel oop – en siedaar! Mattheus hét ’n hoofstuk 1 en ’n Hoofstuk 2! En jý sê daar was aanvanklik nie sulke hoofstukke nie – só – hóé is hulle nóú daar as hulle nie later bygevoeg is, nie?!

    Maar dit is met dié klas van begriploosheid en insigloosheid wat julle die Boek van alle boeke wil diskrediteer?

    Jy praat in ieder geval mos snert – dit is nié so dat die inligting van die eerste twee hoofstukke ontbreek het nie, én jy het nié bewyse (ek sien jy poog te verwys na absolute minderheidsopinies wat jy waarskynlik weer verkeerd interpreteer) vir jou snert verskaf nie. Trouens, die oorwoë mening (gaan soek nou in die lys van bronne wat ek vir Wouter en Chris in vroeëre kommentaar elders in my onlangse briewe verskaf het) is dat Mattheus juis die eerste boek van die Evangelies was, júís met die inligting van die eerste twee hoofstukke intakt en dat dit dan juis Markus moes wees wat bietjie later geskrywe is en moontlik by Mattheus notas vergelyk het.

    Jy sal moet beter doen as dit, anders mors jy my tyd.

    Groete en probeer weer.
    Kobus de Klerk

  • Angus argumenteer dat die eerste twee hoofstukke van Mattheus later bygevoeg is en Kobus ontken dit :  "só – hóé is hulle nóú daar as hulle nie later bygevoeg is, nie?!" —  wil hy weet en beskuldig dan sommer  vir Angus van begriploosheid en insigloosheid. Ek volg nie lekker nie Kobus. Argumenteer jy dat die feit dat die twee hoofstukke nou wel daar is as bewys dien dat hulle nie later bygevoeg kon word nie? As jy wil antwoord sal ek dit op prys stel as jy dit baie kort hou.
    Panda

  • Kobus de Klerk

    O, dit is baie duidelik, Panda, jy volg glad nie lekker nie. Jy kwoteer my kommentaar hier in die helfte van die gesprek, heel uit pas en konteks met die vorige deel van die gesprek.

    Lees weer, en lees maar stadig, die keer. Help nie ek herhaal alles hier wat reeds verbatim hierbo staan in die kommentare nie. Om te verstaan wat daar staan, verg so bietjie begrip...

    Lees sorgvuldig wat Angus oor verwyt, en lees my antwoorde daarop, dan sal jy hopelik sien jou vraag aan my, was oorbodig.

    Wat my eie posisie aanbetref, teenoor die van Angus, is dat al die hoofstukke in plek was, en nie later  bygevoeg is, nie - die eerste twee inkluis. Die hipotetiese antwoord wat jy vir my voorhou, is nie my argument nie, maar die tipe wat ek van enige van julle kan verwag.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Kobus,
    Enige poging tot gesprekvoering met jou loop telkens maar daarop uit dat die ander party, veral indien dié nie jou siening oor geloof ondersteun nie, hom/haar blootstel aan jou arrogante en neerhalende haatspraak en of die ander wang moet draai, of tot jou vlak van gesprekvoering moet daal. So — los dit maar!
    Ek sal dit op prys stel as jy die aangeleentheid maar hier laat want ek wil nie graag met jou gesels nie en sal dus voortaan ook nie meer jou bydraes lees nie.
    Panda

  • Kobus de Klerk

    Toemaar, Panda, jou eie vorige benadering en styl met en oor my, weerspreek jou geheel en al. Dus moet ek aanvaar dat daar 'n ander rede vir jou opmerking hierbo is - naamlik dat jy agtergekom het wat aangaan, nadat jy sorgvuldig gelees het wat  tussen my en Angus plaasgevind het, maar dit net nie wil erken nie... ook in orde so.

    Wat die sogenaamde vlakke aanbetref, is dit maar ek wat moeite het om op julle onkundige vlak (verseker nie as belediging of sogenaamde haatspraak bedoel nie, maar stel van 'n blote heersende feit) vir julle dinge te probeer aan die verstand bring. Moet jou dus nie daaroor verbeel of aanmatig nie.

    Jou betrokkenheid by gesprekvoering is altyd jou vrye keuse, so ook wat jy lees.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top