Die waarheid van my hartland

  • 0

Het jy al aan tafel gesit en gehoor hoe die mense om jou mekaar in die rede val en ou stories vertel? Het jy al in Eshowe stil gestaan en na die wind geluister? Na stemme wat sing van goedheid en genade? Riana Scheepers sit aan tafel saam met haar familie op ’n KwaZulu-Natalse plaas en luister na wat hulle vertel. Foto’s: Erwin Niemand.

Ek vat weer die lang pad huis toe. Al bly ek reeds amper 20 jaar in die Boland, is “huis toe” nog maar steeds Natal. KwaZulu-Natal, dit is hoe die provinsie nou genoem word, en dis reg so, want waar ek grootgeword het, was ons nie aldag seker of ons in Zoeloeland of in Natal is nie. Die grense was veelvuldig en verspreid, daar was nooit ’n strak, goed-gedefinieerde grens tussen Natal en Zoeloeland nie.1 Bowendien, ons het naatloos oorgeskuif van Afrikaans praat in Vryheid en Utrecht en Newcastle na Zoeloe in Mhlabatini, Nkwalini, Nhlazatshe.2

Ek weet nie van een ander provinsie in Suid-Afrika waar die wit inwoners so moeiteloos geleer het om die heersende swart taal te praat soos die Natallers nie. In al die ander provinsies van onse land het die swart mense Afrikaans of Engels aangeleer, maar nie in Natal nie; hier het die wit mense leer Zoeloe praat. En so is dit nog steeds.

Ons is die mense wat kan tongklap met woorde soos ukuxhasa, isigcino e iqaqa; ons kan tongsleep met name soos Hluhluwe en Nhlazatshe.

Ons ry deur die landstreek van heuwels, ek en my reisgenoot, op, Noord-Natal toe. Ons ry beslis nie met die N2 nie; ons ry die agterpad deur die ruwe platteland sodat ons die landskap kan sien, mense kan sien, dat ek kan sien en hoor en vóél wat hier in my land gebeur. My ore spits, my hart word vol van die rondheid van die heuwels, my hart loop oor van die taal wat ek op die wind hoor wanneer ek my kop by die oop ruit uitsteek.

These mist-covered mountains
Are a home now for me.

Ek wonder altyd wat iemand anders dink wanneer hy of sy deur KwaZulu-Natal ry. Waar lê die hart van dié klein, groen provinsie wat só min mense ken?3 Is dit in polsende, kosmopolitaanse Durban vol vakansiegangers en toeriste, Durban wat ruik na soet suikerriet en ’n soel see? Is dit in die golwende Middellande met sy herehuise op landgoedere en sy kunstenaars en artieste? Is dit in hierdie Vallei van ’n Duisend Heuwels waaroor die mis lê en die oorlogskrete nog steeds weerklink?

But my home is the lowlands
And always will be.

Ons ry noord, weg van die suikerrietlande en weg van die gul avokadobome van die suide.

’n Vriend sê eendag vir my as hy ’n arm, hawelose mens moet wees, dan moet dit tog maar in KwaZulu-Natal wees. Want doef, val die avokadopere op die grond, doef val die mango’s, die lietsjies, die papajas, doef, die botterklappers wat oopbreek en waaruit jy die sappige pitte kan haal wat smaak soos sonskyn en grond. In hierdie geil landskap van bosvrug en boom kán ’n mens oorleef.

Ons ry verder noord, verby Eshowe waar ’n yl wind “esho-we esho-we” deur die hoë bome suis.

By Nkwalini klim ons motor die pas uit, ons kom nader aan die berge van Babanango waar die mis só dig oor alles kan lê dat jou hele wêreld ’n klam, wit nag word en elke vertroude boom en klip ’n ander plek. Vir dae lank kan die mis so oor alles lê, en ás dit gebeur, dan weet elke kind van hierdie landstreek: as jy nie veilig tuis is nie, gaan niemand jou kom soek nie. Jy bly waar jy is totdat die mis vanself weer lig en die son deurbreek en jy kan sien waar jy is.

Baba, nango, Pa, hier is ek, het die
verdwaalde kind in die mis geroep.
Baba, nango, het hy geroep, maar
niemand het hom gehoor nie.
Die klein mfana roep nog steeds, sê die ou, ou mense vir die kinders wat grootoog sit en luister. Luister maar – as jy alleen loop in die klowe en jy hoor ’n kind wat roep na sy pa, dan loop jy nie agter sy stem aan nie, jy los alles waarmee jy besig is net so en jy kom huis toe.

Melmoth, Ulundi – die berglandskap van Louwsburg met sy doringbome en bloeiende aalwyne. Hoër as menshoog staan die skurwe aalwyne en bloei ’n bloedrooi gloed teen die kim.

Dit is ’n ander land. Dit is nie die sagte suide van die Indiese Oseaan nie; dis harde wêreld, njala-wêreld, afgesonderde sangoma-wêreld; die mense van die land bou nog hul ronde huise van klei en dek dit met ’n dik laag dekgras, op die tradisionele manier.

Huis.

Some day you’ll return to
Your valleys and your farms
And you’ll no longer burn
To be brothers in arms.

By die huis gekom groet die werksmense. Ag hemel, tog, moet net nie dink dit is ’n paternalistiese, sentimentele baas-Klaas-gedoente hierdie nie. Ons mense doen dit nog al die jare omdat hulle hou van sing en nie omdat iemand hulle aangesê het en hulle nederig ingestem het nie.

Ons is hier vir my onblusbare ma se verjaarsdag, en hulle sing vir haar geluk met haar verjaarsdag en hulle sing vir my, Ntombenhle die meisiekind, wat weer tuis is. Maak nie saak of ek net ’n rukkie hier sal wees nie, ek word verwelkom.

Through these fields of destruction
Baptism of fire
I’ve watched all your suffering
As the battles raged higher.

Dit is nege mans wat in ’n ry voor ons inval. Makhulu vat die eerste noot met sy diep basstem. Een vir een val die ander mans in, hul stemme diep en rond, en hoog en yl, elke stem perfek in harmonie. Hulle sing van God wat groot en goed is, van droefnis en geluk, van ’n ver reis oor baie dae; foutloos harmonieer hulle ’n lied van goedheid en genade.

And though they did hurt me so bad
In the fear and alarm
You did not desert me
My brothers in arms.

My onblusbare ma maak haar kinders om haar etenstafel bymekaar. My broer, die boer; my skoonsus, die een wat éintlik boer; my suster, die boer; my swaer, die soldaat uit ’n vorige era, wat nou boer; en ek en my man, wat ook boer, al is dit nie in KwaZulu-Natal nie.

There’s so many different worlds
So many different suns
And we have just one world
But we live in different ones.

Ons drink wyn uit die Boland en eet springbokfilet en braai-ertappels en kuier soos ons altyd kuier, ’n raserige tafel met baie mense wat mekaar vreeslik in die rede val met alles wat gesê moet word.

Vertel my tog die storie, vra ek my broer; uit jou eie mond wil ek dit hoor. Vertel my van die kind wat deur die luislang ingesluk is, want sowaar as vet, dit wat ek gehoor het, kán nie waar wees nie!

Maar dit ís waar! Wat hét jy gehoor? Die kind wat weggeraak het. Drie dae lank was hy weg. En op die vierde dag – almal het al gedink dat hy dood is – daar kom hy toe sowaar terug. ’n Luislang het hom verstrengel, sê hy, en toe halfpad ingesluk. Op ’n manier het hy weggekom, ek kan nie meer onthou hoe nie.

Nee, sê my broer, jy hét dit verkeerd. Dit was nie ’n kind nie, dit was Mfanafuthi, ’n jong man – hy is nou net ouer as 20 – maar dit het so twee jaar gelede gebeur. Hy het in die berg gaan jag, onwettig, die bliksem, maar toemaar. Agter Kasteelberg het ’n slang vanuit ’n boom op hom “gespring” en hom blitssnel verstrengel, sy arms teen sy lyf vasgedruk. Dit was ’n groot luislang, minstens ’n meter en ’n half, soos hy agterna kon oordeel aan die man se gepratery.

Ja, sê my pa, dit is nie meer so algemeen nie, maar ’n mens krý nog sulke tamaai slange. In Pongola se wêreld het hy net nou die dag nog ’n luislang van 11 voet gesien. So dik soos sy voorarm.

Nee!

Ja!

Die slang het stadig, maar seker, die lewe uit die man begin wurg, maar hy is nie dood nie. Vir langer as ’n dag lank het die slang hom só vasgeknel sonder om ’n aks te los. Ná die tweede dag dat hy so in die slang se kronkels was, toe begin die slang hom lek.

Lek?

Ja, hulle lek hul prooi om hom glad te maak en die slukproses makliker te maak. En toe sper hy sy bek oor Mfanafuthi se kop. Hy het sy bek so halfpad oor sy kop gekry, maar toe het die man weer met sy laaste kragte begin worstel, en met dié het hulle van ’n hoogte afgerol en in ’n donga beland. Hy het hom katswink geval, maar weggekom van die slang, wat met die vallery sy greep op hom gelos het.

Hy het ’n dag lank in ’n doringbos gelê en wag dat die slang wegseil. Toe het hy huis toe gekom. Nog nooit het hy iemand gesien wat só verskriklik lyk nie, sê my broer.

Dit kan nie waar wees nie!

Gaan vra maar vir dokter Alston, hy het hom ná die tyd behandel.

Het julle ooit gesorg dat Mfanafuthi sielkundige berading kry?

Nee, waar op die aarde kry ’n mens sielkundige berading in dié geweste?

Ek glo die storie. Die waarheid van my hartland is erger as sy stories.

Now the sun’s gone to hell
And the moon’s riding high
Let me bid you farewell
Every man has to die.

Ons begin oor ander dinge gesels. Oor daardie pragtige nurkse stuk grond wat nou die ongerepte en wonderlike Ithala-wildtuin is. Sekerlik die mooiste wildtuin in ons land, nie net vanweë die verbluffende diere- en voëllewe nie, meer as 80 soogdierspesies nie, maar ook vanweë die asemrowende landskap. Dertig duisend hektaar van luiperdkloof en arendberg en renostervlak en njalaruigte en kameelperdhoogte. Tambotie en papierbas en stinkhout en rooi-els. ’n Rivier vol stil krokodille. Aalwyne rooi soos bloed. Meer as die helfte van die wildtuin is onbegaanbaar en ontoeganklik vir die nuuskierige en toeristerige mens; die grootste gedeelte van daardie verruklike stuk aarde geheel en al ongerep nét dier en die natuur s’n.

So 30 jaar gelede, sê my pa, kon hy ’n gedeelte van daardie stuk grond gekoop het vir R1 per morg.

Pa! Hoekom het Pa dit nie gekoop nie?!

Omdat hy nie daardie tyd R1 per morg gehad het nie.

My swaer gesels oor ander dele van Suider-Afrika wat nié meer ’n wildlewe het nie, van ’n oorlog wat die land verniel en verwoes het.

My swaer weet, hy was daar. Sy oë loop ’n ver pad, die pad wat ek al meer as een keer in sy oë gesien het.

Het hy ooit berading gekry vir sý son wat ’n helpad geloop het? Het hy ooit berading gekry vir sý maan wat verdrink het in ’n rivier van donker bloed?

Nee, waar op die aarde kry ’n mens sielkundige berading in dié geweste? In hierdie lieflike, harde land oorleef jy – as jy nie doodgaan nie.

En, wonder ek baie laat in die nag, in my eie bed, die bed waarin my ouma dood is, waarin ek baie lekker slaap juis omdat my ouma in daardie bed dood is en só my linie bevestig het: Hoe gaan dit régtig met my onblusbare ma en onverstoorbare pa, hulle wat een bebliksemse dag op hierdie einste werf aangeval is en vir die gryp van ’n paar werksmense se loongeld nikswerd en vir dood agterlaat is?

Het hulle ooit berusting gekry?

Of berading?

Nie in hierdie geweste nie.

But it’s written in the starlight
And every line on your palm
We’re fools to make war
On our brothers in arms.4

Ek slaap diep en soet. Ek slaap in die arms van my minnaar en my man, in die bed waarin my ouma dood is, in my land wat my omhels soos ’n lieflike luislang wat my intiem bemin en weer sal laat gaan.

Op die wind hoor ek stemme van manne wat sing van ’n tuiskoms en ’n afskeid. En die wind wat “esho-we esho-we” om die plaashuis suis.

 

1 Die tuisland KwaZulu (land van die Zoeloes), soos aangewys deur die regering van Suid-Afrika ingevolge die Wet op Bevordering van Bantoe-selfregering van 1959, het bestaan uit geïsoleerde streeksgebiede van die veel groter historiese Zoeloeland. Dit was derhalwe nie geografies of territoriaal homogeen nie. Ulundi was die hoofstad.

2 The official language of Zululand is Zuluian, a tongue that consists primarily of hooting, wild gibberish and frenetic dancing.” Uncyclopedia, the content-free encyclopedia.

3 Zululand’s geography is made up of 45% dirt, 23% grass and 55% Atlantic (sic) Ocean.” Uncyclopedia, the content-free encyclopedia.

4 "Brothers in arms", Dire Straits.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top