“Op dees aarde is daar min dinge wat my nog sal verbaas”. So hoor ek Oupa eenkeer oor ’n saak of gebeurtenis sê. Die presiese detail ontgaan my nou, maar sy woorde, soos so baie ander, bly in my geheue vasklou.
Dit is waaroor my gemoedsbekakking vandag handel. Aanvanklik het ek gedink Oupa is verkeerd en dat mens wel deur sekere dinge of optredes verras kan word, al het jy aanvanklik die slegste prentjie geskilder. So is dit dan met die inherente eerlike opregtheid van mense. Vir sommige van die mense wat my behoorlik ken, sal dit klink of ek nou skielik die “heiliger-as-jy” hoedjie opsit, wyl ek streng gesproke die kappie van skuld behoort te dra. En ja, hulle sal seker op ’n manier reg wees; behalwe dat ons Vader my aan die bors gegryp het ’n tyd gelede en laat kies het: jy stap óf saam met my, of sonder – “make up your mind”. Maklike besluit, met ernstige deurvoer gevolge. “Life changing”.
In hierdie tydvak van my gesinslewe, werk en geestelike bewandeling, is daar een ding wat poog om my knaend aan te kla, en dit is hoeka die voorheen ontwykende waarheid van eerlikheid.
Eerlikheid allereers met myself en met genoeg en voortdurende oefening, volg die res op ’n drafstap. Hoe meer ek hierdie lewenswyse leef, hoe meer kom ek agter hoe alleen ’n mens somtyds daarin kan wees. Oupa sou dus nie verbaas gewees het as ek vir hom moes vertel dat ek sukkel om in ’n dag se omswerwing meer as een-uit-drie eerlike mense raak te loop nie. Ouens wat ’n storie nie so verdraai dat die waarheid ’n wasigheid word nie. Ander weer, onderskat ’n mens se insig in die ontrafeling van ’n wolhaarstorie; of moontlik my intelligensie. Liegstories op liegstories, sonder skuld en sonder verwyt en met die een doel van selfbewaring / -vergelding voor oë. Die ouens vergeet een klein dingetjie: party van ons het die boek geskryf waaruit hulle nou sinsnedes aanhaal!
’n Ander wysheid wat Oupa ook meer gereeld gebruik het was: “daar’s niks nuut in hierdie wêreld nie”. En weer was Oupa reg.
Mense gebruik dieselfde manier van verkeerd op te tree in elke vlak van ons samelewing. Dink daaroor: is daar werklik in beginsel so dagligwydte verskil tussen die verskonings wat ’n politikus kwytraak en die verskoning wat ’n tuinman gee wanneer hy nie opgedaag het vir werk nie. Tweederdes en meer kere is ’n ander te blameer.
’n Gelese geselsvoorreg het eenkeer vir my hierdie beskrywende staaltjie vertel: ’n Man maak met jou ’n afspraak vir watter saak ookal. Hy daag ’n halfuur laat op. Sy verskoning is dat die verkeer baie druk was. En, ons as goedgemanierde mense sal dit aanvaar as die waarheid. Wanneer hy dit ’n tweede keer doen en weer laat opdaag met dieselfde storie, sal ons sekerlik begin dink dat hierdie ou darem kon geskakel het of probeer het om vroeër van waar ookal te vertrek. Wanneer dit ’n derde keer gebeur, gaan ons beslis gatvol raak. Ons gaan dink die ou het net nie respek vir tyd of enigiemand anders nie. En so, het die ou 90 minute van jou lewe gemors.
Hierdie storie kon vermy gewees het indien a), die ou eerlik was en werklik die eerste keer in die verkeer vasgeval het, of b), jy hom die eerste keer vriendelik versoek het om die laatkom nie te herhaal nie. Maar meeste van ons doen dit nie. Moontlik omdat baie van ons daagliks self daar is. Daardie vinnige leuentjie om die vrou stil te kry of om van ’n lastige kliënt ontslae te raak. Soveel mense, soveel voorbeelde. Geen van die stories is raar nie, maar daar waar ek was en tans is, is die bestaan daarvan so eg soos die sweetrand op Oupa se hoed.
Die skoen is soms aan die ander voet, alhoewel hy die beste pas waar hy is. Daarom het ek vrede met wat ander mense dink. Die waarheid begin binne-in my en vandaar sal ek dit lewe. Ek sal in goeder trou steeds menseverhale glo, maar ook gewis weet dat hier-en-daar sal ek tog verbaas word wanneer ou oneerlikheid deur nuwe monde gepleeg word. So-ook andersom.
Hennie Fritz

