Cornelius se ‘liefdeshart’… is dít die liefde wat die HERE van ons verlang?
Kom ons kyk na daardie verklaarde ‘liefde’ van Cornelius en of dit wél by Cornelius ’n sogenaamde ‘Jesus-eienskap’ is. Is dit werklik?
In aansluiting by Cornelius praat Faassen van naasteliefde op die humanisties-politiese manier, want hy kwalifiseer dit met ’n ‘geen diskriminasie’- voorbehoud in religieuse verband. Is dít werklik naasteliefde?
Watter liefde verwag God van ons? ’n Eenvoudige vraag om te beantwoord, want dáároor maak God Homself in die Woord baie duidelik:
“En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot Gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee Gebooie hang die hele wet en die profete.” – Mattheus 22:37-40. Só is God se Gebod vir die ganse mensdom op twee Liefdesgebooie geskoei – Primêr is die vereiste die liefde vir God en dan liefde vir jou naaste soos jy jouself liefhet (of as unieke, kosbare sorgvuldig Godsgeskape mens behoort lief te hê, vir dié met ’n swak selfbeeld).
Naasteliefde – selfs in menslik suiwer vorm - op sigself, gaan dus nie die knoop deurhaak nie, want sonder om God primêr lief te hê met jou hele hart, siel en verstand, kom mens God se Liefdesgebod gewoon nie na nie én sal die mens ook nie weet hoe om sy naaste lief te hê, nie, want God is Liefde (1 Johannes 4:8).
Só is daar ook geen sprake van liefde vir God, waar die mens nie ook sy naaste (let wel, nie die dinge wat jou naaste soms dink en doen, nie) kan liefhê nie (Johannes 15:12-14) want slegs dan kan mens die HERE gehoorsaam. Dis albei … of dit is verkeerd, omdat God so sê. God en God Alléén, sê vir ons dus hoe om lief te hê sodat dit as Jesus-liefde sal kwalifiseer en geken kan word.
Faassen het humanistiese menseregte lief en sien naasteliefde as instrument om daardie politieke motief te dien in sy sekulêr humanistiese ‘geen diskriminasie’ gewaad. Maar wat het dit met God te doen? God skroom nie om uiteindelik te diskrimineer teen diegene wat verkies om Hom verloën en verwerp, nie. Is daar iemand wat dít kan weerlê? Wat het humanistiese ‘naasteliefde’ met God en God se Liefde te make? Is dit nie humanistiese menseregte wat sê dat die mens soewerein is in sy keuses en selfs vir God kan verloën en minag en verwerp, as hy, die mens, so wil, nie, of, as hy sou wou, die detail van God se gebooie flagrant by keuse kan ongehoorsaam, net omdat dit kwansuis sy ‘reg’ is nie? En dat só ’n mens nie daarvoor gekritiseer mag word, nie? Is die sekulêre humanis nie een wat sê en dink dat die wêreldse grondwette sterker is as die Goddelike wette, nie? Wat het dit met God se Liefde te doen? Dit verloën God én Sy Liefde. Sal God die mens se ‘reg’ beskerm om Hom te ongehoorsaam, minag, verloën en verwerp? Het die mens só ’n ‘reg’ teenoor God? Sekerlik nie, want dit is lynreg rebellie teen God en God se eerste Gebod. Maar die humanisme gun die mens so ’n reg en die Faassen-naasteliefde wil dit beskerm sien.
Net so en véél erger, maak Cornelius ook – hy sê mos aan Dolf dat hy ‘nederig’ staan teenoor elke mens op aarde se hart - ongeag hul geloof of ongeloof en hy deel in elke religie en meng die Evangelie met elkeen afsonderlik én hy sê hy aanvaar enigiets wat enigeen as sy geloof, of ongeloof, deel en wat enigeen ookal glo, of nie glo nie, is ‘okei’ wat hom betref en dan kom dit ook … solank iemand sy naaste nie daarmee probeer onderdruk nie. En daarmee kom die duiwelse verskuilde sekulêr humanistiese dryfveer ten koste van God se soewereiniteit ook by Cornelius uit.
Maar wat op aarde of in die Hemel het só ’n sogenaamde ‘liefde’ met die HERE Jesus Christus te doen? Op watter manier hoegenaamd, kan dit wat by Cornelius is, as ‘Jesus liefde’ bestempel word?
Daarom dat Cornelius so aanklank vind by Faassen se humanistiese ‘naasteliefde’ waar elk maar kan glo (en doen) soos hy lus het en waar God se Soewereiniteit en eerste Gebod, eenvoudig géén rol speel nie – nie één van hulle het ’n saak met God nie en nie één van hulle ag God daarin, nie, want dit was hulle as ‘liefde’ verkondig, stel die mens, sekulêr of gelowig ongeag, bo die God van die mens, terwyl géén mens óóit bo God kán wees, nie en verkondig hulle nie liefde nie, verál nie Jesus-liefde nie, maar rebellie teen God ten gunste van sekulêre mens, al trek hulle hul argumente in daardie verband aan in ’n mengelmoes van religieuse kleure.
Hoe kan daar dus sprake van wees dat enigeen van hulle, selfs net die geringste mate van Jesus-liefde demonstreer, wat nog te sê, koester?
Daardie religieë wat Cornelius so graag in ‘deel’ en die Evangelie in wil meng, verafsku algar die Goddelikheid van die HERE Jesus Christus - soos byvoorbeeld die judaisme en die islam – terwyl ander religieë, waarin hy ook so graag deel, soos die hindoeïsme en die antieke Skandinawiese religieë – waarvan die Finse jumala (sky god) religie ’n sprekende voorbeeld van is - ’n magdom van afgode dien en gedien het in totale minagting van die HERE Jesus Christus.
Terloops, Jumala is ’n Finse naam ontleen aan die Estlandse pagan ‘sky god’ ‘jumal’ en is weer ontleen aan die Lettiese pagan fertiliteit afgod, ‘jumis’. Die Finne het dit in antieke tye in hulle pagan religie gebruik vir een van hulle twee ‘sky gods’. Cornelius skroom egter nie om die HERE met, onder vele meer, só ’n assosiasie te belaster, nie.
Is die Naam van God, van die HERE Jesus Christus, dan nie uniek en Heilig, nie? Natuurlik is dit! Mag mens die HERE sommer enigiets noem net omdat dit jou sou pas? Stellig nie. Die Naam van die HERE is uniek in die Heiligheid daarvan en beskrywe Sy Wese (Jesaja 9:5–6); beskrywe Sy Krag en Goddelikheid (Hebreërs 1:1-14); dien geheilig, verheerlik, geprys, verhoog en gedien te word (Psalm 34:2-4; 68:5; 86:12; Mattheus 6:9; Filippense 2:10-11) …
Maar wat voel Cornelius dus vir die Heiligheid van God se Naam? Vir die Heiligheid van God, Self? Hy bespot die unieke (in die uitsonderlike Heiligheid daarvan), Heilige Naam van God die HERE Jesus Christus deur die Naam te assosieer met al wat afvallige en goddelose en pagan gruwel is (selfs met die gruwel afgod Asjéra, wat direk met die Goddelose baälpriesteres Isebel verbind word (1 Konings 18:19) en wat destyds direk deur God verbied was – 2 Kronieke 15:16, ens en vele ander).
Is dít ’n demonstrasie van ‘Jesus-liefde’? Stellig nie.
Dit wil voorkom asof God se Heiligheid en Sy Naam vir Cornelius ’n nuttige instrument is om sy poespas, daardie lasterlike religieuse hutspot, mee om te roer. Hoe versoen hy só ’n lasterlike benadering en omhelsing van vreemde afgode met die ware HERE Jesus Christus, Wie dit duidelik maak dat HY en HY alléén, die Waarheid, die Weg en die Lewe en God in Woord, is (Johannes 8:58; 14:6-7)?
Hoe kan daar selfs net sprake wees dat Cornelius in sy skromelose belastering van God en Christus enige mate van Jesus-liefde in hom het?
Vreemd dat sommige dit nie sommer maklik raaksien, nie …
Het Cornelius dus in sy belydenis en sy verklaring daarvan, werklik Jesus-liefde? Demonstreer hy enigiets daarvan? Getuig hy hoegenaamd daarvan? Kan mens Jesus-liefde hê as jy die HERE Jesus Christus verloën, vir God minag en belaster deur aan Hom lippediens te betuig? Stellig nie.
Ek stem dus volkome saam met Dolf – dit is duidelik dat Cornelius so rigtingloos is soos ’n skip sonder roer, dat hy die ware Evangelie en die Naam van die HERE - die Waarheid, kortom – probeer afwater, reduseer en verdraai om te maak pas by ander religieë en daarmee probeer vermeng. En dit stel Cornelius se selfopgelegde dilemma báie sagkens.
Udo Karsten word elders deur Dolf aangehaal: “Hoe Christene teenoor mense optree, bepaal grootliks of daardie mense geaffronteer gaan word deur die eksklusiwiteit van die Christelike pad, of aangetrek gaan word deur die inklusiwiteit van die uitnodiging om saam op daardie pad te kom stap.”
Maar het Udo dit heeltemal reg? Maak hy homself duidelik?
Is dit in die mens se vermoë om ander mense van God weg te hou, van die Waarheid te vervreem? Ek dink nie so nie. Die satan het wel daardie krag teenoor die ontnugterde en onwaaksame mens (1 Petrus 5:8) en huis dáárom is dit só belangrik om die Waarheid onverdund, reguit en sonder skroom te verkondig, want die Waarheid en die Waarheid alléén, bevry (Johannes 8:32). Soos Dolf ook doen.
En ek dink dít is wat Udo werklik bedoel. Om doekies om te draai, mislei mense en vertraag hulle gang na verlossing. Daar is mos nie sagte of harde Waarheid nie – net Waarheid. Die Waarheid is goed en Waardig genoeg vir ons almal. Dieselfde Waarheid is vir sommige sag en vir ander weer hard – afhangende van Wie of wat die hart van die aanhoorder beheers.
Trouens, die Waarheid (Johannes 14:6-7) is aanneemlik, mooi en Waardig genoeg om op blote gesigswaarde gevolg te word (Psalm 19:9-12) - en dít is waarvoor en waarom die ware Christenskap en Christendom staan en gaan – om die Waarheid onverdund en onverbloemd uit te dra en oraloor te verkondig (Mattheus 28:19). Om dan die reeds allermooi en soete Waarheid (Mattheus 11:28-30) te wil verfraai met mensgemaakte tierlantyntjies, het altyd die manier om wanvoorstelling aan die hand te werk.
Hoe kan ’n mens die perfekte Goddelike Waarheid optooi, verfraai? Onmoontlik vir die mens. Om te probeer is ydele sonde. Kan die mens beter as God? Stellig glad nie.
Die Waarheid in onverbloemde, suiwer en reguit formaat is alreeds die opperste manifestasie van Liefde, want God is terselfdertyd Liefde en God is Waarheid. Kan die mens daarop verbeter? Sekerlik tog nie.
Maar die Waarheid stoot sommige mense af, hóé dit nou ook al aan hulle oorgedra word, juis omdat dit die Waarheid is (Johannes 8:38-47) en hulle is diegene wat die boodskapper van die Waarheid sal haat, juis ter wille van die Waarheid (Markus 13:13). En dit is juis húlle wat die Waarheid so direk en onverbloemd benodig – en ons gebede.
Die grootste weldaad en naasteliefdesdaad, Jesus-Liefdesdaad, is juis die gee van die geskenk van die onverbloemde suiwer en reguit Waarheid, aan jou naaste wat struikel en siek is – ongeag of hy aanvanklik daardie Waarheid wil verwerp en jou daaroor versmaad. Want dít is wat ons HERE Jesus Christus, die énigste Waarheid, Weg en die Lewe, op aarde kom doen het en waarvoor Hy so gruwelik versmaad is – en dít is wat ons as ware gelowiges in Hom, die Waarheid, moet voortsit - ongeag die smaad. Probeer die HERE Jesus mense met mens-versierde Waarheid en tierlantyntjies oorreed? Glad nie – net met die suiwer Waarheid (HY net soos HY Is) en só moet ons ook doen.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kobus de Klerk,
Dis 'n groot verligting dat jy my hierdie keer minstens korrek aanhaal, en ek waardeer ook jou werkende skakels na my bydraes ter sprake.
Ek herhaal my sin in die volgende deur jou: ...hy [Cornelius] sê mos aan Dolf dat hy ‘nederig’ staan teenoor elke mens op aarde se hart - ongeag hul geloof of ongeloof en hy deel in elke religie en meng die Evangelie met elkeen afsonderlik én hy sê hy aanvaar enigiets wat enigeen as sy geloof, of ongeloof, deel en wat enigeen ookal glo, of nie glo nie, is ‘okei’ wat hom betref en dan kom dit ook … solank iemand sy naaste nie daarmee probeer onderdruk nie.
Amen.
Ek dink egter dat jy Jacobus Faassen (soos jy maar gewoonlik met almal wie waag om van jou te verskil doen), met jou boosheid besmeer in die volgende onsin: Faassen het humanistiese menseregte lief en sien naasteliefde as instrument om daardie politieke motief te dien in sy sekulêr humanistiese ‘geen diskriminasie’ gewaad.
En dis hoe jy my en Jacobus Faassen in jou waan bymekaar bring: En daarmee kom die duiwelse verskuilde sekulêr humanistiese dryfveer ten koste van God se soewereiniteit ook by Cornelius uit.
Kobus, dis maar gewoon jou gewraakte en vervelige mening oor ander se harte buite jou bereik.
Die waarheid is - ek buig nederig saam met my broer Jacobus Faassen; met my hele hart, my hele verstand, en al my kragte voor onse lieflike Allah.
In hierdie liefde en genade van onse lieflike Allah, dien ek saam met Jacobus Faassen, my naaste.
Glo dit as jy wil, maar ek het reeds vroeër 'n volledige bydrae onder hoofde "Godsdiens sonder grense", na ons webvoete gestuur.
Ek reis 'n bietjie wyd en moet soms 'n duin klim om my boodskappe te kan stuur.
Ek laat dus enige verder kommentaar totdat my boodskap die werf haal.
Ek hoop my briefie bereik onse Webvoet minstens voor die naweek.
Daarna kan ek besmoontlik deur kruisverwysing tussen jou bydrae hier, en my gedagtes onder "Godsdiens sonder grense", my eie oortuiging aan enige belangstellende, beter toelig.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Kobus, jou erns en die waarheid waarmee jy skryf waardeer ek diep, maar ek moet erken dat ek so pas verstik het soos ek lag in jou beskrywing van Cornelius se nuttige instrument. Deels oor ek nuut is hier op Litnet en nie soveel van kleur verwag het in jou ernstige gesprek nie en die skrik met die lag gemeng het nou amper my lewe gekos... hahaha.
Die hartseer omtrent Kobus de Klerk se hardvogtigheid is die feit dat ek reeds male sonder tal verwysing na God in Bybels in ander tale, hier verduidelik het.
Tog sal hy met berekende reëlmaat sy versoeking herhaal, en ander meesleep in hul onkunde.
Die feit dat verwysing na God in ander tale en kulture anders as jou eie klink, behoort algemene kennis en vanselfsprekend te wees.
Ek het Die Bybel, en Ibhayibheli Elingcwele as voorbeeld op my tafel en by Genesis 1:1 omgeblaai.
Uit Die Bybel lees ons: In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Uit Ibhayibheli Elingcwele lees ons: Ekuqaleni uNkulunkulu wadala izulu nomhlaba.
In sy eiewaan weet Kobus de Klerk kamstig als!
Hoekom kan Kobus de Klerk dit nie uitlê as ek bely dat Jesus Christus, onse uNkulunkulu is nie?
Net so sou Genesis 1:1 in 'n Arabies lees: In die begin het Allah die hemel en die aarde geskape.
In Fins: In die begin het Jumala die hemel en die aarde geskape.
In Hindi: In die begin het Brahman die hemel en die aarde geskape.
In Hebreeus: In die begin het Elohim die hemel en die aarde geskape.
Kobus de Klerk se twis handel oor my belydenis dat Jesus Christus, God is.
Daarom dat Kobus de Klerk my belydenis dat Jesus Christus, Allah, Jumala, Brahman, Elohim, en vele meer uit die hart mensheid is, minag.
Derhalwe het Paulus in Handelinge 17, die voorbeeld gestel en die Evangelie by die Grieke se Godsdiens en begrip aan ons Skepper, die Onbekende God; of te wel Agnostos Theos, toevoeg.
Mag Jesus Christus onse uNkulunkulu, Allah, Jumala, Brahman, Elohim, en vele meer uit die hart mensheid, self die Vrede in 'n ieder se hart wees wat hier lees.
Namaste!
Cornelius
Al wat hartseer is, is hoe almal onder jou leuens moet deurloop, Cornelius
En Paulus van ouds word ook nie gespaar nie.
Paulus het op geen manier gedoen wat jy voorgee hy gedoen het nie. Hy het op 'n altaar van die Grieke afgekom waarop daar gestaan het 'aan die onbekende god' Let wel, onbekende god. Geen naam nie en baie duidelik opgedra aan 'n god wat nog nie aan die Grieke bekend was nie. Dus ook nie 'n ode aan een of ander drekgod nie.
Wat Paulus toe gedoen het, is om daardie geleentheid te benut om die afvallige, drekgod dienende Grieke daarop te wys dat hy wat Paulus is, wel die ware God ken, die Een Wie tot op daardie stadium aan hulle onbekend was weens hulle verwarring. Hy het toe voortgegaan om dei suiwer Evangelie aan hul ete verkondig in die Naam van die HERE Jesus Christus - en vir hulle vertel dat dit die God is vir Wie hulle nog nie ken nie, maar die eintlike ware God is, ook hulle ware God en Sy Naam is Jesus Christus.
Paulus se verkondiging van die onverdunde Waarheid in die Evangelie het hulle laat besef dat hulle besig is met dooie gode wat net in hulle versinsels en mitologie en kultuur bestaan, terwyl daardie onbekende God al die tyd die ware God is waarvan hulle nie geweet het, nie. Tewens, die nuus van dei Waarheid het hulle so ontstel dat die priesters van daardie Griekse drekgode antagonisties en aggressief geraak het en die skare opgehits het sodat Paulus net-net met sy lewe daarvan afgekom het.
Op geen stadium het Paulus die snert en ongoddelike konkoksie probeer brou waarvoor jy hier bekend is nie. Op geen stadium het die Heilige Naam van God, van die HERE Jesus Christus, met die van 'n drekgod vereenselwig of geassosieer nie.
Maar dit wys jou hoe min jy verstaan van wat jy lees. As jy die vermoë had om die Woord te verstaan wat jy so kwistig aanhaal en misbruik ter wille van jou lasterlike brousel religieuse gemors, sou jy begryp het wat Paulus gedoen het.
En dit is waarom niemand jou ernstig opneem nie en die spot met jou drywe en sommige jou misbruik as 'n karikatuur. Jy vra daarvoor.
Kobus de Klerk
lilli_B,
Baie dankie vir die toeligting met die Woord. Die Woord is altyd meer as welkom en verkwikkend, net soos jy as gelowige ook is.
Maar jy sal jou dalk verbaas oor die agnostici wat Bybels en sake Gods oor die algemeen, aanbetref – hulle het dikwels meer verskillende uitgawes daarvan tot hul beskikking as meeste gelowiges.
Soos ek hulle oor die afgelope 10 jaar of so leer ken het in my gereelde gesprekke met hulle, het hulle ’n amper obsessiewe saak met God, maar op ’n baie negatiewe manier.
Tewens, meeste van hulle sal, verstommend genoeg, aanspraak maak op beter kennis en insig in die Bybel as wat gelowiges kwansuis sou hê en dan die gelowige konfronteer met hulle daardie sogenaamde beter kennis en insig. Wat ons dan sien, is die teenoorgestelde - aanhalings uit die Bybel met hul eie agnostiese interpretasie daarvan, ’n meestal insiglose gebabbel wat op diepe onbegrip vir die Woord dui, maar dit stop hulle nie om aansprake te maak of om hulself op ’n baie negatiewe manier in die Bybel te verdiep met die doel om dit te probeer diskrediteer, nie.
Meeste van hulle wat hier skrywe spandeer ook bykans al hul vrye tyd om die Bybel en eksterne bronne wat antagonisties teenoor die Bybel staan, op te lees – feitlik sonder uitsondering bronne van agnostiese en sekulêre akademici en eks-kerkgangers (soos baie van hulle self ook is) wat nie ’n saak het met God en Gods Woord, nie.
Hulle sal gelowiges ook dikwels kwansuis aanspreek oor die standaard en kwaliteit van hulle Christenskap, maar dan sien mens dat hulle dikwels nie in staat is om te onderskei tussen ware Christen gelowiges en ketters nie. Tog stop daardie onvermoë hulle nie om hul opinies uit te spreek daaroor asof hul iets daarvan kan verstaan en weet, nie.
Hulle verstaan ook van Spiritualiteit en die onlosmaaklike verbintenis tussen die mens se Godsdiens, geloof in en verhouding met God, bykans niks omdat hulle self spiritueel so onbekwaam en doods is
Hul agnostisisme maak hulle baie antagonisties en ook baie arrogant op 'n domastrant manier.
Groete en welkom,
Kobus de Klerk