Dolf,
Jou redenasies ruik nogal baie na Kobus. Jy en hy het so presies dieselfde opvatting oor wat in die wetenskap aangaan dat ek dink julle kan miskien tweelingbroers wees. Geen wetenskaplike wat sy sout werd is, sal kan sê dat dit wat hy nou bereken het, presies en akkuraat is nie. Almal soek en ondersoek en werskaf en swoeg en slaaf ook maar. Gedurigdeur word sy berekeninge bevraagteken, getoets en deur nuwe navorsing as nie so akkuraat nie, bewys. Die dag dat absoluut alles nagevors en bewys is, sal seker die einde van alle dissiplines van die wetenskap wees. Dan is die wetenskap die Bybel. Dan kan die wetenskap ook ’n predikant hê wat vir jou dink en jou beveel om te glo dat die aarde in 3,4 biljoen jaar gemaak is. Dan glo jy maar, want wie die hel wil nou in die hel brand?
Die feit dat die wetenskap dan nie so “akkuraat” is nie, is nog een van die min dinge waaroor Christen kreasioniste hulle kan verheug – wie wil nou hulle enigste vreugdetjie van hulle wegvat. Intussen swyg húlle natuurlik soos die graf oor die “akkuraatheid” van die Bybel, en of dit so dééglik getoets is.
Nou kan ek probeer om jou skrywe onder aan my brief, Die Eendbek-platipus, te beantwoord.
Nee, ek gaan nie kyk wat Darwin of Dawkins te sê gehad het nie. Ek is ook nie iemand wat nou vinnig eers gaan google om jou te beantwoord nie. Ek gaan sommer reguit na die bron, nl. Australië. So onlangs soos verlede jaar (2011) het geoloë aan die Weskus van Australië fossielselle afgekom wat by toetsing ongeveer 3,4 miljoen jaar oud is. Fossielselle het nie beendere nie, dus is dit moeilik om te besluit of ons hier te make het met lewe. Dis ontdek deur ’n ene Brasier van Oxford universiteit en hy is juis een van die grootste kritici van sogenaamde fossiele wat ontdek word. Ek gaan nou nie die hele storie vertel nie, miskien, as jy kan google soos Kobus kan google, sal jy dit kan google.
Ja, fossiele is skaars, so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande, in elk geval skaarser as diamante, maar meer as goud werd. Wanneer het die eerste “mense” gelewe? Dit vertel die skaars fossiele ons. Wetenskaplikes gaan krap in hulle ashope rond, en ondersoek en toets dít wat hulle vind. Ek het nie plek om jou eers ’n klein deeltjie van die soektog te vertel nie; dus kies ek sommer lukraak Koobi Fora. Soos jy seker weet, dis die plek waar o.a. Richard Leakey rondgekrap het. Kay Behrensmeyer, ’n gegradueerde Harvard student, het ook daar gaan rondsoek en o.a. klipinstrumente gekry. ’n Mens kan mos duidelik sien dat dit voorwerpe is wat doelbewus gevorm is deur klip op ’n sekere manier te kap en te laat afsplinter. Hierdie instrumente is na Cambridge universiteit gestuur waar dit deur ’n kalium-argon toets as ongeveer 2.4 miljoen jaar oud bevind is.
Spore van Homo Habilis, saam met sy fossiele is dus al “miljoene der miljoene jare” oud, soos Perdebytjie jou gesê het. Kort-kort is daar nuwe ontdekkings van nuwe “eerste mense”. Dink maar aan die werk van Michel Brunet (miskien sal jy hom kry as jy google), professor in Paleontologie . In 1994 het hy in die Djurab woestyn die fossiel van ’n man gekry wat 3 miljoen jaar gelede geleef het. Baie duidelik een van die mens se voorouers, uitgeken aan die vergrote breinkas, die verminderde kies- en voortande en die feit dat hy regop geloop het, om maar net ’n paar menslike eienskappe te noem.
Oor die akkuraatheid van die toetse kan ek gelukkig nie my kop op ’n blok sit nie. Ons moet die "miljoene –der-miljoene" wetenskaplikes se toetse maar aanvaar, aangesien hulle weer mekaar se werk soos valke dophou. Indien ek dalk verkeerd is, is daar gelukkig nie ’n hel wat op my wag soos by die Christen as hy nie wil glo en bely dat die aarde in ses dae gemaak is nie.
En dit nogals ongetoets!
Groete
Angus


Kommentaar
By die lees van my brief moet ek darem iets regstel, want ek het te vinnig getik. Kay Behrensmeyer het die lawa-as waarin die klipinstrumente gevind is laat toets en daar is bepaal dat dit 2.4 miljoen jaar oud is. Hierdie toetse is taamlik akkuraat; mag miskien so 100,000 duisend jaar na beide kante uit wees.
Angus
Angus,
Ek wou eintlik by jou bydrae oor die Eendbek-platipus van vroeër die maand kommentaar lewer oor evolusie maar val nou maar sommer hier in. Volgens professor Steve Jones, Emeritus Professor aan UCL in oa Genetika en Evolusie, is MIV/vigs ’n uitstekende voorbeeld van evolusie wat daagliks onder ons oë plaasvind. Hy vergelyk ’n pasiënt met ’n eiland waarby sy invallers moet aanpas of die onderspit delf. Die oomblik wat die virusse die pasiënt aanval word dit uitgewis deur die immuunstelsel van die pasiënt. Enkele MIV-deeltjies slaag egter om ongeskonde verby te kom omdat genetiese mutasies/ongelukke hulle soort van vermom het. Die gevolgtrekking waartoe hy kom is dat evolusie in hierdie opsig 'n meedoënlose vyand kan wees.
In Evolution the Triumph of an Idea wys Karl Zimmer daarop dat die weerstand wat bakterie teen antibiotika opgebou het nie sommer ’n toevalligheid is nie. Dit het die proses van natuurlike seleksie gevolg met dié bakterie wat die beste gene het om die antibiotika te oorleef, wat gedy en voortplant. Hierdie begrip van evolusie is volgens hom onontbeerlike kennis vir die suksesvolle ontwikkeling van medisyne.
Panda
Angus en ge-“cc” vir “Ongelowige” Thomas,
En? Eintlik het jy presies NIKS gesê nie! Al wat ek kan aflei – natuurlik uit jou rigtinglose en sinlose skrywe – is dat daar geen vordering, van watter aard ookal, deur jou sogenaamde “miljoene-der-miljoene” wetenskaplikes (ek het jou al 3 biljoen keer gesê jy moet nie oordryf nie!) gemaak nie – behalwe natuurlik om op mekaar se self-erkende onakkurate “toetse” staat te maak (nog steeds kan jy my nie sê waaraan die “toetse”self se akkuraatheid gemeet word nie) – en dít tot ondersteuning van wat? Darwin se ullisie evolusieleer!?
Jy is reg – moet nie jou kop op ’n blok sit nie – dit kan vir jou katastofiese gevolge inhou! Ek kan ook verstaan dat die “wetenskaplikes” mekaar se werk “soos valke” dophou – nie enigeen van hulle het ’n “clue” nie en probeer op mekaar se “uitvindings” en onakkurate “toetse” staatmaak om hulself op die skouers te klop oor hoe “slim” hulle nou eintlik is in hul naarstigtelike soeke om hul darwanistiese evolusieleer geloof te probeer bewys! En al wat hulle werklik bewys is die mens se onvermoeë om God se Almag en Wysheid ten volle te begryp – die arme siele!
Ag nee Angus, en nou dié opmerking?: “Indien ek dalk verkeerd is, is daar gelukkig nie ’n hel wat op my wag soos by die Christen as hy nie wil glo en bely dat die aarde in ses dae gemaak is nie” – lyk vir my daar is twyfel in die “apie-sindroom” klub?
Jy sien Angus, jy verstaan glad nie ware christen-geloof nie! Jy hammer op dinge wat jy nie verstaan in God se Woord (die Bybel) nie én dan meet jy jou opvatting oor wat christenskap is, daaraan! Ware geloof hoef nie bewys te word nie! Dit is ouens soos julle – wat nog nie ’n ware ontmoeting met Jesus Christus gehad het nie – wat só graag God wil “wegbewys” en dit bloot uit selfregverdiging vir jul eie darwanistiese evolusie geloof as teenvoerder vir die ware christelike geloof (nét soos jul afgod, Darwin, self probeer het!).
Ek sê weer: in Ware Geloof is Glo, Sien (maw as jy waarlik Glo sal jy Sien) en nie andersom, soos in julle geval, waar Sien, Glo is nie! Daarvandaan dat julle só naarstigtelik bewyse vir jul evolusieleer twak soek en julle kry dit nie (want dit bestaan nie) – en dan raak julle domastrant met julle “onbewysde” en onakkutate fossiel “toetse” en dink dat, as julle “hogere” en “geleerde” woorde gebruik, julle niksvermoedende mense om die bos kan lei! “Come to think of it” – in sommige gevalle kry die “wetenskaplikes” die om-die-bos-geleiery wel reg – neem nou maar jou en “ongelowige” Thomas, as voorbeeld.
Sterkte.
Dolf van Loggerenberg (sies Thomas).
Dolf,
Voor ek jou antwoord sal ek graag wil weet wat vir ’n ding naarstigtelike soeke is. Laat my dink aan die krieketkommentator wat altyd sê dat Suid-Afrika naarstigtelik soek na lopies. Die woord in Afrikaans is naarstig met afleidings naarstigheid en naarstiglik.
As ek ’n stuk rots het en ek wil weet wat die ouderdom daarvan is, sal ek dit aan ’n wetenskaplike gee. Hy kan in die laboratorium die ouderom daarvan bepaal, m.a.w. hoe lank gelede die rots gestol het. Watter metodes hy gebruik, sal ek nie aan jou verduidelik nie, want aan die hand van wat jy skryf kan ek sien dat dit nie sal help om jou te verduidelik nie. As hy sê dit is 2 miljoen jaar oud, sal ek dit aanvaar alhoewel hy miskien so 100 000 jaar uit kan wees. As jy die akkuraatheid van sy bevindinge betwis, staan dit jou vry om self laboratorium of waar ookal te gaan en op jou eie manier te toets. Soos dit vir my lyk, sal jy in die Bybel gaan rondblaai, miskien soos ’n James Ussher van ouds ’n formule daaruit optower en glo die klippie is op 23 Oktober 4004 jaar voor die geboorte van Christus geskape.
Ek sou graag by jou wil hoor wat jou voorstel is. Hoe toets jy die ouderdom van gestolde rots? Wetenskaplikes maak gebruik van verskeie radioaktiewe horlosies vanf die Rubidium-87-strontium horlosie tot by die koolswtof-14-stikstof horlosie. Daar is sowat tien onstabiele isotope met halflewes wat gebruik word.
Jy het heeltemal reg: geloof hoef nie bewys te word nie, want dit is mos daar. As jy egter die Bybel letterlik verstaan, dan moet jy kan bewys dat dit moontlik is om van ’n ribbebeen ’n vrou te maak, of dat water in wyn kan verander of dat ’n meisietjie ’n brood in die oond kan hê sonder die toedoen van ’n man, of dat ’n vrou in ’n soutpilaar kan verander of slange en bome kan praat. Die Christelike geloof berus op mites. Die wetenskap berus op grondige navorsing. As jy die wetenskap met die Bybel wil toets, dan moet jou geloof sterk genoeg wees om die Bybel weer aan Wetenskaplike norme bloot te stel.
Is jy tog nie ook een van daai ouens wat Jesus ontmoet het nie? Ek ken ’n hele paar sulke ouens. Gewoonlik is dit iemand wat so bietjie lief is vir die witblits. As hy dan so ’n paar doppe agter die blad het, sien hy sommer drie Jesusse in wit ligte as hy in die bed klim. As jy die sjarme het, kan jy skatryk word. Hier in my kontrei weet ek van twee ouens wat die godsiens en hulle Damaskuservarings gebruik het om skatryk te word. Die een ou het mislukte oeste gehad op sy plaas, en toe sien hy vir Jesus. Al die bygelowiges stroom toe na hom toe en betaal R80 by die hek om na sy ervaringe te luister. Die ander een was maar arm, toe versamel hy ’n gehoor, vertel dat Jesus hom gaan besoek, val op die grond neer met so ’n bietjjie Eno's skuim om die mond, en toe hy daar opstaan, maak hy siekes gesond, en verdryf duiwels. Om ’n lang storie kort te maak, ’n bygelowige boer skenk hom ’n plaas en nou is hy skatryk. Ja-nee, jy kan geld maak as jy Jesus ontmoet het.
Dis in die eerste plek die Christen wat die wetenskap aanval en probeer verdag maak, nie andersom nie. Die wetenskaplike gee nie ’n flenter om wat jy glo nie. ’n Mens kan baie dinge glo; dis iets anders as die waarheid. Ek glo bv. as die hemel val dan dra ons almal blou kepsies. Om te glo, die Bybel, Jesus, God, trouens alle godsdienste is bloot net ’n skepping van die menslike verbeelding.
Groete,
Angus
Angus,
Voordat ek jou skrywes beantwoord, net gou die volgende: Moet jou nie ophou met nietighede soos spelling nie – as jy nie verstaan wat naarstig, naarstigheid, naarstiglik én naarstigtelik beteken nie, raadpleeg een of ander taalkundige – of soek deur die verklarende Afrikaanse woordeboek todat dit ’n naar-heid is!
Net soos in jou vorige skrywes, krap jy rond in die “wetenskaplike” (evolusie is nié wetenskap nié – slegs ’n afgods-ullisie as teenvoeder vir die ware christen-geloof) rommel van on-bewysde metodes om iets wat on-bewys is, te bewys! Jy sê werklik niks nie! Só hard soos julle probeer om julle evolusieleer afgodsdiens te bewys, só misluk julle keer-op-keer. Hoe meer julle eiewys “wetenskaplikes” swoeg hoe meer bewys hulle júis God se Almag en Wysheid in die uitlêg van Sy skepping!
Jy is gou om die Bybel te kritiseer met jou uiters beperkte intellek ten opsigte van sake Gods, maar jy hang die on-bewysde evolusie twak van “wetenskaplikes” aan wat onakkurate en on-bewysde metodes gebruik om iets wat nie bestaan nie, te bewys!
Ek meen te sê, wat leer die evolusie snert? Dat iets (lewe) uit niks ontstaan het, eensklaps (sommige glo na een moewiese ontploffing) sommer só “by chance”! En dat oor miljoene-der-miljoene jare het die eenvoudige partikel (enkelvoud) “sop lewe” ge-evolueer in al die lewensvorme wat ons vandag kry – natuurlik deur natuurlike seleksie (Thomas se gunsteling woord). Dit wil sê, dieselfde, eenderse en identiese sop deeltjies (nadat hulle nou van 1 na 2 na 4 na 8 na 16, ens vermeerder het) het elkeen blykbaar natuurlik geselekteer om uiteindelik (ná miljoene-der-miljoene jare) te evolueer in iets totaal verskillend van mekaar. Sommige het natuurlik geselekteer om in bome en plante te evolueer (een het bv. ’n wilgerboom geword en sy pêl ’n malva-plant). Sommige het weer natuurlik geselekteer om eerder in die water te bly en uiteindelik in visse te evolueer (een het bv. ’n blou walvis geword en sy pêl ’n kreef). Sommige het weer natuurlik geselekteer om eerder in diere te evolueer (een het bv. ’n olifant geword en sy pêl ’n rot). Ander het weer natuurlik geselekteer om eerder in voëls te evolueer (een het bv. ’n arend geword en sy pêl ’n volstuis). En dan natuurlik (en dit is waar die apie sindroom sy volhied bereik) het sommige natuurlik geselekteer on uiteindelik in mense te evolueer – dit nou nadat hulle gesien het hoe hulle broers en susters, die ape, lyk! Ja, ja ek weet dit is ’n baie eenvoudige bekrywing van evolusieleer, maar jy kan self hom inkleur met “hogere” en “geleerde” “wetenskaplike woorde en siedaar jy klink sommer baie slim! Moenie vir my vertel dit is nie so nie – lees jou wetenskap joernale – hulle is juis besig om Darwin (julle afgod) se illusie evolusie "boom" te herteken net met byna twee miljoen takke uit een stam! Ek wonder of hulle emosies (niemand weet skynbaar van waar af dit ge-evolueer het nie) as aparte takke gaan aandui!?
Jou bewering is ook nie heeltemaal korrek in dat dit die Christen is wat die wetenskap aanval nie – Nee-nee, dit is juis die “wetenskaplike” wat die ware christen geloof aanval om sy teenvoerder daarvoor, die evolusieleer illusie, te bewys! Jy weerspreek jouself omdat jy met my saamstem dat ware geloof nie bewys hoef te word nie! Waarom sou ware gelowiges hulle dan ophou met on-bewysde evolusie snert! Jy sien, dit is juis die evolusie aanhangers wat alles in die srtyd werp om tog net hul afgods diens te bewys en elke keer jammerlik faal! Hulle kom net nie verder as om oor-en-oor God se Almag en Wysheid te bewys nie! En dit grief hulle verder die afgrond in! EN dan val hulle weer ware christen geloof met on-bewysde “wetenskaplike” aannames, teorieë en hipotese aan – hoe pateties! Praat van die menslike verbeelding!
Jy is ongelukkig reg dat sommige ware on-gelowiges, hul sogenaamde christenskap misbruik om geld te maak – daarteen waarsku die Bybel ons in elk geval. Jy sien, Angus, ware geloof is ’n gawe van God – jy kan dit nie self skep nie – Ja-ja mense dink hulle het ware geloof, maar God toets en deurgrond die harte – en daar kom die skeiding! Ware gelowige christene dien God ter wille van én oor God – of hulle iets by Hom kry of nie! Die “prosperity gospel” waarna jy verwys (neem ek aan) is bloot lasterlik en ’n verderflike kettery! As jy na my verwys as iemand wat Jesus “ontmoet” het in dié sin dat ek “happy Jesus liedjies” sing en kyk waar ek kan geld maak daaruit, mis jy weereens (soos gewoonlik) die punt! Nee-nee – ek dien God oor God tot Sy eer en verheerliking of ek iets by Hom kan kry of nie – dít is ware geloof – jy sterf aan jouself om te lewe ín Christus. Ek verwag regtig nie van jou om dit te verstaan nie – jy kan nie – dit is eenvoudig bokant jou begrip of verstand! Glo is Sien, Angus, nie andersom nie!
Sterkte
Dolf
Beste Dolf,
Laat my asseblief weet in watter woordeboek jy die woord naarstigtelik gekry het.
Laat my ook weet wie het vir jou gesê dat die evolusieteorie sê lewe het eensklaps begin. Evolusie het oor miljoene jare plaasgevind. Dit is die Bybel wat hierdie snert verkondig. Adam is eensklaps uit ’n hopie grond vervaardig en Eva is eensklaps uit sy ribbebeen gemaak. Ek raai dis jou dominee wat jou sulke twak in die kop praat.
Natuurlike seleksie is nie “Thomas se woord” nie, dit is geskep deur Darwin homself. Jou skrywe wys dat jy nie die vaagste benul het wat dit behels nie. Gaan lees asseblief Charles Darwin se Origin of Species voordat jy jou onkunde verder ten toon stel.
My bewering is heeltemal korrek as ek sê dat dit die Christen is wat die evolusieteorie aanval. Die rede daarvoor is dat die evolusieteorie die Bybel weerspreek wat sê elke ding is na sy soort geskape. Mense soos Richard Dawkins verdedig maar net die wetenskaplike standpunt teen hierdie aanvalle, en die beste verdediging is aanval. Jy sê jy dien God, maar God is slegs die skepping van die menslike verbeelding. Die bonatuurlike bestaan nie, behalwe in die mens se verbeelding.
Groete
Angus