Jaco, uiteindelik ’n intellektuele reus onder die LitNetters! Dankie, dankie en nogmaals dankie vir jou kragtoer van ’n skrywe om Dan Roodt te ontmasker. Is dit al aangeteken op Wikipedia? Hopelik sal die koor van stemme wat roep na die doodsvonnis vir die droster en verraaier aangroei tot ’n oorverdowende skril crescendo, om ’n koorsige slotparagraaf vir die nasionaal-demokratiese rewolusie se voltrekking neer te pen.
Die gesigloses, die skelm lesers van Praag, wees gewaarsku! Ons weet wie julle is! Julle sal sonder verwyl aan die kaak gestel word, uitgesnuffel word!
En dat deelnemers so vermetel kan wees om te dink jy, Jaco, is ’n toiletmuggie, mok, trut, ydel beesstert. Nee, nee en nee, sê ek. Slaan jul oë op na die heilge graal, die berge van kennis, en hou op vra waar jou hulp vandaan sal kom. Die raaisel is bygelê, opgelos, ontsyfer.
Maak plek op LitNet vir die boekverbranding, die karaktermoord, die aftakeling van ’n skender wat dit verdien! Dit kan ons LitNetters se status net duisend maal verhoog. Weg met desperate morone en politieke troglodiete! Laat ons ons ywer tot demokratiese eenwording nie langer onder die maatemmer verberg nie voordat ons skedels dikker raak, ons liggame met hare oortrek word, ons gebukkend na die aarde teruggevel word!
Jaco Fourie is geen gebreinspoelde swakkeling wat deur ’n monopolistiese media afgerig is en op die wêreld losgelaat is om ons te verlos van die één persoon wat vir Suid-Afrika se onheil verantwoordelik is nie. Nee, nee en nee! Gaan begrawe die gespuis, red ons! Red die gemiddeldes wat in sy skadu moet verkeer, in sy intellek verskroei en ons verslete afgeëts in sy gloed laat.
Goliat onder denkers, voorbeeld onder voorbeelde, watter Jacoïstiese insigte is ons nie tans beskore nie. Hoe kan die volkstaatgek dink die Britte is betrokke by Suid-Afrika? Die sotlikheid daarvan! Dis leuens, ’n bedrogspul, dis kwaadwillige truuks om onrus te saai. Sulke kwaaijongens, maaifoedies! Die Nazi's is terug, uit die dode opgewarm en maai onder ons. En ons doen niks!
Swart skares wat hom oral jouend uitkoggel? Natuurlik sal dit so wees. Lewer hom uit aan ons swart meesters, dat hulle sy gal vir hom werk. Dit sal hom ’n les leer. Gaan verkla die hele spul, die duiwelsgesante, die blinde Praag-volgelinge! Maak ’n einde aan sy heerskappy, sy diktatorskap oor tien, sy doemprofetiese woorde! Brand die spul, stuur dit na ’n vlammehel, maak ’n einde daaraan, vir goed. Nou!
Voor ek vergeet, sal iemand Jaco kroon tot wysgeer, Alwetende, filosofiekoning? Anders is die Vryheid van LitNet betekenisloos ...
Weerhaan

