Die vryersklong

  • 2

My jare lange vriend en buurman, wyle Gideon Huisamen, alombekend as gedugte prokureur en OP-rugbyman, maar ook formidabele verteller van ware gebeurtenisse, het een Sondag na een van Nanette se ewe formidabele noenmale vertel hoe sy meisie op Stellenbosch, Nanette natuurlik, hom genooi het om 'n paar dae tydens die Kersvakansie op hulle plaas "Kleinfontein" in die Cradock-distrik te kom kuier.

Haar pa, oom Charles Jordaan, ewe bekend as 'n man van min maar op-die-man-af woorde, het hom volgens afspraak in Nanette se boodskap, deur die medium van haar weet-wat-kom giggellaggie, gewaarsku om stiptelik teen 5nm voor die Victoria Hotel op die dorp gereed te staan as haar pa hom met sy vaalbruin driekwart-ton Chev-bakkie kom oplaai.

Hy't 'n halfuur moes wag tot die bonkige oom by hom en sy toksak stilgehou en skoorvoetend gevra het: "Is jy Huisamen?" Die oom in kakieklere het sonder om vir 'n antwoord te wag, kortaf beveel: "Gooi agter op en klim!" En vir die duur van die rit plaas toe was daar net 'n ongemaklike stilte en slaggate tot hul die die opstal met sy gewels en groot grasperke binnegery het.

Na die twee verliefdes se blye weersiens, 'n verfrissende stort en sjampoe, 'n vars hemp en met lampe wat opgesteek is, het die klok vir aandete gelui en die familie het uit die lang gange te voorskyn getree en om die groot stinkhouttafel aangesit voor die seën kort en kragtig gevra is.

In 'n byna hoorbare stilte het die familie weggeval aan die lamsvleis en geurige geregte van tant Loekie tot oom Charles hom skielik half uit sy stoel gelig en verbaas vir 'n volle minuut opgekyk het om die kuiergas en vryer stip en ondersoekend in die oë te kyk: " My ou broertjie!" het hy laat hoor, "Jy is seker die lelikste wetter wat ek nog ooit in my hele lewe gesien het...!" en ewe ongeërg voortgegaan met sy ete.

Die stilte het soos 'n donker skadu onheilspellend oor die etendes toegesak ... tot die vryersklong wat toe al, soos later in die hof, bekend was as 'n kaatjie wat jy nie sonder handskoene moes aanvat nie, met die kenmerkende droewe en stroewe uitdrukking op die gesig, ewe droog en ondramaties met net een halwe, onvoltooide sin gereageer het: "My liewe oom, dis nou goed en wel, maar dink nou as ek nog mooi OOK moes gewees het!"

En daarmee is die spanning gebreek, die nagereg en onhebbelike sterk koffie bedien en die twee het tot Nanette se frustrasie oor rugby en politiek begin gesels tot hanekraai toe.

En hoe sterk die verhouding gebly het, is gedemonstreer toe Gideon die spil was om wie oom Charles se tagtigste verjaardag op "Kleinfontein" gevier is en hy wat Gideon is, gesorg het dat Langpiet se konsertina-orkes van die Baai die nodige luister kom verleen.

Toe die eerste note van die "konsertina boogie" op die werf opklink en daar op die groot stoep en grasperke tot laat gedans en onder die vonkelende sterrehemel wyd gewals is, het Gideon begeesterd "Die meisie met die puisie", "My trane die rol oor jou bokkie" en "Tinktinkie hoekom is jou bek so` lank?" gerieltrap en gesing.

En in die middel van die stoep het oom Charles gestaan en die gaste se ritmiese handeklap armswaaiend gedirigeer toe Gierjon se virtuose lyfswaai- en voetwerk tot 'n vertoning van akrobatiese vernuf soos min aangevuur is.

Ja: "Those were the days my vriend ..." en "Die mens soos gras is sy dae ..."

  • 2

Kommentaar

  • My oorle broer het een aand by 'n meisie gaan kuier. Hy is deur een van die ander kinders sitgemaak in die voorhuis om nou vir die meisiekind te wag. Die volgende oomblik stoom die pa die sitkamer in met net 'n handdoek om sy middel. Hy het so pas uit die bad geklim. Hy vra toe vir broer wat sy sending is. Broer skrik toe sy gat af en antwoord NGKerk oom. Nee sê oom ek wil nie weet wat se geloof nie, ek wil weet wat maak jy hier. Broer is daar weg soos blits.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top