Die vrou in die vuur: 'n Keur uit die verhale van Riana Scheepers

  • 0

Titel: Die vrou in die vuur
Skrywer: Riana Scheepers
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780798158329

Koop Vrou in die vuur op Kalahari.com

Riana Scheepers se dramaturg-seun, met die skrywersnaam Adriaan Meyer, het hierdie versamelbundel saamgestel uit haar oeuvre kortverhale. Dit bestaan uit ’n keur uit verskeie van haar bundels, waaronder Die ding in die vuur (1990), Dulle Griet (1991), ’n Huis met drie en ’n half stories (1994), Feeks (1999) en Katvoet (2009), en dien as ’n bestekopname wat die ontwikkeling van haar kortverhaalkuns oor byna twee dekades markeer. Volgens Meyer word Scheepers se liefde, artistieke beheer en intuïtiewe aanvoeling vir die kortverhaal, wat haar eintlike forté is, op ’n unieke wyse in hierdie versamelbundel ten toon gestel.

Benewens die seleksie uit die genoemde vyf bundels is daar ook een nuwe verhaal, die fassinerende titelverhaal, wat, soos sommige van die ander verhale, op die onsigbare soom tussen die werklikheid en die mistieke balanseer. ’n Bonus is dat beide die samesteller en die skrywer elkeen van die vyf afdelings uit die vyf bundels voorsien van ’n kort inleiding, wat ook in ’n mate dien as ’n terugskouende bestekopname van die kortverhale wat Scheepers jare vantevore geskryf het: Meyer begin die bundel met ’n oorkoepelende en insiggewende kortwoord, en Scheepers plaas elke seleksie in die tyd en ruimte waarin en waaroor dit aanvanklik geskryf is en wat dui op verskillende fases in haar persoonlike lewe, wat strek van die misterieuse landskap van KwaZulu-Natal (haar skoling in die Afrika-verteltradisie wat haar Westerse literatuuropleiding komplementeer), Europese reisinvloede, ’n Kaapstadse skakelhuisbestaan, tot die Bolandse plaasbestaan. Die titelverhaal, wat in 2012 geskryf is en nog nie voorheen gepubliseer is nie, speel af in die ruïne van ’n chateau in Frankryk waar sy en haar man oornag het.  

Hierdie einste titelverhaal, "Die vrou in die vuur" (257) is teen die verwagting in laaste in die bundel geplaas. Ook hier, soos in die meeste van Scheepers se verhale, speel vroue ’n sentrale rol en dit handel oor haar fassinasie met Jeanne d'Arc (wat uiteindelik soos ’n heks op die brandstapel verbrand is nadat sy ter dood veroordeel is). Die eindplasing van die verhaal kan moontlik suggereer dat die vuur die laaste sê het.

Die komplekse psige van (veral) die vrou, in die wydste sin van die woord, word aan die vuurproef onderwerp in hierdie bundel. Soms spring hul die verterende vuur oënskynlik vry, soos die vrou in "Plat hond"(61); soms bly hul in die vuur en raak gewoond daaraan ter wille van oorlewing, soos die trotse vroue in "Die skrywer" (63) en "Ruil" (13); soms deurstaan hul die vuurproef en leef daarna "asof uit vuur geruk", soos die aanvalslagoffer in die verhaal "Maar daar is" (157); en soms oorleef hul dit nie, soos die rooikopvrou in "Heks" (133) en Jeanne in "Die vrou in die vuur" (257).

Riana erken in ’n onderhoud met Solette Stander (nagraadse US-student) dat vurige, begeesterde en doelgerigte vroue (nie noodwendig mooi en gewilde vroue nie) dié soort vrou is by wie sy aanklank vind en oor wie sy graag skryf.

Baie van die verhale bly die leser by lank nadat die boek toegemaak is, aangesien die aard en diepgang van die temas ingekapsel is soos die lagies van ’n ui wat herbesinning en ’n herlees vereis om ten volle te ontvou. Dié bundel kortkeur is die veelbekroonde Scheepers op haar eiesoortige beste. Vir diegene wat nie vertroud is met haar werk nie, is hierdie bundel Scheepers se kortkeur in ’n neutedop en ’n motivering om later ook haar volledige bundels te ontdek.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top