Die vreemde taal Engels

  • 4

Foto: Canva.com

Dit was die dae toe ons nog tevrede was met hoe ons skooldrag gelyk het. Die meisies wat hulle hare lank gedra het, het dit óf in poniesterte óf in vlegsels skool toe gedra. Dié wat kort hare gedra het, het dit doodgewoon kort gedra met ’n gordyntjie op hulle voorkop. Die seuns het hulle hare in geen styl gedra nie, dit was doodgewoon kort. Kortom: skool toe gaan is nie as ’n geleentheid vir ’n modeparade gesien nie.

Ek was seker so in standerd 2 of 3. Dit was die tyd van die jaar toe daar proefonderwysers by ons skool was. As ek reg onthou, was hulle kollegestudente wat daarna moes streef om in hulle “kritlesse” vir Engels sowel as Afrikaans ’n “groot” E en A te kry. Dit het beteken ’n student was ewe vaardig in Engels en Afrikaans. Daardie jare was dit ’n geweldige kompliment as ’n student ’n groot E én A in die finale eksamen kon behaal, want min Afrikaanssprekende mense kon vlot Engels praat, en andersom.  

Ek onthou op ’n klein (erg Afrikaanse dorpie) waar ons in ’n stadium gebly het, wou iemand sy huis verkoop. Hy het die verkoopsbordjie self gemaak, want hy wou ’n eiendomsagent uitskakel. Die oom was maar altyd suinig – die agent se kommissie, sien? Op die bordjie het hy ewe netjies geverf: “House to be sold”. Nugter weet waarom hy die bordjie in Engels gemaak het, want daar het omtrent drie Engelse gesinne op die dorpie gebly. Tensy hy gehoop het om sy huis aan een van húlle te verkoop, want ek onthou nou nog dat die Engelse gesinne die rykes op die dorp was. 

Maar om terug te keer tot my storie oor die groot E’s en A’s. Die voertaal in die Afrikaanse skole was daardie jare vanselfsprekend Afrikaans, maar in die Engelse klasse moes die klasse in Engels aangebied word. Soos ek gesê het, dit was ons skool se beurt om deur proefstudente “geteister” te word. (Dié woord het ek gehoor toe ek agter twee onderwysers op die stoep geloop het. Hulle was natuurlik nie van my teenwoordigheid bewus nie.)

Een betrokke periode is ons klas oorgelewer aan ’n studentejuffroutjie wat vir ons ’n “kritles” in Engels moes gee. Ek kan glad nie meer onthou hoe sy gelyk het nie, want ek het aan haar lippe gehang terwyl sy haar les gegee het.  

Om die verkeerde redes, maar wag, ek loop my storie vooruit.

Haar les het dié dag oor die enkelvoud en meervoud in die Present Perfect Tense gehandel.  “Has” en “have” dus. Hiervan het ons geweet, want ons klasonderwyseres het ons reeds hiervan geleer. Dit was soos om ekstra woestynsand na duin sewe toe aan te ry, maar ek veronderstel sy moes oor iéts vir ons lesgee. En wat ’n les was dit nie! Ek sê mos, ek het aan haar lippe gehang.

“Dere aar two words in de Present Perfect Tense designytieng numbness”, skop die juffrou haar les in ’n gruwelike nie-Engelse aksent en totaal ongrammatikaal af.  

’n Paar van die ongeskikter seuns en meisies het begin giggel, maar ek dink dit was meer omdat hulle nie verstaan het wat die juffroutjie éintlik wou sê nie.  

“Dese two words ar hus ênd huve.”

Nou was ek éérs dronkgeslaan. Van husse het ek geweet, trouens ons almal het van hulle geweet, maar “huve”? Nee, aikôna! Watter soort goeters was “huvve”? Sou hulle dalk kort ore hê teenoor husse wat lang ore het?!

Teen dié tyd het die hele klas gelê soos hulle lag. Die kinders sê mos, as jy iets nie verstaan nie dan lag jy daaroor, anders dink jou maats jy is dom. Ek het ook maar handdoek ingegooi en saamgelag, want wraggies, dit was nie Engels wat die juffroutjie gepraat het nie! Gelukkig het sy darem “has” en “have” op die bord geskryf sodat ’n lig vir ons opgegaan het.

My oog het na haar dosent by die onderwyserstafel gedwaal wat vir haar punte vir haar les moes gee. Hy het ewe kalm opgestaan, sy besittings bymekaar gemaak en die klaskamer ewe bedaard verlaat. Sonder om ’n woord te sê. Sy punte sou seker luider as enige woorde spreek.  

Noudat ek aan dié juffroutjie terugdink, weet ek sonder twyfel dat sy haar groot E met die spreekwoordelike Kaapse draai misgeloop het. Trouens, ek dink nie ek sou ver verkeerd wees as ek dink dat haar dosent haar in daardie eksamen géén e van enige grootte toegeken het nie.

Ons klasonderwyseres het blykbaar die juffrou se dosent by die klas sien uitkom en het teruggekeer klas toe.

“Wat gaan hier aan?” het sy streng gevra. “Juffrou, gaan asseblief aan met jou les,” het sy die juffroutjie beveel.

Laasgenoemde het weer dapper met haar “husse” en “huvve” begin.

“My liewe kind,” het ons klasonderwyseres haar gekeer, “dis geen wonder die kinders lag so vir jou nie! Kom ek help jou tog reg voordat jy nog geslagte der geslagte kinders se Engels verfomfaai. Waar kom jy tog vandaan? Seker van Eenstraatstad af waar julle nie die verskil tussen ‘yes’ en ’no’ ken nie!”

Ons klasonderwyseres was nooit bekend of bemind vanweë haar taktvolheid nie, maar boeta, sy het haar Engels geken!

Eons daarna besluit oom Sam die land se amptelike taal “shall be English”. Baie mense het met hierdie besluit geworstel, oom Sam inkluis. Hy was voortdurend vreeslik bekommerd oor die land se “probrems”. Die mense het by voorbaat begin grinnik toe hulle begin dink aan komende verkiesings.

Die feit dat die amptelike landstaal Engels was, het natuurlik beteken dat al wat ’n vak is ook in Engels gegee moes word, behalwe natuurlik die nie-Engelse tale. Ja, so het dit in die sillabusse gestaan, maar moenie glo nie! As ’n mens se Engels nie vlot was nie, kon jy nie ordentlik vir die kinders byvoorbeeld Afrikaans leer nie.  

Ja, Engels, Engels wat ons sien en hoor. In ons skole sukkel baie onderwysers om nie hul vak te versmoor nie.

So was daar die onderwyseres wat vir die kinders van een of ander “alliance” beduie het, maar sy het dit “aliens” uitgespreek. Op ’n dag loop ek by die Engelsonderwyseres se klas verby. Sy het daarop geroem dat sy baie goed in haar vak was, daarom kon ek dit nie glo toe ek hoor dat sy “blasphemy” “blasfeemie” uitspreek nie!

In ’n stadium los ek ’n paar weke by ’n laerskool af. Dié keer kry ek met ’n kollega te doen wat só intens Afrikaanssprekend is dat sy haar nie steur aan die fyn betekenisonderskeidinge wat Engels tussen sekere woordpare tref nie. Miskien was sy nie daarvan bewus nie.

In daardie stadium van die jaar was die onderwysers besig om die graadsewes vir die hoërskool voor te berei. Op ’n dag kom mev Weeluis my klas binne en bedel ’n paar minute van my klastyd by my af om iets aan die graadsewes te verduidelik. Alles moes natuurlik steeds in Engels geskied al het oom Sam nie meer op die troon gesit nie – sy besluit dat die land se amptelike taal “shall be English”, was in klip gebeitel. Mevrou Weeluis se missie daardie dag was altruïsties, want sy het die kinders se voorspoed op die hart gehad. Beduie sy vir hulle hulle moenie hulle sommer by die eerste hoërskool laat inskryf waarvan die naam opduik nie – hulle moet hulle opsies ordentlik oorweeg: “See which one fits you best!”

Ek en my Engelsman lag vandag nog soos ons voor ons geestesoog sien hoe die kinders die verskillende hoërskole probeer aanpas om te sien watter een pas die beste! 

Ek sit onlangs in ’n kerk waar die diens in Engels gevoer word. Omdat ek die prediker ken, weet ek sy huistaal is Afrikaans. Deur die loop van sy betoog praat hy van iemand “that doesn’t turn diapers”. Soos jare gelede met die juffroutjie met haar “huvve” is ek dronkgeslaan totdat hy in Afrikaans sê “draai nie doekies om nie”. Sjoe!, dink ek in my enigheid, kan hy dan nie in ’n woordeboek belê nie?! Ek kan nou nog nie besluit of die gemeente vír hom of mét hom gelag het nie, want ’n groot deel van eersgenoemde is eweneens Afrikaanssprekend. 

Maar vir my is die ergste van alles die gedoenery in Afrikaans op die Engelse patroon. Ek vra, nie so lank gelede nie, in ’n apteek of hulle nie dalk vir my metaforiese Smarties skuld nie, want myne het darem té gou gedaan geraak. Die aptekertjie kyk op ’n lysie en sê ewe vriendelik, “ons doen”. ’n Buurman wat sy neus vir alles plaasliks optrek, vertel vir my oor sy selfoon dat die gevreesde koronavirus volgens ’n plaaslike koerant nou ook in ons land is. “Jy het dan vir my gesê jy lees nie plaaslike koerante nie!” is my verbaasde reaksie. “Ek doen nie, my swaer het vir my gesê,” is sy hovaardige reaksie. 

Toe vervies ek my vir sy gruwelike Afrikaans en ek skryf terug: “Et tu Brute?” Maar my Shakesperiaans het hy nie verstaan nie. Nog minder waarna dit verwys het.

Man, all these things make me the chickens in!

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Erasmus

    My skoondogter vat hul 6-maand-oue Rottweiler reunhondjie om afgerig te word. Weet nugter nie in wat nie, maar dit daar gelaat. Die klas word deur 'n Afrikaanssprekende dame aangebied wat in Engels aankarring. Sy laat hond en eienaar aantree en gee die inleiding van wat en wat om nie te doen nie. Sy begin "Don't let your dogs put ears on you". (Moenie dat jou hond jou ore aansit nie). Hulle is nie weer hondeskool toe nie. Die hond is nie baie lank daarna nie deur 'n polisiebeampte "ontdek" en is hy by die SAPD aanvaar en is as dwelmsnuffelaar opgelei. Hy het 'n vlekkelose loopbaan by die SAPD gehad en het as Sersant afgetree.

  • Of soos die koshuiskind, tydens studietyd besig met sy Engelse opstel, vir die onderwyser saggies fluister: "Meneer, wat is 'n kaartbortboks in Engels?"

  • Dink net hoe ontsteld 'n inspekteur was toe tydens 'n inspeksie verby 'n klas loop en hoor hoe die juffrou die volgende in die arme bloedjies indril."Trees has carrots."
    Onsteld loop hy by die skoolfhoof se kantoor in.
    Die onderneem om die ou sakie dadelik reg te stel. Na pouse loop die inspekteur
    weer by die klas verby om te hoor. "Trees have carrots."

    Aan al die lesers: "May all your trees have carrots in 2021!"

  • Tog is Engels nie so vreemd nie; trouens, dis die bekendste taal ter wêreld. Almal verstaan dit, en almal kan dit praat, hoe skeef en krom, selfs met carrots en al. Selfs in Rusland sal die onderhoud met 'n Russiese tennisspeler na die wedstryd in Engels wees. Die skeidsregter kondig ook die telling van 'n wedstryd in Engels aan. In Frankryk, waar die Engelse so gehaat word, sê die skeidsregter eers die telling in Frans, maar herhaal dit daarna in Engels. Hier in Suid-Afrika is dit seker maar net die Riemvasmakers wat net Afrikaans en Koi verstaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top