Beste Jan
Die woorde “rugstekers, joiners, meelopers, agterryers en verraaiers” wat jy naas “slapgatte” so gretiglik by herhaling gebruik, het hulle oorsprong in die tweede Engelse oorlog, ’n werklike bitter oorlog, waar broeder teen broeder verraad gepleeg het. Ek het die woord “Boereoorlog” gebruik, want ek was onseker of jy die “vyand” uitsluitlik in ’n Engelse konteks gesien het, en of ander, bv die ANC ook daarby betrek het of nie.
Hoe dit ook al sy. In die moderne konteks, het hierdie woorde geniepsige skelwoorde geword wat uitsluitlik deur ’n klein groepie ultra-regses (en ek sluit Praag hierby in) gebruik word om hulle mede-Afrikanerbroers te etiketteer wat nie hulle politieke sieninge deel nie. ’n Groep wat vandag vanuit 30 uiteenlopende groepe bestaan, wat nie net die breër Afrikaner buite hulle groep als sulks etiketteer nie, maar selfs onderling. Die meerderheid konserwatiewe Afrikaners oor die volle politieke spektrum, gebruik hierdie woorde glad nie, want hulle voel geen behoefte daaraan nie.
In die modern konteks het hierdie woorde sinoniem geword met politieke en kulturele onverdraagsaamheid teenoor mede-Afrikaners in pogings om ander se sieninge na eie siening te probeer manipuleer.
Vandag se Afrikaner is nie eens daarvan bewus dat hy in ’n oorlogsituasie met die Engelse verkeer nie en anders om, die dat ek die woord “mitiese” oorlog in my vorige skrywe gebruik het. Dat die Afrikaner ’n stryd voer vir oorlewing (nie teen die Engelse nie) is ongetwyfeld, maar ver van oorlog af.
Dat daar Afrikaners is wat hulle kultuur vaarwel wil sê, ander wat hulle kinders in Engelse skole plaas, of dat ’n spyskaart nie in Afrikaans voorkom nie, of Afrikaners wat vir Engelse koerante werk en die Afrikaner afkraak (nog nooit gesien nie), sê ek “So what?” Ek het nie nodig om hulle venynig te etiketteer nie. Ek besit nie die volle feite van elkeen se indiwiduele redes aangevoer vir sodanige optrede nie. My siening is elkeen het ’n reg om vir homself te besluit waar hy wil wees, en sodanige reg respekteer ek. Hulle druis nie teen my regte in nie. Daar is meer as genoegsame Afrikaners wat die Afrikaner-liggaam ongeskonde en behoue laat bly vir beide die hede en die toekoms, as om te top oor die paar gevalle hierbo genoem.
Jan. Werklik Weens die aard van my werk, kom ek verskillende politiese denkende Afrikaners tee, veral Afrikaner-landbou-boere. Daar is diegene wat COPE; die meerderheid DA; van hulle wat selfs ANC, ondersteun (nog nie ’n VF+ ondersteuner teëgekom nie), selfs van hulle wie se kinders in ’n Engelse landboukollege net buit Pietermaritzburg is. By braaivleise, feeste, en verenigings, stry hulle polities bitterlik onderling, polities verdeeld maar kultureel verenig. Ek het nog nie eenkeer gehoor dat hulle mekaar met hierdie skelwoorde toeslinger nie. Inteendeel, soos ek hierdie boere ken, word enige een van hulle daarmee beledig, maak nie saak waar die politieke siening onderling verskil nie, kry ek sodanige persoon jammer, want hulle sal so ’n persoon behoorlik roskam, platweg gesê, moer.
In jou persoonlike lewe. Om so baie bitterheid saam met jou rond te dra kan beide jou fisiese en geestelike gesondheid nie goed doen nie. Bv sien jy my vir ’n “hanskakie” aan, voel ek vere. Jy is die een wat die bobbejaan op jou skouer saam met jou ronddra, nie ek nie.
Jaco Fourie

