
Foto: Canva
Die volgende graf
My pa het my nooit sirkus toe geneem nie. Ook nie kerk toe nie.
Ek moes mooi aantrek vir ouma.
Vroegoggend altyd gery.
Eers gegroet by oom Jan en tannie Let se hotel. Pa het altyd ’n dop gekry.
Ons het saam by die hek ingeloop.
“Ja, hier lê Ouma.”
Volgende graf. “Ek het nooit vir Oupa geken nie.”
Volgende graf. “Kyk die engeltjie. Tannie Let se babatjie.”
Volgende graf. Borsbeeld as grafsteen.
“Wie is dit, Pappa?”
“Barnie Human se seun. Motorfiets.”
“Hy kyk vir ons, Pappa.”
“Ja. Sy koper oë sien ons.”
Pa sit.
Die duiwe koer.
Ek kyk na die klippe.
Ek wonder hoe dit lyk in ’n kis.


Kommentaar
Edna beskryf hier die onvermoë van 'n man om sy eie verlies te verwerk, deur dit met drank te probeer regkry.
In plaas daarvan om sy dogtertjie, mooi aangetrek, na 'n opwindende plek soos die sirkus te neem of saam met haar kerk toe te gaan, waar die grondslag gelê word vir haar sosiale, morele en geestelike ontwikkeling, word sy na die begraafplaas geneem - 'n plek van hartseer, pyn en verlies.
So leer sy op 'n jong ouderdom dat die wêreld 'n pynlike plek kan wees en bou sy sodoende mure om haar hart om emosioneel veilig te voel en om beskerming te bied.
Dit word vir my bevestig deur die gedagte van hoe 'n kis van binne sou lyk.
Was Pa nie maar net dors nie? Moes hy nou juis rooi koeldrank of oros drink? Ek sien geen aanduiding dat hy 'n drankprobleem gehad het nie. Maar mens kan seker een uit die duim suig, nè?