Die Voëlvry-beweging se groter konteks
2007

  • 0

Voëlvry: The movement that rocked South Africa
Pat Hopkins
ISBN: 9781770071209

Klik hier en koop Voëlvry: The movement that rocked South Africa by Kalahari.net

Met die publikasie van die boek Voëlvry is die stormagtige tydperk van die tagtigerjare weer in die nuus. In die beriggewing rondom die verskyning van die boek is daar tot dusver nie verwys na die ander komponente wat 'n rol gespeel het in die stryd teen apartheid en die demokratiseringsproses nie. Die rol van onder meer kabarette, dramas, literêre tydskrifte en alternatiewe uitgewersisteme het ook 'n bydrae gelewer tot die proses van die demokratisering van Afrikaanse musiek – en moontlik die Afrikaanse samelewing.

Die tagtigerjare is gekenmerk deur landwye protes en verset teen die apartheids­regering van PW Botha. Dit was die tyd van "Stem ja" en "Stem nee"; van kadette op skool; van "necklacing" en "klipgooiers" en kinders wat skole afbrand; van "Liberation before education"; van "army" en "diensplig" en "ons land verdedig". Dit was die tyd van die noodtoestand en streng mediawetgewing; van die "Rubicon"-toespraak en van die Dakar-samesprekings. Dit is in hierdie tyd dat die Voëlvry-beweging as aktiewe verset teen 'n sekere ideologiese stelsel ontstaan het. Hulle lirieke het teen sosiaal-politieke toestande en die heersende middel- en heersers­klaswaardes gerebelleer.

Dit was ook 'n teenreaksie teen die vertalings van treffers uit die oorsese musiekmark en die min oorspronklike Afrikaanse musiek wat in die 1970's geskryf is – soos veral gesien in die musiek en vertonings van Bles Bridges. As teenvoeter het die musiek-en-liriek-beweging aan die einde van die sewentigs en die begin van die tagtigs 'n groot bydrae gelewer om Afrikaanse musiek te bevry. Hulle het probeer om gehalte­musiek in Afrikaans te skep met lirieke waarvoor die Afrikaanssprekende nie skaam hoef te gewees het nie. Van die kunstenaars was mense soos Anton Goosen, Laurika Rauch, Mynie Grové en Clarabelle van Niekerk. Hieruit het die "alternatiewe" kunstenaars, soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand, as protes teen die sogenaamde luisterliedjie ontstaan. Hulle wou deur middel van rockmusiek kritiek teen die Suid-Afrikaanse sosiopolitieke werklikheid uitspreek.

Maar naas die musiek was daar ook ander kunsvorme en publikasies wat onbewustelik saamgewerk het in die protes wat deur die Voëlvry-beweging gekenmerk is.

Max du Preez verwys in die Voorwoord tot Voëlvry na die ontstaan van die onafhanklike koerant Vrye Weekblad. Hy skryf:

We had no respect for authority,and we saw it as our duty to make fun of the Fathers of the Volk. We had a general fuck-you attitude, and didn't beleive the 1980's was a time fot subtlety and good manners. We were labelled "alternative Afrikaners".

Du Preez verwys verder daarna dat die Voëlvry-beweging en die koerantpublikasie onafhanklik van mekaar ontwikkel het, alhoewel daar 'n gemeenskaplike doelwit was:

Both groups sensed that the time was right for a hurricane of change to blow through the arrogant, narrow-minded, insular, authoritarian and racist world of Afrikaner nationalism.

In die sestiger- en sewentigerjare het skrywers hul eie literêre tydskrifte gestig, die sogenaamde "little magazines". Voorbeelde van die little magazines is Wurm (1966–1970), Ophir (1967–1976), Izwe (1971–74), Ensovoort, Graffier, Akuut, Skryf, Wiesie, The Bloody Horse en Stet. Hierin het 'n eksperimentele tipe poësie en dikwels poësie teen die gangbare literêre en politieke orde verskyn. Digters wat in die little magazines gepubliseer het, is onder andere Johan van Wyk, Rosa Keet, André Letoit, Louis Esterhuizen, Johann de Lange en Theunis Engelbrecht; Wilma Stockenström het in Wurm, Ophir en Izwe gepubliseer. Van die little magazines (soos Taaldoos in 1981) is in die tagtigerjare verbied. Akuut en Skryf publiseer werke van jonger digters, maar ook van bruin en swart digters soos Clinton V du Plessis.

Reeds gevestigde literêre tydskrifte soos Standpunte en Tydskrif vir letterkunde publiseer in daardie tyd nog steeds letter­kundige bydraes; alhoewel Standpunte in 1986 ophou publiseer. Selfs nieliterêre tydskrifte soos De Kat en Insig (in 1985 en 1987 onderskeidelik begin) begin aandag skenk aan literatuur.

Van die little magazines-digters stig later hul eie uitgewerye, hoofsaaklik omdat hulle nie by hoofstroomuitgewers (daarmee word bedoel die Naspers-groep) kan publiseer nie. So stig Etienne van Heerden en Louis Serfontein 'n uitgewery, Uitgewery Skoppensboer, en publiseer in 1981 Brekfis met vier, 'n bundel waarin André le Roux du Toit, Daniel Hugo, Peter Snyders en Etienne van Heerden saam debuteer. Die rol van die literêre tydskrifte in die tagtigerjare kan nie onderskat word nie, aangesien dit ruimte gebied het vir eksperimentele werk wat deur sommiges as te gewaagd of as 'n risiko beskou is.

Alternatiewe uitgewerye het ontstaan. Taurus is in 1975 gestig en het werke gepubliseer wat om sensuurredes deur gevestigde uitgewers afgekeur is of wat moeilik aanvaarbaar was. Dit was 'n klein onafhanklike uitgewery wat na bykans 20 jaar in 1992 gesluit is en wie se fondslys deur Human & Rousseau oorgeneem is. Verskeie rolspelers binne die Afrikaanse literêre sisteem, soos Ampie Coetzee, John Miles, Hans Pienaar en Ryk Hattingh, was betrokke by Taurus. Nog 'n alternatiewe uitgewery, Hond, het 'n kort bestaan gehad en in 1994 opgehou publiseer. Die twee uitgewerye het uitdagende literatuur gepubliseer en het ongebonde van die hoofstroomuitgewers gefunksioneer. Die twee uitgewerye publiseer werke van onder meer Breyten Breytenbach en Antjie Krog; terwyl Taurus in 1991 die opspraakwekkende roman van John Miles, Kroniek uit die doofpot, publiseer.

Ander alternatiewe uitgewerye van die tagtigerjare was die Genadendalse Drukkery, Prog, Domestica, Blac Publishers en Kampen. Dié uitgewerye publiseer die werk van die struggle-digters van veral die Kaapse Vlakte. So is Prog-Uitgewers deur die digter Patrick Petersen gestig en publiseer werke wat sterk teen die apartheidsbestel staan, soos werke van onder meer Floris Brown en André Boezak. Die struggle-poësie van die bruin digters is verder gepubliseer in versamelbundels soos Aankoms uit die skemer (1986), I Qabane Labantu (1989) en Optog (1990). Enkeldigbundels van Hein Willemse (Angsland, 1981), Peter Snyders ('n Ordinary mens, 1982), Frank Anthony (my robbeneiland my kruis my huis, 1983) en Patrick Petersen (Amandla ngawethu, 1986) verskyn ook in dié tyd. In 1987 verskyn die versamelbundel SA in poësie / SA in poetry (saamgestel deur Johan van Wyk, Pieter Conradie en Nik Constandaras) en in 1989 die versamelbundel I Qabane Labantu (saamgestel deur Ampie Coetzee en Hein Willemse), wat protesgedigte bevat. Dit beeld 'n alternatiewe beeld van die poësie en die samestellers van SA in poetry / SA in poësie bied byvoorbeeld eerder 'n histories geordende beeld van die sosiale bewussyn wat verbonde was aan die sosiale praktyke binne die geskiedenis van dié tydvak, asook om grammatikale en stilistiese verskuiwings in die taal aan te dui.

Tesame met hierdie digterstemme was daar die invloed van die gemeenskapsteater en amateurtoneelaktiwiteite van byvoorbeeld die Cape Flats Players. Die Swart Afrikaanse Gemeenskapsteater (SAG) is vir 'n doktorale proefskrif deur Julian Smith ondersoek. Hy verwys na die verskillende tipes van die SAG-dramas en beklemtoon dat die oorgrote meerderheid van hulle tekste handel oor sosiale probleme en politieke kwessies. Saam met die amateurtoneelgeselskappe van dié tyd gaan die gemeenskapsteaters wat amateurtoneel opgevoer het.

Voëlvry verwys verder na die Afrikaanse protesteater en kabaret wat in die tagtigerjare 'n sterk opbloei getoon het. Daar was byvoorbeeld Deon Opperman se Môre is 'n lang dag, Reza de Wet se Diepe Grond en Ryk Hattingh se Sing jy van bomme. Terselfdertyd is die effek van die groepsgebiedewet en gedwonge verskuiwings deur David Kramer en Taliep Petersen ontgin in Distrik Ses.

Wat die Afrikaanse drama van die tagtigerjare betref, is die grensoorlog waarskynlik die vernaamste tema met die dramas Môre is 'n lang dag (1986), Stille nag (1990) en Donkerland (1996) deur Deon Opperman. Ander aktuele en algemene politieke temas is ook ontgin in die dramas van byvoorbeeld PG du Plessis en Pieter-Dirk Uys.

'n Paar nuwe temas het in die tagtigerjare na vore gekom, soos die gay-tema (onder meer in dramas van Hennie Aucamp en Pieter-Dirk Uys) en die metadrama (soos gevind in die dramas Ek, Anna van Wyk deur Pieter Fourie en Ontmoeting by Dwaaldrif deur Henriëtte Grové). Die ATKV se Kampustoneel (in 1983 begin) het gehelp in die skep van nuwe Afrikaanse dramas – en veral in die publisering van bykans 50 nuwe tekste. Baie van die mense betrokke by Kampus­toneel het uit die toneelwêreld gekom en was dikwels mense met universiteits­opleiding. Dramaturge wat na vore getree het, is onder meer Harry Kalmer, Nico Luwes, Charles J Fourie, George Weideman.

Die Engelse en die opkomende swart drama is veral deur die Ruimte in Kaapstad en die Markteater in Johannesburg ontwikkel. Met die oog op die televisie lewer dramaturge soos Chris Barnard, Karel Schoeman, Paul C Venter en Lerina Erasmus tekste op, alhoewel daar ook nie veel protes of veel "alternatiefs" aan die televisiedramas was nie. Baie was in navolging van Amerikaanse televisiereekse en min oorspronklikheid en vernuwing het plaasgevind.

Die baanbrekerskabaret Piekniek by Dingaan – oorspronklik met die titel Die kinders van Verwoerd (met onder andere Nataniël, Marthinus Basson, Johannes Kerkorrel, Gustav Geldenhuys en Elna van Wyk, en Gerrit Schoonhoven as regisseur) – is in 1988 by die Grahamstadse Kunstefees opgevoer en het die versetbeweging versterk. Beswaar is gemaak teen die aanpassing van "Die Stem", satiriese kommentaar op PW Botha se televisie-optredes en die sogenaamde godslasterlikhede – veral in die woorde: "In die begin was die Woord, en die Woord was God, en die Woord het vlees geword en die vlees vrees en onder ons kom bang word." Die kabaret is byvoorbeeld verbied om by die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer te word en het verskuif na die Baxter-teater, waar dit voor vol sale gespeel het. Ook die kabarette Met permissie gesê, Slegs vir almal en Blomtyd is bloeityd van Hennie Aucamp, wat onderskeidelik in 1980, 1985 en 1987 opgevoer is, Onder ekstreme provokasie en Ekskuus vir die wals van Etienne van Heerden, wat onderskeidelik in 1982 en 1983 opgevoer is, en Hallo Suid-Afrika (1986) deur Casper de Vries, se rol in die versetbeweging moet nie onderskat word nie. Belangrike temas van die kabarettekste was politieke protes; spottery met gesags­figure en uitdaging van gesag; kritiek op militêre diensplig; en die ongelykhede in die samelewing.

Die letterkunde het ook nie agterweë gebly nie en in Voëlvry word verwys na Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena (1979) as die invloedrykste boek wat in dié tyd verskyn het. Dit bring die swaarkry van swart mense onder Afrikaanse lesers se aandag. Die verbod op Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein, wat in 1977 verbied is, word in 1980 opgehef. Ander belangrike romans uit die tyd is onder meer Is Sagie (Jan van Tonder, 1987), Die jaar toe my ma begin sing het (Engemi Ferreira, 1988), Barry Hough se jeugromans, Dalene Matthee se bos-romans en Toorberg (Etienne van Heerden, 1986).

Kongresse deur die Afrikaanse Skrywersgilde (in 1975 begin) en die Afrikaanse Letterkundevereniging (in 1984 gestig) het daartoe bygedra dat meer gesprekvoering oor grense plaasgevind het, en belangrike sake soos sensuur is aangeraak. In 1985 word 'n simposium oor swart Afrikaanse skrywers by UWK gehou, oor spesifieke probleme wat bruin Afrikaanse skrywers ondervind; terwyl in 1989 'n byeenkoms by die Victoria-waterval plaasvind tussen Suid-Afrikaanse skrywers en die ANC.

Die tagtigerjare was ook die tyd van die sogenaamde grensliteratuur. Tydens die Afrikaanse Skrywersvereniging se Jaarvergadering in 1985 het Gerrit Olivier die term bevraagteken. Hennie van Coller het in TT Cloete se Literêre terme en teorieë sekere eienskappe van grensliteratuur genoem, onder andere dat dit verband hou met die Viëtnam-literatuur, 'n oorheersing van 'n neodokumentêre inslag het, en meestal kort prosatekste is. Die term het aanvanklik verwys na literatuur wat verband gehou het met die gewapende konflik – hoe direk of indirek ook – maar het later ook verwys na eksistensiële grense. Die Suidwes- (Namibië-) en Angola-grense is dié plekke waar militêre konflik in Suid-Afrika plaasgevind het en is daarom in tekste ontgin. Van die outeurs was op een of ander manier betrokke by die konflik: as soldaat, as familielid van iemand wat grensdiens gedoen het, as joernalis. Tekste uit dié tyd is Etienne van Heerden se My kubaan (1983) en Om te awol (1984); Alexander Strachan se 'n Wêreld sonder grense (1983); Gawie Kellerman se Wie de hel het jou vertel? (1988); en Koos Prinsloo se Jonkmanskas (1982) en Die hemel help ons (1987). Die vrou se belewenis van die oorlog is ook nie geïgnoreer nie – soos gesien in die werke van Riana Scheepers, Maretha Maartens, Welma Odendaal, Lettie Viljoen en Petra Müller.

Wat die digkuns betref wil dit voorkom of die tagtigerjare 'n opbloei van debute gelewer het: 101 debute het in dié tyd plaasgevind, teenoor 69 in die sewentiger­jare, 36 in die sestigerjare, en 66 later, in die negentigs. Van die nuwe name wat in die 1980's gedebuteer het, is Hein Willemse, Johann de Lange, Theunis Engelbrecht, Peter Snyders, Clinton V du Plessis, Joan Hambidge en Henning Pieterse.

Die belangrike rol wat die Voëlvry-beweging as 'n protesbeweging gespeel het, kan nie onderskat word nie. Dit het vernuwing in die Afrikaanse musiekwêreld gebring en baie van vandag se "jong" kunstenaars is in navolging van die Voëlvry-musikante. Van die temas en "issues" wat in die hedendaagse lirieke aangeraak word, is 'n uitvloeisel van die kwaadheid en protes van die alternatiewe musikante van die 1980's. Die Voëlvry-beweging het egter nie in isolasie gefunksioneer nie en ander rolspelers was ook betrokke in die proses van demokratisering en in die proteskarakter wat in die tagtigerjare geheers het.

In 2005 was die tema van die Woordfees in Stellenbosch Die Tagtigs en baie gesprekke en lesings oor die tagtigerjare het plaasgevind. Elize Botha het op 10 Maart 2005 'n referaat gelewer oor die vraag of daar van 'n Tagtigerbeweging gepraat kan word en het tot die gevolgtrekking gekom dat daar nie van 'n beweging gepraat kan word nie, maar dat daar wel beweging was in die Tagtigs. En dit is moontlik die beste opsomming van die woelige tydperk van die 1980's.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top