Die voeë en nate van André P Brink se lewe en werk boeiend tot stand gebring in memoir

  • 0

Titel: ’n Vurk in die pad
Outeur: André P Brink
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798149969

 

Die teoretikus Roland Barthes het ons geleer daar is nie iets soos ’n onskuldige leser nie. Daarom is dit dalk goed om reeds aan die begin van ’n resensie soos dié oor André Brink se outobiografie ’n Vurk in die pad jou kaarte as leser op die tafel te sit. Ek moet dus vooraf bely dat ek die boek veral met twee motiewe gelees het: as letterkundige wou ek graag sien hoe Brink die genre van outobiografie-skrywing hanteer en as belangstellende in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde wou ek graag verneem wat Brink se perspektief is op belangrike gebeure wat hy self meegemaak het en wat sy boek onthul omtrent sy ontwikkeling as skrywer. Hierteenoor het buitelandse resensente veral gefokus op die wyse waarop die outobiografie Brink se ontsnapping uit die laer van die Afrikanervolk en die ontwikkeling van sy politieke standpunte as internasionaal-gerekende skrywer teken.

Tussen al die verskillende subsoorte van die outobiografie kies Brink die vorm van die memoir om sy lewensverhaal te vertel. Volgens definisies van die memoir plaas hierdie vorm die skrywer as deelnemer en waarnemer binne ’n bepaalde sosiale konteks; daarby fokus dit op gebeure en mense wat die skrywer meegemaak het eerder as op homself. Dit verklaar waarom Brink byvoorbeeld skryf oor ’n ete saam met Mandela terwyl die name en besonderhede van sommige mense met wie hy baie intiem saamgeleef het, nie ter sprake kom nie. Hy sê ook in die epiloog van die boek dat daar vertrouensverhoudings en privaathede was wat hy nie wou skend nie. Hy maak dus bepaalde keuses oor wat en wie hy wil onthul: hy skryf byvoorbeeld eerlik en openlik oor sy verhouding met Ingrid Jonker, maar noem ’n ander minnares net H. Verder skryf hy ook meer indringend oor reeds-gestorwe familielede soos sy ma, pa en suster Elbie as oor sy broer en ander suster, sy huweliksmaats of kinders. Hierdie keuses wat die skrywer van ’n memoir onvermydelik moet maak, veroorsaak egter wel dat daar sekere gapings in die lewensverhaal is en iets van ’n wanbalans indien ’n mens soek na ’n werklik omvattende beeld van Brink se lewe.

Brink verduidelik in die epiloog wat hom uiteindelik daartoe beweeg het om dié memoir te skryf ná sy jare lange onwilligheid om so iets aan te pak: die deurlopende gesprek met sy jong Poolse vrou, waarin hy vir haar baie dinge moet vertel en verduidelik, het hom bewus gemaak daarvan dat daar gebeurtenisse in sy lewe is waarna hy self indringender wil kyk om dit te verstaan. Wat in hierdie geval waarskynlik die sterkste uitstaan, is die poging om sy verhouding met sy pa te probeer peil. Deurdat hy dit onder andere plaas binne die historiese en politieke konteks waardeur dit medebepaal is, skryf hy ’n insiggewende hoofstuk oor Afrikaanse skrywers van sy generasie se verhouding met hulle vaders.

Brink se keuse vir ‘n outobiografie wat tegelyk memoir én (self-)verduidelikende vertelling is, bepaal die struktuur van die boek. Dit word episodies aangebied, eerder as wat die vertelling die verloop van sy lewe op die voet volg. Bepaalde momente of temas word uit die lewe geselekteer en die hoofstukke dan daarom gebou. Daar is byvoorbeeld hoofstukke wat handel oor geweld, oor die verhouding tussen swart en wit, oor briewe wat hy ontvang het, oor sterftes wat hy moes meemaak en oor uitgewers, om maar enkele voorbeelde te noem. Meermale funksioneer die foto’s wat in die boek ingesluit word, as stut of selfs prikkel vir die herinnering aan bepaalde gebeurtenisse, soos in die geval van die foto waarop Brink as jong seun poseer met ’n dooie springbok. Die ouer skrywer wat terugkyk op die verlede maak daardie foto op sinvolle wyse deel van sy betoog oor die alomteenwoordigheid van geweld in Suid-Afrika. Die sterk ooreenkomste tussen tonele in hierdie outobiografie en in Brink se romans toon hoeseer werklikheid en verbeelding mekaar beïnvloed in die geval van hierdie outobiografie: dit word duidelik dat sy romans beïnvloed is deur sy werklike ervarings, maar ook dat sy weergawe van werklike ervarings die skyn van romantonele begin kry. ‘n Mens merk ook elemente van Brink se styl as akademikus en literêre kritikus in hierdie outobiografie, soos byvoorbeeld sy gebruik van verwysings (wat deur een resensent gelees word as ’n provinsiale gebrek aan sekuriteit) en sy vreeslose uitgesprokenheid (soos in die laaste hoofstuk waarin hy die huidige regeerders van Suid-Afrika kritiseer).

Die sterkste suggestie van ’n chronologiese lyn en kousale opeenvolging kry ’n mens in dié gedeelte van die boek waarin Brink vertel van sy politieke bewuswording wanneer hy as student in Parys hoor van Sharpeville, sy deelname aan die Sestiger-beweging, sy tweede verblyf in Parys tydens die studente-onluste van 1968, sy besluit om hom in Suid-Afrika te vestig eerder as in die buiteland, sy ervaring van sensuur met die verbod op Kennis van die aand in 1974 en sy ondervindinge met die veiligheidspolisie in die apartheidstryd. Die beginhoofstukke in die boek waarin sekere temas verknoop word met ’n beskrywing van sy kinderjare het ’n sterk verliteratuurde inslag (soos in die beskrywing van sy gelyktydige ontdekking van seks en taal as jong seun), terwyl die hoofstukke oor sy ervarings sedert die sestigerjare ’n meer feitelike inslag het en met groter passie en inlewing geskryf word.

Indien ’n mens kyk na die beeld wat Brink van homself en sy tyd voorhou in hierdie outobiografie, sou ’n mens interessante vergelykings kon tref met die outobiografieë van Afrikaanse skrywers wat in die afgelope aantal jare verskyn het, naamlik dié van Karel Schoeman, Elsa Joubert, Jaap Steyn en Dot Serfontein (oor Schoeman en Joubert se outobiografieë het Brink hom nogal sterk uitgespreek). Uiteindelik kry ’n mens nie by die lees van Brink se boek die gevoel van ’n besondere soort self-verheerliking of self-vergoeliking nie. In ag genome die feit dat ’n mens jouself waarskynlik nie as die skurk van jou eie lewensverhaal sou uitbeeld nie, meen ek tog dat Brink hier ’n sober en geronde beeld gee van dit wat sy belangrikste dryfvere, motiewe en dalk ook gebreke was.

Besonder boeiend is die wyse waarop Brink insae gee in sy eie ontwikkeling as skrywer deur te verwys na die ideologie onderliggend aan sy heel eerste skryfpogings in die vyftigerjare, die eksistensialistiese roes waarin hy sy Sestiger-romans geskryf het (hy vertel onder andere dat hy en Ingrid Jonker Orgie eintlik saam geskryf het), en sy uiteindelike besluit om politieke romans te begin skryf. Terselfdertyd gee hy ’n lewendige beeld van die konteks waarbinne hy as skrywer moes funksioneer: die Sestigers se pogings om hulleself los te maak van ’n parogiale Afrikaner-kultuur, die versmorende politieke klimaat geskep deur apartheid, die uitbreiding van sensuur om Suid-Afrikaanse skrywers aan bande te lê, die oprigting van die Afrikaanse Skrywersgilde en die uitgewery Taurus om sensuur te beveg, en ontmoetings van skrywers met die ANC in die tagtigerjare. Sy status as wêreldskrywer is ook ’n direkte skakel na die ontmoeting met talle ander belangrike mense, soos wat sy memoir veelvuldig getuig.

Vanuit my perspektief gesien was ‘n Vurk in die pad ‘n besonder lonende leeservaring. Brink het in sy leeftyd as skrywer, vertaler, kritikus en akademikus ’n oeuvre van monumentale omvang tot stand gebring en hierdie memoir toon op boeiende wyse waar die voeë en nate van sy lewe en werk lê.

  • Hierdie resensie is oorspronklik uitgesaai in die boekeprogram van Fine Music Radio, Kaapstad.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top