Die vlag

  • 1

Hierdie hele storie in die hof oor “verban die vlag” het iewers tussen my onbetrokke, afsydige en kil hartsnare een gekry om geraak te word – wat ek nie in my wildste drome gedink het nog geroer sou kon raak nie. Die media bring daagliks veel erger horribale gebeure na vore, maar nogtans.

Die dag toe my klein, spierwit seuntjies in verwondering gestaan het voor die reusagtige beeld van die Unknown Hero (’n amper identiese beeld van ons Father of the Nation) in die Heroes Acre neffens Windhoek, het ek besluit ek mag nooit, ooit my emosionele bagasie op hulle durf aflaai nie. My eerste gedagte was: “My fok my kind, in die ’70/80’s was daar bosoorlog ...”

Daar en dan het ek besef ek kan nie, mag nie hierdie soort kak benadering in hulle jong breintjies plant nie.  Hulle moes doodgewoon, in die naam van “national reconciliation” polities dink en doen wat hulle eie ervaringe hulle later sou leer. Nogals is ek nou, 20 jaar later, trots op hulle – noudat hulle manne is en elk hul eie verskillende lewenstyle handhaaf – in vrede en harmonie met die meeste.

Ek was so trots op myself – die dat ek so progressief was, sien.  Daar is ook nie eers ’n ou SA landsvlag naby my of my huis nie. Maar die wetter weet, hierdie saak kan nie verkoop word as “nostalgie vir Apartheid” of “rassisme” of “minagting vir gelykheid” nie. Of ek nou toentertyd gebreinspoel was deur die Nasionale Party of nie, die vlag en sy lied is so te sê deel van my DNA as ’n Afrikaner wat grootgeword het net na republiekwording in die ’60’s (en ’n Voortrekkertjie in ’n optog met duisende klein waaiende landsvlaggies) – dis veel, veel meer diepgaande as nostalgie of rassisme of minagting.

Die basis daarvan lê in 'n volksbewussyn, ’n sentiment van ’n geslag – daai geslag gebore tussen die Verwoerd- en Mandela-era's – ’n versamelnaam waarskynlik dan “Die Gefoktes”.

Hoekom ons nou kasty vir iets wat dierbaar vir ons was, maar waarvoor ons nie eintlik verantwoordelik gehou kan word nie?  Daar is ’n hartsnaar iewers wat geroer is. En dit maak my nogal negatief.

Vandat ek die vlagstorie gehoor het, is ek heel omgeëllie. Heeldag al borrel allerhande ou dinge uit die vergange voue van my brein – onder andere die Vlaglied en die ou Vrystaatse Volkslied: “Heft, Burgers,’t lied der vrijheid aan en zingt ons eigen volksbestaan...”

En ek dog ek is verby dit alles.

Dannyboy

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top