Die vindingryke Max du Preez

  • 4

Die rammetjie-uitnek-, voor-op-die-wa- en bedorwe-brokkie-gedrag van die studente gedurende die protesoptogte is so duidelik een van die manifestasies van die mislukkende staat (dalk alreeds mislukte) dat dit ’n verleentheid móét wees vir diegene wat so ywerig meegewerk het tot die daarstel van hierdie bedeling.

Maar nie vir Max nie. Hy kom met ’n briljante plan vorendag; hy vra “waar was die Afrikanerstudente?” Is dit nou nie slim nie; met een hou is die barbaarse optrede goedgepraat – een van sy groep, dalk nog hyself, het dit selfs ‘n ‘triomf vir demokrasie’ genoem – en is die Afrikaner ook sommer weer uitgetrap.
Wel Max, om jou vraag, al is hy retories, te antwoord: Die Afrikanerstudente het studeer, of probeer studeer te midde van die chaos. Buitendien, al is hulle ontevrede met die verhoging in klasgeld, is dit nie in hulle aard om dansend brand te stig en te plunder om hulle misnoë te wys nie.

Interessant, hierdie vergoeiliking van barbaarse vergrype is ’n nuwe taktiek. Die gewone, tot nou, was die verguising van die ou bedeling (lees Afrikanerregering). Hoe erger dinge nou gaan, hoe erger en onmensliker was sogenaamde apartheid (soos die pa of die oupa wat, hoe ouer hy word, hoe groter was die afstand wat hy skool toe moes stap en hoe ongunstiger was die toestande waaronder hy moes stap).

Nog 'n verskonende tegniek is slae uitdeel aan Zuma; alles was Mooi en Goed en Edel maar toe kom Zuma en maak alles ongedaan. Zuma is natuurlik nie onskuldig aan die uitrol van hierdie sirkusscenario nie, hy is net so skuldig soos Mandela en Mbeki maar hy’s nou die sondebok; die ander is skotvry om ouens soos Max du Preez-hulle se aandeel in hierdie bedeling te regverdig.

Die plunderende studente is verbaas en baie teleurgesteld. Nooit het hulle gedink hierdie optrede gaan so vinnig werk nie en nou is hulle soos die hond wat die kar gejaag het; daar’t die kar nou gestop en hulle pret is bederf. Wat nou gemaak? Wel, hulle hou maar aan met plunder en brand; nou eis hulle gratis onderrig en dat die werk op kampus nie uitgekontrakteer moet word nie en sou dit toegestaan word sal hulle eis dat die pale blou geverf moet word of iets, ENIGIETS, tot die eksamen verby is en dan begin hulle maar weer volgende Oktober.

Terloops, almal wat nou so simpatie met die arme studente het en hulle paai en pamperlang en hulle onverantwoordelike optrede goedpraat; uit nie een van hulle se mond het ek die voorstel van buitemuurse of na-uurse studie gehoor nie. As jy of jou ouers nie geld het vir jou tersiêre studies nie, en jy het nie op skool genoeg presteer om ’n beurs te bekom nie, kan jy gaan werk en self betaal. Duisende het al so studeer.
Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Jan mooi gestel. Jy het nie vergeet dat almal vrye onderrig ens belowe is nie. Waar is dit dan nou? Ons sien nog net die ore van die seekoei. Ek blameer ons voorsate wat aandadig is vir die huidige gemors. Hulle het met die kak begin. Alles was vir hulle in elk geval betaal. Was gister by 'n geleentheid waar die swartes sê hulle moet ophou om apartheid te blameer vir alles. Hulle is gatvol vir die huidige regime. Hulle sê ook hulle het "beter" gelewe onder die vorige bedeling.

  • Beste Jan,
    Mooi gestel, en moenie dink die ou spulle sal met Engels tevrede wees nie. Spoedig sal van alle studente gedwing word om Xhosa by hulle kursusse in te voeg. Hier by ons in Durban word die studente gedwing om Zulu te leer, met die oog op 'n Zulu-universiteit. University of Natal het nou al Inyuvesi YAKWAZULU-NATALI geword.

    Groete,
    Angus

  • Daar was nie geld toe ek klaar gemaak het met matriek nie. Ek moes gaan werk, my diensplig doen, en op die hogere ouderdom van 25 het my werkgewer begin om beurse toe te staan vir verdere studies, en na suksesvolle afstudering moes jy die studieskuld terugbetaal of die tyd terugwerk. Na 4 jaar se aandklasse het ek my graad behaal en het die tyd teruggewerk. Geen gratis studies nie.

    • Bravo Pieter!
      Is dit tog nie eienaardig dat niemand hierdie roete vir die kontantvloeiprobleemstudente genoem het nie? Daar is derduidende gegradueerdes vandag wat op daardie manier studeer het; die studente wat deur hule ouers gefinansier was maak 'n klein persentasie uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top