Die vierkant van die wraak open 'n hele nuwe kultuur van misdaadfiksie

  • 0

Vierkant van die wraak
Pieter Aspe
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799347340
Prys: R150.00

Klik hier en koop Vierkant van die wraak nou van Kalahari.net!

 

Pieter Aspe is al ’n handelsnaam in Vlaandere en Nederland. Met 27 boeke agter sy naam, verskeie vertalings en verkoopsyfers van meer as 1,5 miljoen het hy dáár geen bekendstelling nodig nie. Maar in Suid-Afrika is Aspe onbekend. Vierkant van die wraak is sy eerste boek in die Van In-reeks (benewens vyf wat buite die reeks val, fokus al sy ander boeke op kommissaris Pieter van In en die mooie Hannelore Martens, verteenwoordiger van die vervolgingsgesag) en is deur Daniël Hugo vertaal. Te midde van ’n bloeitydperk in Suid-Afrikaanse misdaadfiksie met skrywers soos Deon Meyer, Karin Brynard, Chris Karstens, Francois Bloemhof en Piet Steyn wonder ek: het ons só ’n vertaling nodig?

Vierkant van die wraak speel af in die hart van Brugge. Kommissaris Pieter van In kry opdrag om ’n inbraak te ondersoek by die ryk en invloedryke Degroof-familie se juwelierswinkel. Niks is gesteel nie. Die diewe het slegs al die juweliersware in ’n bak koningswater (suur) opgelos. ’n Nota op die toneel dra ’n raaiselagtige Latynse spreuk en die kenteken van die vierkant van die Tempelridders wat uit die Middeleeue dateer. Van In vermoed dadelik dat hy eerder hier met ’n wraakaksie te doen het. En wraak “is ’n baie persoonlike saak. Meestal is vergelding ’n motief wat by passiemisdade voorkom eerder as by diefstal (54)”, weet Van In. Maar die Degroof-despoot, Ludovic, sorg dat die saak vinnig onder die mat ingevee word. Hy wil onder geen omstandighede mediablootstelling of slegte reklame vir sy seun Ghislain se winkel hê nie. Dít verander baie vinnig wanneer Ludovic se kleinseun (sy dogter se kind) ontvoer word. Die ontvoerders se eis is só bisar dat Ludovic moet toegee, hoe teësinnig ook al, dat Van In moontlik reg is. Te midde van ’n media-raserny begin Van In met die hulp van Hannelore stadig die saak ontrafel. Hulle albei vermoed dat Ludovic meer weet van die rede agter die inbraak en die ontvoering as wat hy voorgee. Wanneer hulle in sy verlede begin soek, krap hulle spoedig geheime oop wat die Degroof-familie, veral Ludovic, met alles in sy vermoë sal probeer beskerm. En dit is genoeg om saam met Van In te sê: “Heilige harder!”

Van In se gunsteling-sêding het hy by Kuifie se kaptein Sardyn geleer. En ek moet erken: voordat ek dié brokkie inligting gelees het, het die dialoog my aan Kuifie laat dink. Want dit klink vreemd op die oor, byna formeel. Die karakters is ánders as ons eie mense. Hulle neem langer as die Suid-Afrikaanse eweknie om die skanse vir ’n leser te laat sak. Hulle hou hulle afstand, is minder familiêr met mekaar. Dit neem jou langer om ’n gevoel te kry vir Van In, ’n kettingroker met ’n voorliefde vir Duvels, en die mooi, ambisieuse Hannelore wat polities slim en slinks is.

Omdat die boek ’n vertaling is, is die leser geneig om uit die oog te verloor dat ’n mens hier ook te make het met ’n internasionale skrywer vir wie daar ander reëls geld. Ons het immers toegang tot byvoorbeeld Britse en Amerikaanse misdaadfiksie, waar ons blootgestel word aan ’n totaal ander kultuur, ’n ander manier van praat en ander stede. Maar dit pla lesers nie, want die taal (Engels) bring reeds afstand. Boonop het ons al so gewoond geraak aan die Britse en Amerikaanse misdaadtoneel as “normaal” (ook te danke aan die blootstelling van televisie en flieks) dat ons die Suid-Afrikaanse misdaadskrywers se werk met hierdie twee groot tradisies vergelyk. Met Hugo se vertaling van Die vierkant van die wraak het lesers die voorreg om nou die misdaadtradisie van die Lae Lande te betree – met die groot luukse dat dit in Afrikaans is. Die vierkant van die wraak is beslis nie so grusaam en bloederig soos die Amerikaanse verhale nie. En wat die Britse tradisie betref, vind ek nie heeltemal dieselfde terughoudendheid nie. Aspe se styl neem ’n tydjie om aan gewoond te raak. Die gedurige spronge in perspektief (jy kry selfs die perspektiewe van newekarakters) was aanvanklik hinderlik en het my gedwing om ’n paar keer terug te blaai. Maar daar is regdeur die verhaal ’n speelsheid onder die formaliteit. Die vertaling hou dit eg Vlaams en poog nie om dit te verafrikaniseer nie. En dit werk.

Hierin lê Die vierkant van die wraak se aantrekkingskrag vir my: dit open ’n hele nuwe kultuur van misdaadfiksie. Die boek trek jou in ’n wêreld in wat nuut en anders is. Met Google Maps en Google Earth kan jy byvoorbeeld elke karakter se loop naloop en sien hoe die plekke lyk wat beskryf word! En dan word dit lekker om ’n ander manier van doen te sien, ’n ander manier van praat te hoor. Want jy hou sommer van voor af van jóú mense se manier van doen en praat. En dit laat jou weer eens besef: ons Suid-Afrikaanse skrywers mág maar met van die bestes ter wêreld vergelyk word.

Aspe het sy plek tussen ons Afrikaanse misdaadskrywers. Hy mag dalk “volksvreemd” wees, maar gee Van In ’n kans: teen die einde van die verhaal kan jy nie wag vir die volgende boek om te sien wat met dié groot man met sy liefde vir mooi meubels en die jaagduiwel Hannelore gebeur nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top