Wie het die engel in koper gegiet
en wie het haar vlerke soos wolke laat vlies?
Die man op sy perd,
oor wie hou hy waak
in die oggend en aand
en wie het die vrou, met vuur
in haar hand, soos Jesus gekroon
sy staan versteen en verbleik
soos ’n ou stadsgebou.
Versteendes word vertrap;
deur deurdringende oë
en skaduwees van geboue en weer,
al die aandkoerantverkopers
en die ongeduld van die wêreld,
dit ken die engel op die punte van haar koperdonse
en haar oë jaag die wind.
Wie het die engel in koper gebind
soos ’n ma sonder kind,
in ’n stad vol vreemde mense
en ’n kerk sonder toring
en klokke wat nooit lui,
want die engel staan te stil;
sy kan dit nie hoor nie,
in ’n stad vol vreemde mense,
staan sy gesprei met haar arms,
soos ’n engel oor my.

