Die versteendes

  • 0

Wie het die engel in koper gegiet

en wie het haar vlerke soos wolke laat vlies?

 

Die man op sy perd,

oor wie hou hy waak

in die oggend en aand

en wie het die vrou, met vuur

in haar hand, soos Jesus gekroon

sy staan versteen en verbleik

soos ’n ou stadsgebou.

 

Versteendes word vertrap;

deur deurdringende oë

en skaduwees van geboue en weer,

al die aandkoerantverkopers

en die ongeduld van die wêreld,

dit ken die engel op die punte van haar koperdonse

en haar oë jaag die wind.

 

Wie het die engel in koper gebind

soos ’n ma sonder kind,

in ’n stad vol vreemde mense

en ’n kerk sonder toring

en klokke wat nooit lui,

want die engel staan te stil;

sy kan dit nie hoor nie,

in ’n stad vol vreemde mense,

staan sy gesprei met haar arms,

soos ’n engel oor my.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top