Die verste plek

  • 2

Foto: www.kalaharidesert.net

 

Wat haar man nou eintlik gedoen het om so ‘n straf te verdien, wou hy nooit vir haar sê nie. Net dat die distrikskommandant die sersant geroep en opdrag gegee het: “Wat is die verste plek wat jy het? Vat hierdie donnerse man en stuur hom soontoe!” Die verste plek was toe Witdraai in die Kalahariwoestyn. Sy wonder nou nog of selfs die sersant of die DK regtig geweet het waar of hoe ver dit regtig is.

Witdraai, Kalahariwoestyn? Nie een van hulle vriende of familie het geweet waar dit is nie. Die Kalahari lê anderkant Vryburg en anderkant Kuruman, het party probeer, maar niemand het nog ooit van Witdraai gehoor nie. Een ou sersant het gesê hy verbeel hom dis omtrent tweehonderd myl anderkant Upington aan die grens van Betsjoeanaland en daar gaan “net mooi fokol aan”. Hy was toe verkeerd.

Haar gedagtes het teruggegaan na die prentjies in haar kinderbybel van die profeet Elia wat in ‘n vaal verlatenheid van sprinkane lewe. Dit was seker ‘n plek waar jy nog verder kon sien as die plat Vrystaatse vlaktes van haar kinderdae, waar daar gespot is dat jy tot in volgende week kan sien. Sy het gehoop dis darem nie te warm nie en dat daar darem genoeg water is om te drink.

‘n Mens moet seker elke oggend die sand wat in die nag ingewaai het met ‘n graaf voor die deur gaan wegskraap soos die prentjies van sneeu skoffel in Amerika wat sy in ‘n tydskrif gesien het, maar die sand sal darem nie so koud soos die sneeu wees nie, wat darem sal help! Wat gaan ‘n mens nogal die hele dag op so 'n plek met jouself maak?

Gelukkig het sy ‘n hele klomp boeke en tydskrifte ingepak totdat haar man begin kla het oor die grootte van die pakkaas en sy moes begin terugsny, veral toe hy nog die hoop skoonheidsmiddels en ander vrouedinge sien waarsonder sy glad nie sou kon klaarkom nie. Slaap, lees, kosmaak en klere was. O, my Here, sy hoop nie die sand maak weer die klere vuil en sy moet dit van voor af was nie! Miskien selfs ‘n paar keer ná mekaar op dieselfde dag. Dit sal haar nou regtig besig hou en klere was is nou juis nie een van haar gunsteling-tydverdrywe nie. Sy sal dit darem seker oorleef.

Toe hulle om en by agtuur daardie oggend van die losieshuis naby die rivier uit Upington vertrek het, was dit al warm, maar nog nie ondraaglik nie. Die eerste 30 kilometer van die pad, nadat sy opgehou wonder het of dit en of dat darem ingepak is, kon sy haar verkyk aan die blouselblou lug, die wit watte wolke, die amper vlammende rooi sand en die verskillende skakerings groen en vaal van bome en bossies; elkeen met sy eie patroon en vorm, party rond en klein, party plat en ander soos ‘n lang tregter met ‘n plat bokant.

Die effense duineruggie op die pad, so nou en dan, het ‘n mens rustig gewieg en sy het haarself net begin geniet toe hulle die eerste groterige dwarsduine begin tref. Toe sy in die Vrystaat klein was het sy en haar susters nogal gelag en van plesier gegil as pa ‘n “boemsie” tref. Die eerste paar “boemsies” oor die duine was nogal pret ook. Hier by die vierde een het sy haar maag begin vashou om enigsins gemakliker te probeer voel. Sy het gedink sy het lankal van haar miskraam herstel, maar nou is sy nie meer so seker nie. Sê nou maar iets het fout gegaan?

Die res van die “boemsies” was ‘n uitgerekte pyniging en haar sinne het haar by tye verlaat en sy kon maar het skaars bewusteloos probeer bybly. Sewe-en-dertig dwarsduine het sy op ‘n latere rit getel, maar as hulle haar daardie dag vertel het dat daar 200 of 500 was, sou sy dit kon geglo het.

Dit het boonop ook al hoe warmer begin raak. As jy die ruite afdraai vir lug kom die stof in. Die kar het al hoe meer stof begin opskop en die dwarswindjie wat tot nou toe die stof weggewaai het, het gaan lê. Waar sy eers net die kalkreuk van die stof in haar neus kon ruik, proe sy nou die stof se wrang bitter smaak teen haar verhemelte en in haar keel af.

Sy het van kleintyd af maklik karsiek geraak, maar nou kan sy sweer ‘n hele familie slapende erdmanne (meerkaaie) het nes gemaak in haar binneste. Hulle kan glad nie hulle lê kry nie en hou aan wriemel. Die truuk wat sy by die Weskus se vissers geleer het om na iets ver weg te kyk, wil ook nie hier so lekker werk nie. Jy sien aanhoudend ‘n opdraande reg voor jou, maar as jy op die top van die duin voor jou kom, is jy op ‘n plat vlakte van duinrugge en sien jy vir ‘n oomblik deur die oneindige golwe van die sandsee.

Dan raak dit weg en sien jy voor jou elke keer nog ‘n hoogte, oor en oor en oor. Die enigste plek waar jy miskien verder kan sien, is partykeer na die kante toe in die duinstraat af, maar dan ook net totdat jy die volgende duinrug tref.

Net toe sy begin dink sy is vir ewig vasgevang in hierdie vagevuur van stof en sand en stekende skerp son, karsiek, naar met ‘n bitter kalksmaak in die mond wat sy nie weggesluk kry nie, is daar ‘n T-aansluiting met ‘n bord “Askham” na regs. Kan daar regtig ‘n plek wees met so ‘n aardige naam? Maar wonderwerke hou nooit op nie en bo-op die kalkrantjie is daar toe regtig ‘n dorpie met die naam Askham. ‘n Dorpie met ‘n koöperasie, garage, winkel, kerk, koshuis, kliniek en ‘n paar kleinerige huisies waar die boere bly as hulle kerk toe kom en hulle kinders by die koshuis kom haal, of waar die gesin kan kuier as dit basaarnaweek is of as die kinders nie ‘n uit-naweek het nie.

Ná ‘n redelik koue koeldrank en ‘n pakkie Marie-beskuitjies voel sy weer soos ‘n mens. Sy het brood ook gevra want sy moes dink aan wat hulle vanaand gaan eet as hulle op die vreemde plek aankom, want sy hoor weer die sersant se smalende “daar gaan fokol aan” in haar gedagtes. Die man agter die toonbank het net gelag. “Mevroutjie, as jy hier ‘n vars brood wil hê, dan bak jy hom self!”

Noudat die kar vol petrol en die seilsak aan die kar se kantspieëltjie weer vol vars water is, word die trek na Witdraai voortgesit. In hierdie wêreld maak ‘n mens maar vol met petrol as jy die kans kry, want al is die volgende plek net 20 km ver is hulle petrol dalk op. Jy vat ook altyd genoeg water saam vir ‘n paar dae. ‘n Brekasie op ‘n afgeleë pad kan in ‘n nagmerrie verander as jy sonder water sit. Dan sit jy met ‘n stukkende kar en ‘n dors wat al hoe erger word. Sy het darem gehoor dis nie meer ver nie.

Nou verander die aard van die pad heeltemal. ‘n Mens ry in die droë vaalwit bedding van die Moloporivier waar die sand net effens krys. Plek-plek is daar dik sand, maar gelukkig is dit van nature goed gegruis en word dit redelik gereeld geskraap. Die wiele maak whoesj! eerder as om te stamp.‘n Mens ry nou tussen die duine deur wat as ‘n enkele lang bank weerskante van die rivier lê. Plek-plek word die duine teruggehou deur ‘n wit kalkbank van vier tot vyf meter hoog, wat wys hoe hoog die water eeue gelede geklots het. Plek-plek, soos in die draai by Witdraai, het daardie vergete waters gate van hondehok- of badkamer- of slaapkamergrootte gate of grotte uit die kalk gevreet. Vandag sal dit ‘n gerieflike blyplek wees, maar ‘n mens sou maar altyd bedag moet wees op die vier of vyf keer in ‘n eeu wat die rivier dalk afkom, want dan is jou beddegoed nat en jou badkamer sommer ook gratis skoongemaak.

Uiteindelik stop die kar in die yl skadu onder ‘n massiewe kameeldoringboom voor die polisiekantoor. Daar hang ‘n droë, benerige ding in die boom en ek vind later uit dat dit die poot van ‘n leeu is wat al so lank daar hang dat niemand meer kan onthou hoekom nie. My man meld hom by die aanklagtekantoor aan en ek begin rondkyk. Daar is ‘n netjiese grasperk voor die polisiekantoor. Kan jy dit glo! ‘n Grasperk in die Kalahariwoestyn?

‘n Vrou met ‘n skinkbord met koffie en toebroodjies kom om die hoek, “Hallo, jy is seker die nuwe sersant se vrou? Kry jou man, dan gaan wys ek jou julle nuwe blyplek.” Ek roep my man en en hy en Sarie se man, wat in die tussentyd op Witdraai waargeneem het, kom aangestap. Dit was sy vrou wat my met die skinkbord begroet het.

Ons stap voor om die huis en ek kan skaars my eie oë glo. Behalwe ‘n mooi groen grasperk, is daar ‘n vrolike tuintjie met kappertjies en gesiggies, ‘n paar yl varings en ‘n kraan wat drup. As ek reg gekyk het, het die plek klaar my hart gesteel. Net hier in my eie tuintjie gaan ek elke dag om tienuur sit om my tee te geniet!

Dit is Sarie met die skinkbord geurige koffie en toebroodjies wat nou die sifdeur met haar elmboog oopdruk. Ons gaan in, sit in my nuwe voorhuis op geleende stoele en drink wonderbaarlike lekker koffie met romerige bokmelk. Die varsgebakte brood en plaasbotter maak ‘n paar hol kolletjies toe wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Die huis is blink skoongemaak en omdat hulle weet ons meubels het nog nie gekom nie, het hulle sommer sonder vra die nodigste wat hulle kon afknyp vir ons ingedra. ‘n Paar stoele, ‘n regop tafeltjie, ‘n riempiesbank. In die kamer is ‘n katel met blinkskoon lakens en ‘n geel knoppiesdeken en gerieflike donskussings, ‘n stoel en ‘n klein tafeltjie. In die kombuis is die koolstoof vol hout gedra en brand ‘n gesellige vuur om vanaand en môreoggend se badwater warm te kry.

In die hoek op sy eie tafeltjie staan 'n emalje-emmer vol drinkwater met ‘n doek oor en ‘n blikbeker. Sy skep en proe, dis die lekkerste soet vars water, en nou weet ek ook hoekom die blomtuin so goed lyk. Daar is ook ‘n Coleman-lamp, twee parafienlampe, drie kerse wat sorgvuldig in hulle blakers vasgesit is en ‘n flits. “Dis vir die trip na die buitetoilet,” beduie Sarie my toe hulle begin loop.

“Pas maar op vir die skerpioene, want hier is nogal baie.” Sy nooi ons om die aand so teen skemer te kom eet. Hier vra jy nie of iemand wil saameet nie. Dis vanselfsprekend, want daar is nie ‘n kafee of ‘n Wimpy waar hulle gou kan gaan kos koop nie. Jy vra ook nie of hulle dié of daai verkies nie, behalwe as jy dit het om te gee. Die gaste probeer ook nie eers teenstribbel nie, want waar sal hulle dan nou ook geholpe raak?

Toe hulle met die koffiegoed vort is, gaan kyk ek weer na my tuintjie. Ek het reg gesien. Te fraai! ‘n Blomtuin in die woestyn! Ek sou nog baie leer van blomme plant en tuinmaak in die Kalahari. Ook van vleis verwerk, kos optower uit niks, hoe om slaapplek en beddegoed te organiseer vir onverwagte gaste en so meer.

In die begin het dit maar partykeer rof gegaan. Maar ek was al daardie eerste aand toe die rustigheid in my kom lê tuis, al was dit nie eers my eie matras nie. Ek was eensklaps in my lyf en in my kop gewoond aan die plek asof ek maar altyd daar gebly het. In die nanag se koue het ek dieper agter my man se rug ingekruip en behaaglik die geleende karos stywer om my getrek teen die diepnag se skerp koue. Die jakkals se gehuil in die verte het ek mos darem uit die Vrystaat van my kindejare geken.

Dis eers toe ek ná ses jaar hoor my man is na Johannesburg verplaas dat ek besef het watter guns die kommandant ons regtig gedoen het, al was sy bedoeling dalk anders. As ek dalk gehuil het omdat ek destyds hierheen verplaas is, het ek nou nog erger gehuil omdat ek weer hier moes weg. Die goeie herinneringe en die gereelde kuiertjies van die Kalaharimense het darem gehelp om die verlange amper draaglik te maak.


As die beskrywing van die duinepad en karsiek jou al klaar siek laat voel, sal jy bly wees om te hoor dit was vyf-en-sestig jaar gelede. Daar is nou ‘n teerpad verby Askham tot in die Gemsbokpark en vars brood is daagliks te kry op Askham en Andriesvale. Daar is ‘n hele klomp uitstekende gastehuise en kampeergeriewe. As jy meer avontuurlustig is en die Kalahari van die ou dae wil ervaar, is daar die duinepad verby Upington se lughawe of die Noenieput-pad wat die meeste duine misry. Maak seker iemand weet van jou bewegings, want daar is buite die jagseisoen maar min verkeer op hierdie paaie.

 

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top